
STIL GAAN STAAN
Die lewens rommelende eenrigting trein
snel verby my en rol die vroeë wintersgras
in ‘n kombersie langs sy spore op
tot waar die twee ry ysterspore
een raak op die middag kim
en ek stil gaan staan en wag
Ek skrop vir my ‘n sitplek
in die bakhandholte van ‘n ysterklip
en glimlag met die bergbokke
wat wegkruipertjie speel met die slagtand sonstrale
wat deur die gapings in die doringbome se takke hap
Ek frons vir die wolke
wat soos wit vermeelde slakke voor die son inkruip
en kruis my bene
as alles om my stil gaan staan
en die son se laaste bruidsrok strale
met ankertoue gekluister in vandag
weggesleep word om plek te maak vir die aandster
wat op die hemel se verhoog
vir sy eenmans vertoning wag
Ek loop die langpad huis toe
weet dat ek moet wag
totdat môre se steenkool kole wit rooi warm broei
onder die eenrigting lewens trein se water maag
en stoom wakker word deur sy koperpype met ‘n fluit
waar ek stil gaan staan en wag
vir die nuwe dag …
4 Kommentare
-
Anze
puik beskrywings wat jy hier inryg... baie mooi woordskildery geskep
-
Inkmoderator
Louie, ek kom loer gou hier by jou vers in: ek hou hiervan, want die grosse idee verg my aandag. Sommige van die sinne is vir my nie woordekonomies (dinge wat gesê kan word met minder woorde sonder om aan die idee te krap maar net die konstruksie so effe aan te pas) nie. Ek gaan hieraan krap en dan kan jy oorweeg wat ek sê. Dit is alles bloot nét voorstelle en die keuse berus totaal by jou of jy dit wil gebruik al dan nie. Ek gaan nie (ter wille van spasie) die veranderinge in hakies aangee nie, maar as jy die twee verse (joune en my moderasie) vergelyk kan jy 'n idee kry. Die rommelende-eenrigting lewenstrein snel verby; rol die vroeë wintersgras in lappies langs sy spore op tot waar die tweery-ysterspore een raak op die middag kim waar ek stil gaan staan en wag. Ek skrop vir my ‘n sitplek in die bakhandholte van ‘n ysterklip en glimlag met die bergbokke wat wegkruipertjie speel in slagtand sonstrale en deur die gapings van doringboomtakke hap. Ek frons vir die wolke wat voor die son inkruip (soos wit vermeelde slakke); ek kruis my bene as als om my stil gaan staan – die son se laaste bruidsrokstrale weggesleep word om plek te maak op die hemelverhoog, vir die aandster en vir sy eenmansvertoning wag. Ek loop die langpad huis toe (ek wag) totdat môre se steenkool wit-rooi warm broei onder hierdie trein se water maag en stoom deur sy koperpype met fluit; ek wag; vir die nuwe dag. Jou gedig is sprankelend tasbaar van al die beelde. Onthou, soms moet jy meer wys en minder sê. Dit help met ritme en bring die boodskap van jou vers duideliker en herkenbaar na vore. Alles is en bly nét voorstelle; jou keuse of jy dit wil gebruik. Groete
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Evelyn van der Merwe
en die son se laaste bruidsrok strale met ankertoue gekluister in vandag Jy grawe raak met jou beskrywings, pragtig.