Hoё hakskoene
Sy het vandag haar hoё hakskoene aan, sy het baie, baie lanklaas hoё hakskoene aan gehad. Vir baie, baie lank dra sy net plat skoene, plat skoene wat haar plat op die aarde hou en veilige en gesond is vir haar rug . . . Plat skoene omdat haar gees en siel nie nodig het om opgelig te word nie, want hulle vlieg elke dag hoog soos ‘n arend, sorgloos en vry.
Vanoggend voel sy of haar gees, vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd, oplig nodig het. Sy voel daardie tikkie hoogte sal help dat sy nie op haar hartseer trap nie en verstrengel raak daarin nie. Dit sal haar daardie addisionele saaklikheid in haar stap gee, daardie “ek-is-seker-waarheen-ek-pad-is-stap”.
Haar sjokolade-likeur hart het gister oopgebreek en die karamel het uitgeloop en haar leeg met net haar sjokolade-hart-dop gelos.
Die oorsaak van dese hartseer en leeg getapte hart – haar medemens se seer, haar magteloosheid en onvermoë om ‘n ander se seer te dra, beter te maak, weg te vee asof dit nooit, nooit bestaan het nie. Die leuns van leё-dop-medemense. Die onbetroubaarheid, die algehele ongevoeligheid, nie te kan weg vee.
Sy as toeskouer van ‘n mens so in haar hart geweef se frustrasies, teleurstelling en smart. Haar likeur-sjokolade-hart was nie bestand teen die trane van ‘n man. Sy sien dit trane rol, sy hoor die haat en wraak uitbreek oor sy lippe, diep uit sy hart.
Te lank het dit sy diepste wese oorspoel, verdrink, verteer. Die vulkaan moes breek, hy kon net nie meer!
Soos ‘n vuurspuwende berg het hy gewoed, die wraak en haat uitgespu soos bloed, ontlading aan sy beswaarde, gekweste gemoed.
Wraak, wraak het sy hart geroep oor beloftes onuitgevoer, vir maande het dit bly vreet aan hom, met net nog meer beloftes nie nagekom.
Die samelewing het hom gefaal, so erg so dat gedagtes aan moord en selfmoord sy sinne oorgeneem het.
Hul moet nie leef om weer, keer op keer, aan ander dieselfde te kan doen. Om ander se lewenslus ook so te steel dat hul soos hy geen ander uitweg sien as moord en selfmoord nie.
Geen woorde kon sy rou geskaafde hart en rede vertroos nie, hy wil nie meer lewe nie!
Daarenteen, daar waar die mense ons almal faal, sal ons Vader sy hand uitsteek en ons uit ons donkerste, donkerste dieptes haal.
Met haar hart in haar hand het sy na haar Vader gegaan, gevra vir wysheid, vertroosting en krag. ‘n Woord, ‘n daad of enigiets wat sy hierdie mens mee kon troos. Hierdie mens weer hoop mee kan gee.
Getrou het Hy die weg gewys, die trane gedroog, die kwaad laat uitloop soos uit ‘n seer, om net die skoon hart weer agter te laat.
Geleentheid vir ‘n nuwe kans, om weer te leef, weet te glo, en weer te vertrou.
Tog het sy dankbaarheid in haar hart – nou is sy hart nog teer, maar met tyd sal dit weer heel, weer sterk word, weer glo.
Met haar hoё hakskoene loop sy hoog vir nou, want môre is ‘n nuwe dag. Die spore van haar seer, weggevee deur haar Vader wat genade gee. Kan sy weer stap met haar plat skoene, plat op die aarde, geanker in Sy vrede. Sal haar likeur-sjokolade-karamel-hart weer vol wees om te deel.
©Marsofine Krynauw
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.