Jongste aktiwiteit:

JANUARIE 2019 PROJEK UITSLAE – Ink Moderator

WENNERS:

GEDIGTE:

GOUE KLAS:

Wenner: Tanka 3 – Carma Shaw
2de: Tanka 1 – Carma Shaw
3de: Tanka 2 – Anzé Bezuidenhout

SILWER KLAS:

Wenner: Tanka 3 – Erika Viljoen
2de: Nuwejaar 1 – Estelle
3de: Tank a 1 – Erika Viljoen

BRONS KLAS:
Wenner: Woestynedrome – Calice
2de: Oujaar 1 – Marieta McGrath
3de: 2019 – L Lexow

GORREL:
Wenner: Piet beswaard hou nuwe jaar: Martha Poller
2de: Die wêreld is aan die verander: Ano

ARTIKELS:
Wenner: Asië vier nuwe jaar: Ano

RUBRIEKE:
Wenner: Nuwe jaar, net nog ‘n datum: Ano

VERHALE:
Wenner: Hanna se otterjasie-jaar: L Lexow
2de: Pietie Groen: Ansa
3de: Veilige hawe: Amanda Meyer de Meillon

INDIVIDUELE KOMMENTARE:
GEDIGTE:
1. Tanka 1: Anzé Bezuidenhout
Jou gedig is suksesvol. Mooi inhoud.
2. Nuwejaar: L Lexow
Alhoewel inhoud van jou Tanka pragtig is het jy afgewyk van die lettergreep reël (5-7-5-7-7) van so ‘n vers. Dit is egter slegs lyn 2 waar die reël nié nagekom is nie.
3. Brilpikkewyn: Palet
Jou Tanka is suksesvol en die inhoud is mooi.
4. Tanka 1: Erika Viljoen
Pragtige beelde en ‘n mooi geslaagde Tanka. Mooi bydrae, dankie.
5. Nuwe begin: Marieta McGrath
Die inhoud is mooi met ‘n baie duidelike volta. Jou tanka is suksesvol.
6. ‘n Nuwe jaar: Papillon
Die lettergreep telling in jou tanka is suksesvol. Die inhoud is deurdag. Let tog daarop dat hoofletters nét leestekens in poësie volg en nie lukraak geplaas of gebruik word nie.
7. Leef nou: Papillon
Die tanka is suksesvol. Ek hou van die leersame inhoud. Moet asseblief nie hoofletters gebruik sonder dat dit deur leestekens voorafgegaan word nie.
8. 2019: L Lexow
Ek hou van die sweempie politieke kommentaar hierin. Jou tanka is geslaagd.
9. Bettiesbaai se brand
Die tanka is geslaagd.
10. Plesierigheid: Charne
Die tanka is suksesvol. Die inhoud is sinlik. Die gebruik van hoofletters deurgaans is egter nie reg of funksioneel nie. Hoofletters behoort slegs geselekteerde leestekens te volg.
11. 2019: Charleine Collins
Ou tanka is suksesvol. Ek trap bietjie klei met die inhoud en veral die 2de sin. So “ontskep” hier beteken dat dit vergaan en /of ongedaan gemaak word? Sou ‘n ander sinoniem nie “mooier” klink nie. Ek verstaan nie behoorlik wat die begrip sou beteken nie, dan weer, is dit seker nie jou werk om dinge so duidelik te pen dat almal dit noodwendig eien en universeel interpreter nie.
12. Hoogtyd: Caren Kearley
Die Onomatopee in die 2de sin is slim gebruik om funksioneel by te dra tot die streng lettergreep reëls. Jou tanka is suksesvol en sluit op ‘n sterk klimaks. Welgadaan.
13. Hoop 2019: CJ Laing
Vir die grootste gedeelte is jou Tanka suksesvol. Die voorlaaste sin ontbreek egter aan die volle lettergreep metrum. Die inhoud van jou vers is interessant. Dankie vir jou deelname.
14. Kokonjaar: Charleine Collins
Jou Tanka is suksesvol. Die inhoud vorm ‘n mooi eenheid en sluit sterk. Welgedaan.
15. Tanka 2: Erika Viljoen
Die Tanka is pragtig suksesvol met ‘n vloeiende “storie” inhoud. Elke keer as ek die woord “Tula” hoor dink ek aan my gunsteling gedig van alle tye, “Amakeia”. Dankie vir jou deelname.
16. Woestyndrome: Calice
As ek nie nodig gehad het om in verskillende kategorieë wenners aan te kondig nie, sou jou Tanka vir seker die top prys gekry het. Ek weet altyd as ‘n gedig suksesvol is wanneer die leser nie asemloos raak op sekere plekke in die vers nie. Die Tanka maak dit natuurlik vir die skrywer en die leser makliker omdat daar sulke streng reëls betrokke is, maar steeds maak joune ‘n groot indruk. Die afkappings “t” in jou derde sin is nie net slim, mooi en funksioneel nie, maar dui juis op jou ongelooflike aanvoeling vir hierdie versvorm en digkuns in die geheel. Ek is besonder beïndruk met hierdie Tanka. Die inhoud is briljant gegrond (verskoon die “pun”) in ‘n omvattende menslikheid.
17. Vesting: Barbara Smit
Pragtige en geslaagde Tanka.
18. Tanka 1: Carma Shaw
Pragtige en suksesvolle Tanka.
19. Nuwejaar: Barbara Smit
Lieflike en geslaagde Tanka.
20. Middernag: Barbara Smit
Die Tanka is suksesvol. Die einde van die gedig het my egter effe verward gelaat. Waarom die snaakse einde?
21. Tanka 3: Erika Viljoen
Wat ‘n heerlike, weldeurdagte en slim ontwikkelde Tanka. Ek sien duidelik dat jy genoegsame tyd hierin belê het. Jou harde werk het vrugte afgewerp. Baie dankie vir ‘n lieflike inskrywing.
22. Nuwejaars Tanka: Jessica Venter
Mooi en geslaagde Tanka. Dankie.
23. Innerlike groei: Calice
Mooi en suksesvolle Tanka. Dankie.
24. Nuwejaar 1: Estelle
‘n Lieflike bydrae tot die Afikaanse Tanka skat. Weldeurdag en suksesvol.
25. weer teen Fracking 2019: Charleine Collins
Jou Tanka is suksesvol. Jy slaag ook daarin om ‘n sosiale vraagstuk goed onder die loep te neem in ‘n kort en kragtige inkspasie. Dankie.
26. Nuwe jaar Tanka: Amanda de Meillon
Pragtige en suksesvolle Tanka. Dankie.
27. Oujaar 1: Marieta McGrath
Goeie en deurdenkte Tanka. Dit is werklik ‘n mooi stukkie werk. Dankie.
28. Tanka 2: Carma Shaw
Pragtige en suksesvolle Tanka.
29. Tanka 3: Carma Shaw
Ek weet nie hoekom nie, maar hierdie Tanka van jou, wat so sensitief en simpatiek aangebied is herinner my aan die klankbaan van die film “The Mission” en dan meer spesifiek aan die temalied “Gabriel’s Oboe” en later bekend gemaak as “Nella Fantasia”. Ek moes op die daad gou ‘n weergawe hiervan gaan soek en luister terwyl ek jou vers gelees het. Hierdie gedig van jou het my beroerig gemaak, nie nét oor die waansinnigheid van vuurellende nie, maar ook oor die amper blazé manier waarop die mensdom omgaan met dit wat aan ons toevertrou is. Ek dink ek lees dalk té veel hierin, en belas jou vers met ‘n groter verantwoordelikheid as waarna dit smag, tóg vind ek die nodigheid om dit vir jou te noem. Dankie; jou vers het vir my ‘n heerlike omgewing geskep om iets wat dalk ‘n geruime tyd in die binneste woed te kan verwoord. Pragtige Tanka. Dankie vir jou deelname.
30. Tanka 1: Marlene Erasmus
Pragtig en aards. ‘n Geslaagde en suksesvolle Tanka. Dankie.
31. Tanka 2: Marlene Erasmus
Lieflik en geslaagd. Heerlike ritme. Die onomatopee dra mooi by tot die atmosfeer.
32: Tanka 3: Marlene Erasmus
Pragtig en geslaagd. Dankie.
33. Tanka 2: Anzé Bezuidenhout
Heerlik en geslaagd. Dankie.

