Jongste aktiwiteit:

Liefplek (silwer)

Hoe lieflik is jy tog geknelde land
met jou witwarm son wat ‘n barshou kan brand
oor jou sandveld met ysterklip swart besproet
waar dorperskaap geil op jou geelgras voed

hoe beny ek jou wysheid, wil ek jou eer
vir dit wat jy my oor die lewe kon leer
as jy verskroeid en weerloos veerkragtig rebel
teen die mag van ‘n droogte wat jare lank knel
dog uitbundig in vrolike fleur dankbaar blom
as genade in die vorm van reëndruppels kom

hoe lief het ek jou saans as die skemering daal
die aandster die maan agter die duine gaan haal
jy my in jou stofpadarms veilig en knus
teen die klop van jou Boesmanlandbors vredig sus

ek bewonder die ongekunstelde prag
van jou skitterblink uitspansel laat in die nag
as dit voel of my hande die sterre kan raak
waar Orion fier oor die diereriem waak

en as dagbreek se saglig oor kliprantjies loop
beloftes hernu oor mooi môres en hoop
wil ek sing, wil ek rym, in vry verse betoog, want
jy’t my reeds as n baba op jou biesmelk gesoog

©️Elize Kruger
Oktober 2022




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed