
LIEFDE
Die liefde is soos roosmaryn
of wilde klawer, geelryp graan
wat laggend spelend wind-af staan,
die liefde laat jou huppel,
stilstaan, neerbuig, opstaan…
Die liefde laat jou lewe,
stadig sterwe, alles raaksien
niks verstaan nie…
net die stilpyn
van die vreugde
wat ‘n hart se ritme ken,
of laat stilstaan
as die vreugde of die seer
die hart tot stilstand rem.
Die liefde is die balsem
wat die stukkend
weer kom heelmaak
van die ondeurdenkte pyl
wat die hart kom oopskeur
en die bloed riviere
deur die swaar gemoed
laat vloei…
Die liefde is die vangnet
wat die siel se vryval stuit,
en twee siele dan kom saambind
tot die eenword
wat die doel word
van die menslike bestaan.
Die liefde word die vriendskap,
as die drif en drang verdwyn,
wat twee harte
nog laat saamklop
en die siele nie laat kwyn,
wat die laaste weg gelykmaak
soos die daeraad verdwyn…
©31/10/2010 Anton Bosch
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
Liefde se groei en kleur. Dit begin by 'n geurige krui, roosmaryn. Om hierdie krui se heerlike geur vry te laat moet die fyn blaartjies gekneus word. Om groei te stimuleer moet die takkies voortdurend gebreek word. Deur die stuk werk word hierdie kneusing en breek weergegee as die ontwikkeling van liefde. Strofe 1 fokus op die speelsheid van jong liefde. Dis speels en lig en vrolik. In strofe 2 word die groeipyne verwoord: "Dit laat jou lewe laat jou sterwe alles raaksien." Hierdie sterwe is 'n sterwe aan jouself en 'n meer gee van jouself in die verhouding. Die liefde laat jou hart klop van opgewondenheid en laat hom gaan stilstaan wanneer jy seerkry in die verhouding. Maar hoe mooi volg strofe 3 as medisyne op strofe 2 se seerkry, die liefde is 'n balsem vir die seerkry. Strofe 4 is sekerlik die mooiste verwoording van liefde in sy volwassenheid. "Die liefde is die vangnet wat die siel se vryval stuit en twee siele dan kom saambind tot die eenword wat die doel word van die menslike bestaan" Om werklik lief te hê soos wat bedoel is vir die mens is die vervolmaking van menslike bestaan in vlees. Almal droom daaroor om lief te hê en om lief gehê te word. Almal hunker daarna. En in strofe 5 word daarop gewys, dat wanneer die drifte en drange van liefde bedaar, is daar 'n diep vriendskap wat twee bemindes oor die laaste deel van hul lewe dra. Dis hier waar "ek ken jou en verstaan jou" rus en vrede bring. Waar deel 'n ander dimensie kry. Dis wanneer die liefde se roosmaryngeur 'n leeftyd se deel vul met 'n verruklike vars aroma. Sou net graag wou sien dat leestekens meer gereeld gebruik word om die tempo te vertraag. Hoe lekker stap mens nie deur hierdie liefdespad in die gedig nie en speel jy saam met die jong liefde en groei jy tot volwassenheid. Subtiele binnerym laat strofes en lyne tot 'n pragtige eenheid saamvloei. Dis 'n padkaart wat rigting aandui vir almal wat lewe.