In Hierdie Oomblik
(Woordtelling 713)
In plaas daarvan dat ek my ou gewoontes uithaal en my tot in ʼn ander bloedgroep in vererg, besluit ek een oggend dat dit nou tyd is om bietjie vonkelnuut oor hierdie hele kraglose affêre te dink. Eskom en sy berugte skedules maak te dikwels my wiele pap. Sug. Dit wissel ook nou so vinnig tussen die verskillende vlakke dat gʼn mens meer kan byhou nie.
My kop speel rondomtalie wanneer dit vanoggend nog op vlak 2 was, en teen vanaand sit ons in die donker wanneer vlak 6 onverwags sy opwagting gemaak het. Maar nou ja, al is die tye sonder elektrisiteit maar bra irriterend, is ek terselfdertyd dankbaar dat hulle my noodgedwonge voor die rekenaar laat padgee en vir ’n wyle elders aandag gee. So het ek al ʼn goeie duik in my “Moet-Nog-Lees”-stapel boeke gemaak – daardie boks onder die bed waarvan Hubby nie weet nie. En ek het selfs al geleer hoe om ’n bietjie helder verf op ’n wit doek te spat. Nie asof daardie kunsie altyd suksesvol is nie, maar wat, as jy moet stilsit, kan jy netsowel in ’n ander vertrek, en op ʼn ander manier, produktief wees. Soms beland ʼn paar spatsels van daardie helder verf teen die muur en kaste, maar dit word vinnig afgevee voordat die verkeerde oë dit raaksien!
Gewoonlik gee Eskom ʼn 55-minuut waarskuwing dat jou nou maar daardie laaste dokument moet stoor, anders gaan jy dit more weer moet oordoen. Dit gebeur egter hopeloos te veel dat ek nie daardie waarskuwing hoor nie, en tjoeps, daar het die rekenaar ʼn vinnige dood gesterf en alles waaraan ek gewerk het is heel waarskynlik tot niet. En natuurlik was daar ʼn hele aantal internet ‘tabs’ oop. Ek was immers nog besig met navorsing en nou is alles weg. My idees is ook sommer weg. Heeltemal van noot af sing ek ʼn paar lelike vloekwoorde en vanuit die vertrek langsaan rasper Hubby se stem soos hy my alweer oor die kole haal oor my vieslike taalgebruik. Nou nie asof dit ʼn blywende indruk maak nie, want more of oormore gaan dieselfde ding miskien weer gebeur. Die vloekery natuurlik, want die beurtkrag is natuurlik ʼn gegewe.
Dit raak net ʼn lollery wanneer ek ʼn vergadering saam met die spul Amerikaners moet bywoon, en hulle my aanstaar asof ek praat van houtstellasies op die maan oprig sodat die wortels se blare iets sal hê om teen op te rank. Hierdie “dis nou jou beurt om elektrisiteit te gebruik”, verstaan hulle glad nie, en is maar te dankbaar indien ek wel vir die vergadering opdaag. Geïrriteerd kyk ek na die jammerlike trek van simpatie op hul gesigte. In hul gedagtes woon ons natuurlik almal in modderhutte, dra geskeurde lendedoeke, speel met ʼn stok en rollende motorbande, en leeus loop in die strate rond. Wel, deesdae lyk dit my daar stap tiere in ons strate rond, maar ons praat nie uit nie. Ons is net dankbaar vir die toegif van nou-en-dan-is-dit-jou-beurt.
Ek slaan my oë dakwaarts en besluit dat dit tyd is om ʼn ander houding in te neem, al maak ek daardie besluit seker al om die tweede dag. Sommige van hierdie gedwonge stiltes gaan ek nou gebruik om bietjie stil te raak. Heeltemal doodstil. Ek wil niks en niemand se stories of kommentaar hoor nie. Ek wil ʼn kennisgewing teen my studeerkamer se deur plak wat geen ruimte sal laat oor wat daar toegelaat word nie. ʼn Kort en kragtige “Shut-Up” behoort die ding te doen, alhoewel ek nooit heeltemal seker is dat Hubby wel kan lees nie. Wanneer ek betrap word dat ek ʼn handvol minute met toe oë in stilte sit, word dit gewoonlik begroet met, “dis darem lekker!”. Ook maar lekker sarkasties.
Ons werk teen ʼn spoed, ons speel teen ʼn spoed. Ons doen internet aankope teen ʼn spoed en dit is nie altyd suksesvol nie, veral nie as jy met een oog op die horlosie vinnige besluite moet maak nie. So het ek al per ongeluk twee van dieselfde produk bestel en Dogter was maar alte gelukkig om ʼn onverwagse geskenkie te kry.
Elke dag probeer ek om met vars oë na die nuwe dag se uitdagings te kyk. Soms is dit suksesvol en ander dae, wel, more probeer ons maar weer.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2023 projek NUUT