~ Daar is somer in jou winter ~
Soms verval ek in wanhoopsure as ek
deur ongure weer moet beur
om by jou uit te kom.
Steeds doen ek dit.
As ek by jou is
kan ek kruisbeen teen jou bors opkrul,
my verwarm teen somer wat permanent
in jou nek en hande gesetel is,
waarmee jy blomme in my lyf laat bot
en sonlig in my bloedstroom deponeer.
Moet ek keer
om nie te verswelg in die oormaat
van een seisoen nie,
nie vergeet wie ek is
en wat ek hier by jou doen nie.
Swartryp verslaan uit my lyf.
Ek ontdooi soos ‘n misvormde winter
teen jou hartklop,
dommel weg in die geluid van sonbesies
wat in jou stem baljaar.
Elke jaar fnuik ek die bibbertyd
deur jou hitte teen die nate
van my jaskraag vas te stryk.
Jou intensies skerm my van agter
terwyl jy die wintergewasse in my oë vervang
met madeliefiefonkels.
Steeds verval ek soms in wanhoopsure
as ek deur ongure weer moet beur
om by jou uit te kom.
Steeds doen ek dit.
© Almarie Truter
2 Kommentare
-
Koekekranka
Maar soos altyd: Puik!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Winter nostalgie projek