
Kontreistories: Krag vir Kanoneiland deur Lynelle Clark.
Dié storie vat my vêr terug, toe die lewe rustiger was, sonder die gejaagdheid wat ons vandag het. Families was nader aan mekaar en afstand was ‘n relatiewe begrip. Die Engelbrecht (aan Pa se kant) en Smit (aan Ma se kant) familie was wyd verspreid oor die land tot in Namibie, maar dit het hulle nooit verhinder om bymekaar uit te kom nie, veral in die jare wat ek groot geword het nie. Vandag, nou dat almal gryser is en die kleinkinders hul eie lewe voer gebeur dit minder. Soms kan ek die verlange in my pa sien en hoor, veral wanneer hy stories oor sy familie en lewe vertel.
Braaivleis vure, dans op die breë stoepe en lang kuiers onder die koelte bome was die kenmerke van hierdie byeenkomste, en natuurlik eet. Die tafels het gekreun onder die gebak wat gewoonlik so ‘n paar dae voor die tyd begin het. Van opgestopte skaapboude, varkboude, gebakte hoenders, tuisgemaakte wors of Pofadder en suurkos (Daar was natuurlik afval ook maar ek het seker gemaak om dit te mis – drywende oë is rerig nie aptytwekkend nie ). Elke denkbare groente was gekook, ingelê of geslaai, en dan die lekkernye, elke soet tand se droom, poedings, koeke en terte – klein of groot, dit het nie saak gemaak nie, daar was oorvloed. Tussenin was daar druiwe, geel perskes, waatlemoen en spanspek wat verorber was, genoeg om van naar te word. Net die blote gedagte aan daardie vragte kos laat my mond water en die heupe groei…LOL.
Vir my ouers was dit ‘n prioriteit en ons het mooi herinneringe van daardie tye. Maar daar is een of twee herinneringe gedurende hierdie tyd wat die meeste uitstaan; een daarvan was toe Kanoneiland krag gekry het vir die eerste keer.
Nou, ek weet nie van julle nie maar as kleinkind het jy nie rerig ‘n verhouding met jou ouma of oupa nie. Gesprekke tussen die twee geslagte was gehou tot die minimum: Die kinders-word-gesien-en-nie-gehoor-nie benadering. Albei my oupas is oorlede toe ek baie jonk was, so die geheue is maar yl rakende my grootvaders maar ons was geseënd om die oumas langer by ons te hê. Die rede dat hierdie een gebeurtenis uitgestaan het is die feit dat ek Ouma Baby as vrou leer ken het gedurende hierdie belangrike mylpaal in Kanoneiland se geskiedenis. Ek weet nie hoekom sy Baby genoem was nie want haar doop naam was Johanna, ek dink dit het te doen met die feit dat sy die jongste in haar gesin was – maar ek mag verkeerd wees.
Ouma Baby was baas bakster van die kontrei asook ‘n goeie vriendin wat haar die gemeenskap se lopende koerant gemaak het. Sy was ‘n weduwee vir plus minus 15 jaar, en sy het haar deel gehad aan manne wat haar deurdrempel deur getrap het totdat Oom Jan Nienaber haar – na ‘n lang sagmaak proses, oortuig het om hom ‘n kans te gee. ‘n Dierbare ou oom wat pa en oupa geword het vir ouma se 10 kinders en talle kleinkinders.
As weduwee het Ouma Baby op ‘n boer se plaas gebly, in ‘n groot ou huis met ‘n bloedrooi, blink gevryfde breë stoep om die huis. Op die stoep het sy haar kuiermense onthaal met moerkoffie of Gemmerbier en tuisgebakte koekies. Persoonlik het ek haar Hertzoggies en konfyt-tertjies die meeste geniet – handevol gegaps uit die koekieblik om later te kon verslind, met nabetraging is ek seker daarvan sy moes dit geweet het. Die stoep was nie net kuierplek nie maar ook slaapplek, en ek het menige kere daar geslaap weens die versengende hitte of as al die kamers vol was, gedurende die Desember skoolvakansies. Groot bome het wye skaduwees gegooi op die skoon geveëde erf en grasgroen katoenlande het die huis omring. Toe sy en Oom Jan getroud is het hulle na sy dorpshuis getrek en het ek, en soms was Nig Joan by, die klein dorpie platgeloop op my verkenningstogte. Miskien is dit die rede dat ek nogsteeds lief is om in klein dorpies se strate af te stap: Jy beleef meer van die mense en kultuur op so ‘n manier.
Vir ‘n stadskind was dit die wonderlikste tyd weg van die ouers af, want jy kon loop – vêr, sonder toesig. Jy word net gekeer deur die natuurlike grens van die Oranjerivier: ‘n intimiderende bruin massa wat deur diè wêreld kronkel met ‘n rustige vloei en enige kind sal twee maal dink voordat dit aangepak word. Kanoneiland is geleë tussen Upington en Keimoes, in die Noord-Kaap, en is die grootste eiland in die Oranjerivier. Dit is net bereikbaar deur die enkelpadbrug aan die noorde kant van die eiland. Die eenstraatdorpie het ‘n kerk, negosiewinkel en petrolstasie (as ek reg onthou) gehad. ‘n Mooi rustige plek wat meerendeels deur ouer mense bewoon was.
Elke Desember het my ouers by hulle ouers gaan kuier vir die duur van die skoolvakansie; vir 2 weke het ons by Ouma Baby en dan 2 weke by Ouma Hester, op Louisvale, gekuier. Dit was die gewoonte vir die meeste van my grootword jare. Maar in 1979 (ek dink dit was) besluit my ouers om met die Julie vakansie af te gaan. Skielik moes ons wintersklere inpak na ‘n plek wat net aan my bekend was vir sy hitte maar ons het nie gekla nie, dit was ‘n welkome verandering. Kom ons wees eerlik, jy kon net soveel doen op Louisvale en Kanoneiland daardie jare. TV was nog ‘n aardigheid en die twee plekke het nie eers krag gehad nie. Vir die jonger geslag: Internet was nog nie ‘n gedagte nie. So stap en lees was die grootste tydverdrywe vir jongmense en natuurlik kuier. (Dit is nogsteeds my beste tydverdrywe – ek wonder hoekom…LOL). Maar vir my –as die oudste kleinkind en omring deur kleintjies wat ten minste 10 jaar plus jonger as ek was kon dit soms vervelig raak en afgesien van die bogenoemde aktiwiteite was ek aangewese op my pa en ooms om my besig te hou. So was ek bekendgestel aan visvang, skaak, kaartspeletjies, dominoes, meule en die meeste van alles luister na al die stories op die stoep in die laatmiddag son. Die enigste tyd wat jy dit kon waag buite. So, tussen my Pa, Oom Duraan Smit, – Jan Nel, en – Johan Lamprecht was my kinderjare en gewoontes gevorm.
Maar kom laat ek julle nou nie verder verveel met al my stories nie en terug na Kanoneiland. Oom Jan het ‘n kragopwekker gehad en die was net op sekere tye aan die gang gesit sodat ons ‘n bietjie TV kon kyk, spesifiek die nuus. Die res van die tyd was die koolstoof en lampe die algemene bron van krag, en o ja, ons het darem ‘n gas warm water silinder gehad – nie dat dit baie gebruik was nie, water direk van die kraan was warm genoeg vir ‘n warm bad in die somer. Ons was immers in die Kalahari.
Dit was ons eerste aand by Ouma, die Julie vakansie, en opgewonde het sy vertel van die krag wat gaan aankom om 6 en om die volle inpak daarvan te kon geniet moes ons ry na die beste uitkykpunt. Ouma se opgewondenheid was aansteeklik en daar was ‘n feestelike stemming in die groot ou huis. Julle moet verstaan, ek het my ouma nooit rerig opgewonde gesien nie, sy was hierdie statige ou dame met ‘n grys dik bolla op haar kop en het die manier gehad om jou aan te gluur oor haar leesbrilletjie – nodeloos om te noem dat ek maar skrikkerig was vir haar my lewe lank. Vir die eerste keer in my 15 jaar het ek haar sien lag en sy was vir my mooi. Weg was die stroewe gesig vol saaklikheid maar ‘n ontspanne vrou wat ook die mooi in die lewe kon geniet.
Die hele familie was in my pa se Ford Granada geprop en het die lang, stowwerige pad aangedurf in die rigting van Upington, by die teerpad het ons regs gedraai en ‘n hele ent gery, seker omtrent ‘n halfuur ver, totdat ouma vir pa gesê het om te stop en om te draai. Nou, julle moet verstaan, dit is ‘n plat wêreld, daar is min hoogtes naby Kanoneiland – wat in die middel van die grootste rivier in Suid- Afrika is, die rede dat ons moes ry totdat daar ‘n effense helling was om die dorp mooi te kon sien. Die skemer het al swaar oor die vlaktes gelê en met afwagting het ons-ons nekke gerek om die gebeurtenis gade te slaan. Toe die ligte stiptelik om 6 aan gaan, roep ouma opgewonde uit, “Sien julle, daar is Kanoneiland!” En wraggies daar lê die dorpie, in ligte gebaai. Daar was seker altesame 8 ligte, 4 aan elke kant want immers was die enigste teerstraat nie baie lank nie. Maar ons kon die wonder saam met Ouma beleef. Soos ‘n kind het sy gebabbel en gelag en ek kon my verlustig in haar opgewondenheid.
My ouma se kinderlike opgewondenheid is nog steeds blywende herinneringe wat selfs na byna 50 plus somers steeds ‘n indruk op my laat en het ek iets van hierdie vrou beleef wat my nader aan haar gebring het. ‘n Kykie in die hart van ‘n vrou; vir haar was dit seer sekerlik die grootste hoogtepunt in haar laaste jare. Haar aansteeklike geesdrif het iets agter gelos, oor dit wat ons in die stad as vanselfsprekend aanvaar en ek het baie daaroor gewonder – miskien meer nou dat grysheid my hare ook besprinkel.
Ons opgewondenheid en blydskap is saamgevat in die omvang van ons belewenisse en hoe ons dit oordra aan ander. Dit is ‘n konneksie wat jy op geen ander manier kan ontvang behalwe om saam met iemand te stap, deur sy/haar brille na die lewe te kyk en so die vervulling van ‘n blymoedige lewe te kan geniet nie. Dit is baie maklik om egosentries te wees en mekaar dan te mis. Slegs wanneer die venster van die hart op ‘n skrefie oopgemaak word, en ons bedag is daarop, kan ons die grootste wonder van alles beleef. Diè Lewe.
Ouma Baby het in haar latere jare ‘n beroerte oorleef en was vir ‘n tyd bedlêend. Met groot geduld van haar kinders en haar eie deursettingsvermoë het sy weer die volle gebruik van haar liggaam herwin en ‘n vol lewe gelei, eers op Kanoneiland, en toe in ‘n ouetehuis op Upington tot met haar afsterwe. Maar die kere wat ons gaan kuier het kon ek tog weer daardie blydskap sien of miskien was dit omdat ek net wyser geword het. En so, met die elektrisiteit saam het nie net Kanoneiland krag gekry nie maar het ‘n lig vir my opgegaan en kon ek die krag in my ouma waardeer. Na twee en tagtig somers het sy die ewigheid betree, en ek glo met dieselfde mate van blydskap nog steeds in haar.
Mag ons elkeen ook so in die mees eenvoudige dinge ook die blymoedigheid behou, want ons weet nie watter impak dit mag hê op die volgende persoon nie.
@LynelleClark 2017 1836 Woorde
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.