GORREL:
1. Piet Beswaard hou nuwe jaar: Martha Poller
Heerlike komiese verhaal, en ja, Mevrou Dominee mag ook mos maar dors word.
2. Die wêreld is aan die verander: Ano
‘n Paar dingetjies aangaande die storie:
Eers verwys jy na die mooi voëlgesang en noem dit in die volgende sin ‘n kakofoniese geraas. Sulke strydighede moet behoorlik bestuur word anders verwar dit jou leser. Die gebruik van die ellips is nodig maar dit bly belangrik (in poësie én prosa) dat dit korrek aangewend word. Dit is drie kolletjies [punte…] wat direk na die die laaste woord en aangrensend aan die volgende gebruik word. Geen spasies nie. Die ellips word gewoonlik ook nie deur ‘n hoofletter gevolg nie. Ek het die ui in die bek geniet maar was bietjie verward, dalk soos jy self, waar dit vandaan sou kom. Onthou “verseker” word gebruik alleenlik as iemand versekering gee oor ‘n saak of as daar oor lewens- of korttermyn versekering gepraat word. In jou sin: “Oënskynlik het alle spesies ʼn ingebore nuuskierigheid en onbeskryflike lus vir avontuur en Guppy is vir seker geen uitsondering nie.” sou dit so geskryf word soos ek dit verander het. Lieflike storie. Dankie.

