n Kreef hoort in die see
ʼn Paar Desembers terug besluit ek om vir tien dae met my kinders ʼn weskus dorpie te gaan ervaar.
Ons kry die eerste huisie reg by die visserskuite amper op die strand.
Ons boer op die sand. Ons geniet die eenvoud van die weskus. Kinders is kinders en die drie van my speel gou saam die inwonertjies in hulle kleurvolle onder broekies.
Ek loer so nou en dan oor my boek se rand om koppe te tel. Ek sien ʼn tingerige geel onderbroekie wat na my toe aangestap kom.
Die salpeter sout lyfie kom gooi hom nonchalant langs my neer. Sy voortande is nog nie uit nie. Sy oë rooi van oop oë swem.
“Issit antie se drie kinnis”?
Die sielvolle gesiggie se haasbek vraag tokkel my Moeder Teresa hart op ʼn perfekte toonhoogte. PING!
Ons ruil vrae uit. Ek lag uit my maag.
Son dae skyn verby. Elke oggend klop die Geel onderbroeke ons wakker. Hy maak hom tuis op ons gehuurde vakansie bank. Hy vra elke oggend sy appel en speel met Charlie ons hondjie. Saans as die vuur brand sit Geel onderbroeke gemaklik by die stoep tafel reg om saam te eet. Hy leer ons sy sewe jaar se kennis van die see en hoe om kreef te eet. Hy sit saans op my skoot en se ek lyk soos sy juffrou by die skool. Ek vee neus af. Tugtig die vloekwoorde, smeer sy gesig son room en huisves die seuntjie onbeskaamd in my hart. Op die strand tel ek outomaties vier koppies.
Ons pak op. Ons kuier is verby. Geel onder broekie staan by die stoep muurtjie. Sy hart is seer. Ons harte is ook seer.
Ek en my kinders kyk vir mekaar. Sal ons of sal ons nie? Nodeloos om te se ons tref reëlings. Op pad huis toe agter in die kar gaan hy saam vir ʼn kort kuier in ons wêreld.
Die eerste aand spring hy op en af vir al die speelgoed. Hy hardloop op en af met die trappe. Hy kyk met groot oë na die vreemde huis. Die son sak oor die Bolandse berge en hy raak stil.
Die tweede dag raak sy woorde minder en sy trane meer. Hy se vir ons hy verlang na die see.
Ons besluit ons vat hom huis toe met ʼn kar vol speelgoed en klere. Ons gaan gee hom terug vir die see en ons belowe ons sal bel en weer kom kuier.
Hy se oor die foon sy :“voor tanne is al yt”. Sy speelgoed is noggie gesteel nie. “Hoe ganit met Charlie, hugh”, vra hy.” Brand die berge nog as die son by djulle sak”? Die kreef loep weer en sy ma het ʼn nuwe boyfriend.
Ons lag en luister.
Saans as die son sak en ons berge brand, wonder ek of hy ʼn warm baadjie aanhet.
6 Kommentare
-
Viooltjie
Nog 'n pragtige verhaaltjie uit jou pen. Welgedaan. regtig 'n plesier om te lees :-)
-
Koekekranka
Wat sal ek anders kan as om te bedank vir so 'n saamleefskrysel? Baie dankie, natuurlik!
-
Anze
dis nou n hartsverhaaltjie.. jy vertel dit pragtig!!
-
neels
Baie mooi geskryf Yolande
-
Kiekies
BRAVO BRAVO BRAVO!!! Absoluut puik vertelling!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
borrels
Ek het heerlik gelees aan hierdie hart-storie.