Jongste aktiwiteit:

Koud én nat? Nee dankie!

(Woordtelling 747 )

Nee wat, ’n wintervakansie is net so lekker langs die warmer suidkus se strande as om te betaal om elders koud te kry. In elk geval, ons Suid-Afrikaanse kleredrag laat nie veel ruimte vir sulke uiterste koue nie en as jou skoene eers nat geword het van daardie pragtige sneeu, voel jou tone soos tien gevriesde ysblokkies aan ’n stuk lood. My Kanadese vriendin het ʼn ekstra skaapvel ‘skoen’ wat sy aantrek voordat sy haar normale stewels aantrek. Ons ken nie sulke goed nie.

Waar gaan ek ʼn ekstra dik baadjie, opgestop met sagte gans-donsies opspoor? Die winkelassistent sal my heel waarskynlik aankyk asof ek van Mars afkom. Dit sal bloot buite haar ervaringsveld wees. Ons woon in ʼn sonnige land, ons dra nie sulke dik klere hier nie.

Alhoewel ek dit al ’n keer raakgesien het, is long johns ook nie eintlik iets wat mens in elke klerewinkel raakloop nie. Ekstra dik wol-sokkies ook nie sommer nie. Vir al hierdie ekstra warm klere, moet jy seker eers na die buiteland reis om dit daar te gaan soek. Selfs my ou lang mou frokkies is maar effens aan die dun kant. Om sulke ekstreme weer te oorleef, sal ek seker albei moet aantrek, ʼn lang mou hemp, twee truie en dan nog ʼn baadjie bo-oor. Teen daardie tyd begin ek al hoe meer na die Oros-man lyk! Weet nie nie eintlik wat ek sal doen my ou dun klinknael broek dikker te kry nie. Mens kan ook nie soveel pare wol broekiekouse oormekaar aantrek, dan wil die broek ook nie meer lekker pas nie.

Kyk hoe lekker kla ek nou. As mens iets nie wil doen nie, gaan jy ‘n verskoning kry. As jy ‘n ding wil doen, gaan jy ‘n geleentheid raaksien.

Dit is nou nie asof ek nog nooit sneeu gesien het nie. Gewoonlik word die wêreld gou deur ʼn wit poeier laag tot ʼn sprokiesland omtower, en die volgende dag is dit óf weg, óf ʼn bruinerige sloesh. Guppy en die kinders het die onverwagse sprinkeling van ligte sneeu in Gauteng natuurlik vreeslik geniet – tot hulle met nat klere en stokstyf gevriesde hande die huis binnegestorm het. Klappertand van die koue. Dan is lekker ook nie meer lekker nie. Ma moes maar sorg dat hulle gou droë klere aantrek en het elkeen ʼn beker warm sjokolademelk in die hand gestop. Guppy se blinknat pels moes natuurlik eers drooggevryf word. En raai wie moes dit doen?? Daarna moes sy maar met die verwarmer tevrede wees.

Een jaar gedurende Oktober, kuier ons in die Oos-Kaap. Heerlik. Die weer was koel, maar sonnig. Ons het half ongelowig geglimlag toe die winkelassistent vertel dat dit dalk gaan sneeu. Haha, ja right. Ja jong, ons sien die pragtige blou lug en sonskyn belowe sneeu. Maar mens moet seker nie die noodlot tart nie, want net soos die weer-feetjies dit beplan het, het dit die aand voor ons terugreis begin sneeu. Nie langs die kus nie, maar die berigte was reeds daar dat die berge  in ‘n wit laag koue bedek is.

Sommer by die eerste motorhawe moes ons haastig uitvind watter pad die veiligste sou wees om te ry want sien, daar lê ʼn hele paar bergpasse tussen hier en daar en ons kan dit nie waag om dalk iewers langs die pad in die moeilikheid te beland en dan vir ure lank daar vas te val nie. Die rit was maar stadig en skaats-skaats oor die gladde pad, en hier en daar het ons ʼn motor gesien wat op ‘n ongemaklike plek reeds sy staan langs die pad gekry het.

Dit was bitterlik koud en natuurlik het ons nie die regte klere in ons bagasie gehad  om voorsiening te maak vir sulke drastiese weerpatrone nie. Dit is immers al Oktober! ʼn Pragtige wonderwêreld het voor ons oopgevou, maar boetie, dit was v-v-v-vrek kkkoud. Die motor se verwarmer het hard geblaas, maar dit het werklik nie veel verligting gebring nie. Nog nooit was ek so bly om die Vrystaatse vlaktes te sien nie, vaal en koud, maar heel oorleefbaar.

So, wil ek rêrig ʼn vakansie in die sneeu deurbring, veral as ek weet dat my ou kleertjies te dun is en my voete gou nat gaan wees? Miskien nie. Dit is veel lekkerder om my swembroek en ʼn paar kortmou T-hemde in te pak en op Durban se strand te gaan baljaar. Buitendien, die strande daar is gedurende die wintervakansie glad nie so vol soos gedurende die somermaande nie.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed