Karoo-diamant
groen karoo hou haar seldsaam
haar koolstofpaaie glimlag broos
tussen die groot karoo-bosgapings
watervalle met hoë brekingsindeks
skuil agter geharde A4-struktuurberge
haar karoo-steen in fassetvorm geslyp
waardeur invallende blomme weerkaats
laat haar vlekkelose lug skitter
gee haar juweelland ‘n skoonheid
klein karoo, jy is ‘n diamant
© Roeline
Ek het navorsing gedoen en dis die volgende:
Die groen diamant is die skaarste.
Diamante bestaan uit koolstowwe (maar jou stofpaaie bestaan ook uit ‘n mengsel van koolstowwe en ander elemente).
‘n Diamant mag dalk die hardste mineraal wees, maar slaan met ‘n hamer, dit sal breek. Diamant is eintlik bros en kan maklik versplinter.
Moenie kopbreek nie – maar groot bandgapings en hoë brekingsindeks veroorsaak dat die diamant deursigtig (kleur) en vlekkeloos (helderheid) is. Diamant se kristalstruktuur is ‘n A4 (met ander dis kubies, maar nie dig gepak nie). Jy skryf dit as ‘n A4-struktuur.
Die invallende liggolwe in die diamant veroorsaak die skitterheid van die diamant. Hoe meer lig vasgevang word, hoe meer sal dit skitter en hoe duurder raak dit.
Al die eienskappe gee die diamant ‘n skoonheid.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.