ARTIKELS:
1. Verruklike Vark: Palet
Die artikel is gelaai met inligting en feite. Dit sou dalk makliker kon lees indien dit effe meer georden was. Die gebruik van “Horoscope” is onnodig aangesien die Afrikaanse taal ryk is aan woorde om dit te vervang. By sommige plekke is die woordorde van so ‘n aard dat dit regtig nie maklik lees nie. Dankie vir jou deelname.
2. Watse vark is jy?: Ano
Dankie dat jy ‘n bronnelys aangeheg het aangesien dit sodat die leser kan naslaan. Jou artikel is feitlike en interessant. Dankie vir jou deelname.
3. Asië vier nuwe jaar: Ano
Jou artikel is keurig, en die leser hoef nie jou geloofoortuiging te hê om steeds die inhoud bruiksaam te vind nie. Daar bestaan natuurlik ‘n gevaar van vooroordeel indien persoonlike “gevoelens” in artikels gebruik word. ‘n Rubriek is meer geskik vir persoonlike standpunte. Jou artikel is steeds interessant en heerlik leesbaar. Dankie.

RUBRIEKE:
1. Die nuwejaarsvieringe: Palet
Ek gaan baie streng wees met jou aangaande hierdie rubriek. Dit is slordig! Leestekens is disfunksioneel aangewend, met spasies waar daar nie spasies behoort te wees nie. Gedagtes en idees is herhaal en onsamehangend gedeel. Wat beteken die woord “ritusse”? Bedoel jy rituele? Die woord “nuwejaarsvieringe” word tot vervelens toe herhaal en word sommer met hoofletters geskryf in die middel van sinne. Ek sou dink as jy soveel tyd spandeer om ‘n rubriek te skryf sal jy ‘n netjiese stempel daarop wil afdruk? Onthou dat elke stukkie skryfwerk deel uitmaak van jou skrywers-cv, en dat mense baie kritiek staan teenoor jou werk as jy nie jou allerbeste lewer nie. Hierdie stukkie skryfwerk voel afgerammel. Ek stel ‘n hoër standaard op prys.
2. Nuwe jaar, net nog ‘n datum: Ano
Sinskonstruksies soos “ek se plesier” klink snaaks op die oor en kan baie maklik en funksioneel nét “eie plesier” wees. “Dit sal seker nie dieselfde mate van amusant wees wanneer…” Nee! Eerder: “Dit sal seker nie in dieselfde mate amusant wees wanneer…”
Wees versigtig vir baie lang sinne. Dit lees nie net moeilik nie maar die leser verloor ook die volle strekking. Die deurslag leser sal natuurlik dink jou rubriek is baie sinies, en dalk is dit, maar dit bly jou oortuiging en jou prorogatief waaroor en hoe jy daaroor wil kla. Dankie vir jou bydrae.

VERHALE:
1. In die land van “kamma-mielie”: Palet
“Geëet” met ‘n deelteken en nié koppelteken nie. Spelling asseblief: “lint” en nié “link” nie. “Lettie, dan Letties, dan lettie ens. ens.” Let op die kwaliteit van jou skryfwerk. Die inhoud kan soveel beter oorgedra word as jy na die klein akademiese dinge omsien. Ek weet jy kan beter werk lewer as dit.
2. Die geheime projek: Palet
“vorms aanneem en ook soos ‘n gewone mense lyk en praat.” – die ‘n is oorbodig.
“Gemaanskap” – spelling.
“valse voornemens” – moet valse voorwendsels wees.
“Jy sien, ek het baie navorsing gedoen oor hierdie projek al vir geruime tyd reeds, dit deurdink van alle kante af.” – Sinkonstruksie lomp.
“Besigheihsman” – Besigheidsman – Spelling
“te mors jaar sy terug na die polisie stasie” – seker jaag?
In die paar voorbeelde wat ek hier uitgelig het, kan jy self sien dat nasorg ongelooflik belangrik is by skryfwerk. Taal, woorde en spelling is jou enigste instrumente om hierdie taak te verrig en daarom is sorg van uiterste belang!!
4. Pieter die pou: Palet
‘n Paar tegniese dinge kort aandag hierin maar dit is ‘n leesbare storie. Dankie vir jou deelname.
5. Hanna se otterjasie-jaar: L Lexow
Dit is ‘n storie wat inspireer. Die inhoud is redelik goed versorg. Dankie vir jou deelname.
6. Pietie Groen: Ansa
Dit is ‘n heerlike kortverhaal. Let asseblief op spelling en sinkonstruksie. Dankie vir jou deelname.
7. Veilige hawe: Amanda Meyer de Meillon
Oulike kitsverhaal. Dankie vir jou deelname.

Baie dankie aan elkeen wat deelgeneem het.

Skryf in Afrikaans – dit laat mens leef!
IM




3 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed