My dagboek oor jou (1) …
My dagboek oor jou (1) …
Hier staan ‘n tafel voor die venster. As mens die gordyne ooptrek, is dit ‘n lieflike uitsig.
Die gordyne maak darem nie alles donker nie, dis van ‘n ligte materiaal gemaak. En dit het nie van daai swaar lig-uithou-lap agteraan nie. Met daai lap voel dit mos altyd soos nag. Donker koue nag.
Ek het al ophou tel hoeveel dae dit is vandat ek jou by die lughawe gaan afsien het. Dis te baie en my kop kan nie soveel leë dae bymekaartel nie. Dan voel my lewe te leeg. Nou probeer ek maar fokus op die dae wat oorbly tot jy terug is … hulle kan ek immers tel. Dis nog net so 483 dae. Ek wonder of jy ook die dae tel.
Tot laasweek was dit nog herfs in die Swartland. Maar toe ek vanoggend wakker word, was dit volbloed winter. Dit het gister die hele dag gereën. Die koringboere is diep dankbaar, want die koring wat skaars ‘n paar sentimeters hoog staan, se koppies het al klaar begin hang. Maar nou het hulle lewegewende water gekry. O ja, ek wou jou nog van die weer vertel. Daar het selfs gister wind gewaai … hier waai mos nie sommer wind in die Swartland nie. En koud! Dis bibber-koud. My hande is net warm solank dit om ‘n koppie warm koffie vou. En mens kan ook darem nie die hele dag lank koffie drink nie.
Gisteraand was die bed nog kouer as yskoud. Ek het jou lyf teen myne gemis. Sommer jou stem en jou asem en jou hande ook. Net jy weet hoe om my toe te vou en warm te hou as dit so bitter koud is. Eintlik begin die warmte dan by my hart en sprei uit na die res van my lyf. Want jy maak my hart warm met jou liefde.
Hoewel alles vanoggend silwerskoon lyk na gister se reën, is dit asof die lug grou is. Asof dit nie helder wil word nie. Dalk soos my gemoed. My gemoed is ook so grouerig vandat jy weg is. Ek wens ek kon weet dat jy terugkom na my. Maar jou laaste woorde bly eggo … eggo … eggo in my kop. “Dalk … eendag … wie weet … miskien”. Ek klou vas aan elkeen van daardie onseker woorde. Want vir so lank was jy my alles. My lewe. My lewensaar. Ek kan mos nie nou net sonder jou aangaan nie.
Ek gaan nou eers vir my koffie maak. Jou koppie staan ook reg – jy kan maar net huis toe kom.
Ek skryf môre weer.
Altyd joune
xxx
4 Kommentare
-
Evelyn van der Merwe
Hunkering en tye van onthou, die gemis en tere liefde waarna gesmag word kan duidelik hier raakgelees word.
-
neels
Borrels jy oortref jouself weer met hierdie pragskrywe
-
Kiekies
Ek kan jou verseker, ek verstaan presies wat jy hier skryf en daarom ruk dit aan my hart. Jy ken die kuns van eerlik skryf! Doen so voort.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
ai dis n diep-seer erg verlang briefie hierdie...