Jongste aktiwiteit:

My Volk

eens; soos ’n bergpiek, uitgetroon bo die landskap
langs ’n helderskoon waterstroom, waar die son
oor sy kaalkop streel, en die môredou van sy
voorkop vee, terwyl die diep plooie in sy blad,
mos bedek, yl geklos op sy wange, plek-plek gevlek
gelos, sy karakter sterk vertoon het.

In die voue van sy blad gekleef, ’n doringboompie,
‘met dorings krom en reg; …in mekaar gedraai
en deurmekaar gevleg;’ met sy wortels pynlik,
tot in die diep kraters van sy siel geheg.

Eens; het lentes bloeiselmooi sy voete getooi;
die doringboompie wat aan sy blad bly kleef, het
met elke politieke seisoen groter-en-groter geword.

Eens; in somers van voorspoed was sy kop in die wolke,
versier met varings so mooi in elke plooi getooi;
en asem van wolkies, wat lyk soos spookasem,
het reënboë van God se belofte gewasem.

Met gekreukelde voete het herfswinde geruk aan
die voue van sy moue, ysig geblaas in die waai van
sy nek; en het die doringboompie, nou verrese,
sy ware kleure in wese gewys.

Gesank teen wil en dank het politieke winters sy
kroon, naakbleek omring met die uitgestrekte vlaktes
van hul onlewensvatbare klagtes, kroonbedek
onder die magdom vlokkies van hul doodskleed;
het tosseltjies ys aan sy skouers gekleef; en spiraal
’n hartverskeurende komposisie bo die landskap uit.

nou lê my Volk in die lig en skadulyne
van die politieke seisoene
afgeëts in die uurglas van hoop …
————————–oo00oo———————-
©Pieter Mostert
(*Interteks uit Die Godsbesluit van Totius)




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed