Die Vryheid van Keuse
(Woordtelling 1080)
“Life is a matter of choices, and every choice you make makes you.” – John C. Maxwell
Elke dag wat jy wakker word is daar ’n geleentheid om die lewe met kraaknuwe oë raak te sien. Elke. Liewe. Dag. Niemand kan verwag om ’n ander uitkoms te kry as hy net met sy ou denkwyses, dag in en dag uit, voortploeter nie. Dit is ook nie iets wat net vir die paar bevoorregtes beskore is nie, maar binne bereik van byna almal.
Soms lyk dit egter of die rykes net met soveel meer keuses as die armes gekonfronteer word. Die besluit waar om te eet, wat om te eet, wat om aan te trek vir die geleentheid, watter rolprent om te gaan kyk, watter produk om te koop, is maar ’n klein voorbeeld van die keuses wat vir die meeste armes dalk nooit heeltemal realiseer nie. Party se lewens blyk net meer ingewikkeld te wees as ander. Dalk is ons self die oorsaak daarvan, veral as mens nie kan besluit wat jy wil hê nie, en uiteindelik jou gedagtes tien maal verander nie.
Daar word gereken dat ons daagliks sowat 122 besluite maak, en ongeveer 35,000 gedagtes het. Hoe besiger die persoon se kop, hoe moeiliker word dit om vinnig en goeie, besluite te neem. Dit gaan dus dikwels doller in jou brein as die geskarrel van ’n koplose hoender. Om daardie hoendertjie te vang en weer op hok te kry is wel moontlik, al sal sommige stry dat dit nie op hulle van toepassing is nie. Maar nou ja, as mens iets nie wil doen nie, sal jy ’n verskoning kry en as jy iets graag wil hê, sal jy ’n geleentheid vind.
Om gewoontes te verander beteken dan natuurlik ook dat mens met vars oë na jou lewe moet kyk. Dan moet ander faktore soos motivering en ondersteuning ook in ag geneem word. Dit is baie moeilik om ʼn slegte gewoonte te verander wanneer jou familie jou oor jou besluit kritiseer, aldus Andreas Michaelides, die Hoof van Sielkunde by Noom.
Besluite raak nie net jou gewig of fisiese gesondheid nie, maar help ook om kroniese en nie-kroniese toestande soos diabetes, angs en stres te verander. Wanneer jy beter kennis oor ʼn saak het, maak mens makliker en beter besluite. Uiteindelik beïnvloed dit nie net fisiese gesondheid nie, maar ook jou emosionele toestand en dit bevorder weer ʼn gesonder wêreld vir almal.
Maar hoe maak mens ʼn besluit, en hou daarby?
- Moet dit nie te moeilik maak nie. ʼn Klein verandering elke dag oor ʼn lang tydperk is baie beter as een radikale verandering op een slag.
- Vermy dit om groot besluite te neem wanneer jy moeg is, of onder groot druk verkeer.
- Vertel iemand van so ʼn besluit net wanneer jy seker is dat so ʼn persoon jou sal ondersteun en nie doelbewus ʼn stok in die wiel sal steek nie. Nie almal hou van verandering nie, en wanneer jy besluit om iets in jou lewe te verander, mag jou familie of vriende dalk nie so opgewonde wees nie – heel waarskynlik omdat hierdie verandering ook hul lewens gaan beïnvloed.
- Maak seker dat jou motivering goed is. Die besluit om 50kg te verloor net omdat jy vet lyk, sal vinniger afgewater raak as wanneer jy sou besluit om daardie gewig te verloor omdat jy graag jou kleinkinders wil sien grootword. Die motivering sal bepaal of jy hiermee sal kan volhou, al dan nie.
Om jou lewe te verander, moet mens soms afleer hoe om jouself te wees. Jy het nodig om nuwe denkrigtings in te oefen totdat dit ʼn standhoudende gewoonte geword het. In plaas daarvan om Eskom elke dag te kritiseer, en heeltemal geïrriteerd te raak oor die voortdurende beurtkrag, kan jy hierdie onderbrekings sien as ʼn gereëlde geleentheid om bietjie weg te breek uit jou sieldodende roetine. Eskom laat weet dat jy oor 55 minute weer jou boek of breipenne kan optel, of kans gaan kry om daardie nuwe blommetjies te plant voordat dit verlep. Nuwe brein-paadjies sluit ook die geleentheid in om elke ‘n ander besluit in moeilike omstandigheide te neem, eerder as om elke keer met woede te reageer.
Volgens Noom se navorsing onder 2,000 volwasse Britse inwoners, is die volgende die moeilikste besluite waarmee hulle te doene kry:
- Watter TV program om te kyk.
- Wat om te eet.
- Wat om aan te trek.
- Of hulle iets nuut sal koop (klere of skoene).
- Om te gaan oefen, of nie.
- Hoe laat om te gaan slaap.
- Om nog ʼn koekie te eet, of nie.
- Om iemand te vra om met jou uit te gaan.
- Die week se spyskaart.
- Om die aand uit te gaan of tuis te bly.
- Watter boek om volgende te lees.
- Wat om in die restaurant te bestel.
- Sal jy ʼn wegneem ete bestel of self kook?
- Moet jy ʼn voorgereg of nagereg bestel?
- Waarheen om vir vakansie te gaan.
- Hoe laat om op te staan.
- Sal jy jou wekker se alarm stel, of nie?
- Watter sosiale verpligtinge om na te kom.
- Wat om vir jou verjaardag te doen.
- Sal jy stap, van publieke vervoer gebruik maak, of self ry?
Ai, die moeilike lewe van die bevoorregtes darem! Diegene wat minder materiële besittings het, se veld van keuses is doodeenvoudig net nie so wyd nie en dit is moontlik dat hulle minder stres op hierdie gebied ervaar.
Selfs jou persoonlikheid bepaal hoe jy jou keuses maak.
- Impulsiewe besluite.
- Neem die populêre besluit en die een van minste weerstand.
- Die weiering om ʼn besluit te neem en dit eerder aan iemand anders oor te laat.
- Om besluitneming heeltemal te vermy.
- Om alle faktore in ag te neem en ʼn gebalanseerde besluit te neem.
Oënskynlik lewe die oorgrote meerderheid van ons samelewing in ʼn staat van algehele onbewustheid – en hulle weet nie eens dat hulle soos robotte deur ander se idees en grille gemanipuleer word nie. Min besef ook dat selfs hul gevoelens en selfs gedagtes ander mense beïnvloed, soos die delikate vlerk-bewegings van ʼn brose skoenlapper. Niemand van ons is ʼn eiland nie, en wat die een persoon doen, het ʼn rimpel effek wat wyer strek as wat jy kan droom. Deur bewus te wees van jou keuses en gedrag, kan jy vir elke persoon waarmee jy in aanraking kom, ʼn bron van hoop en inspirasie wees. Dus, jou besluit om elke dag vars en nuut aan te pak, word raakgesien op plekke en tye wanneer jy dit die minste verwag.
Bronne: https://metro.co.uk/2022/08/09/study-reveals-how-many-decisions-we-make-each-day-17150428/
https://www.pbsnc.org/blogs/science/how-many-decisions-do-we-make-in-one-day/
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2023 projek NUUT