
‘n sekere soort droogte
In hierdie waterlose oorde
wurg ek nog aan jou woorde
en vind geen lafenis daarin.
Net die vuur van haat en nyd.
Net die barheid van ‘n dorre aarde.
Net krake in die klei.
Net bome sonder blare
wat nou in loof moes wees.
Ek wou jou lees
jou gees verken
jou oë laat sien
jou hart nuut en vry kom maak
jou siel aanraak
jou laat verstaan –
hierdie son
hierdie maan
skyn oor my en jou
en ook oor elke mens
oor dié wat vonkelwyn in glase skink
en elk wat dorstig water drink
uit ‘n fontein
of ‘n ravyn
of uit ‘n vuil rivier.
(ek was al dikwels bang
soms kruip ek weg
soms is ek stil . . .)
Maar ek wil blomme plant
en droogtes breek
my hande uit my moue steek
en water lei
in al jou droë woestyne
vir jou ‘n reënwolk uit die hemel vang
en groen smaragde aan jou bome hang.
C. Shaw
16 September 2015
4 Kommentare
-
Kiekies
Ai jinne dis nou weer een van daai Viooltjie gedigte wat my soos 'n vis op droe grond my mond oop-toe....., oop-toe......, oop-toe......, na woorde gryp, maar niks is volledig genoeg om presies te se wat ek voel en dink nie!!
-
Ronel Janse van Vuuren
Mooi gepen - ek sien al die skade wat droogte kan doen.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Altyd lekker om hierdie ou juweeltjies weer te lees