In my hart sal pa altyd wees
Ek dink nie die realiteit
daardie laat aand
met vraagteken
op die hartmonitor
het al ingesink nie
so asof ñ toneel uit ñ film
hier voor jou afspeel
jy as buitestaander
wat toekyk hoe jou pappa
sy aardse stryd voer
in sy laaste oomblikke
en jy versteen net daar staan
hoe hy baklei vir asem
net nog ñ oomblik
en vergeefs hoe sy pols verswak
en die vraagteken
op die monitor
lewensgroot staan
leweloos lê sy liggaam
grys geel en die dood
dwaal in die lug rond
en mens weet nie of jy die
asem wat jy alreeds weke terughou
moet uitblaas nie
want die toneel hier voor jou
is dan nie jou lewe nie
dit kan nie wees nie
want hoe kon jy net staan en toekyk
terwyl hy wegkwyn hier voor jou
hoe kon jy net toekyk
hoe ñ eens sterk yster man
nou net weg is
asof nooit gewees
maar in my hart
in my geestesoog
sal ek ons laaste jare
wat ons kon deel
saam my dra
en dan in aande
soos vanaand
voel dit so onwerklik
asof ek ñ film gekyk het
daardie vroeë nag in Februarie
asof dit ñ nagmerrie was
die realiteit dat pa nie meer
hier is nie
breek my weer oop vanaand
die onthou
pa se mooi hande
wat sag in myne kon pas
sal ek altyd saam my dra.
© 2018 C. Holder
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.