My Weduwee-gebed
Dit is nie vir my moontlik om iets raak te sien, ‘n leemte raak te sien, en dit dan te ignoreer nie. Hierdie ding sal my gedagtes van vroeg tot laat ry en pla totdat ek iets daaraan gedoen het. Immers is dit ook hoe ‘n goeie entrepreneur se kop werk. Jy sien ‘n geleentheid raak en gryp dit met drie gretige hande aan. Daar is nie plek vir lang trane tjank as jy ‘n kans verspeel het nie.
Maar dit is nie altyd werksgeleenthede wat so verbyvaar nie, en toe daar baie onlangs ‘n nuwe weduwee in my gesigveld kom, sien ek hoe sy in haar hartseer sukkel, en wat sy alles doen om net nie alleen by die grafstil huis te wees nie. My verstand gee nie ‘n flenter om oor die hoeveelheid petrol wat sy uitry nie, maar my hart gee om omdat dit lyk asof sy bitter min ondersteuning kry. Dit is mos maar so dat jy jou ware vriende in tye van swaarkry en nood leer ken. Die’s wat agterbly, is die moeite werd om verder saam met jou op jou lewenspad te neem. Die res moet maar elders kuierplek gaan soek. Been there, done that & got an ugly t-shirt.
En so het ek toestemming gevra (en gekry) om ‘n ondersteuningsgroep vir hierdie mense (weduwees) met hul spesifieke behoeftes te begin. Dit is nou in ons plaaslike gemeente. Nog voor ek klaar gevra het, word ‘n lys van sestig name in my hand geprop. Sestig…. My asem slaan weg! En ek dog daar is miskien drie…
Sorgvuldig, en sodat ek nie ‘n fout maak nie, neem dit my die beste van ‘n paar uur om al hierdie nommers en inligting op my selfoon te laai. Ek dink ‘n gepasde naam uit, stig ‘n groep en stuur die uitnodiging en die gedagtes oor waarom ek dink dit is nodig dat hulle mekaar die hand sal reik. Kry klagtes oor die naam van die groep, herdink dit en verander die naam. ‘n Handjievol is opgewonde en stel dadelik belang. ‘n Paartjies verlaat die groep onmiddelik of vra dat ek hulle sal verwyder. Dit is OK – niemand word immers gedwing om deel te neem waar hulle nie gemaklik voel nie.
Twee dae later begin die kopkrap, want van hierdie sestig mense het minder as twintig oorgebly, maar sonder dat ek kennis gekry het dat hulle die groep verlaat. Eintlik verstaan ek dit steeds nie, maar ek moet uitvind wat en waarom en hoekom die mense net iewers heen verdwyn het. Ek stuur ‘n sms, maar ghee-wizzzzzzzzz – dit is sekerlik die meeste en suurste antwoorde wat ek in hierdie leeftyd in ‘n enkele uur ontvang het! Ek het werklik nie geweet dat ‘n mens in ‘n suurg@t verander wanneer jou man tot sterwe kom nie!
En ek begin die wysheid van my besluit ondersoek. Dalk was dit nie so ‘n lekker idee nie. Dalk moet ‘n mens maar hierdie mense los dat hulle in hul eie sous kan verdrink.
Dus, my aandgebed se deuntjie het intussen drasties na ‘n smeekgebed verander : “Here asseblief. Asseblief spaar tog net vir Hubby dat hy nie voor my sal doodgaan nie! Ek wil nóóit in my ganse lewe so ‘n galbitter en onaangename mens word nie.”
Is dít wat weduweeskap aan jou doen? Dat jy soet-skynheilig na kerk sal agterbly en rooibosteetjies by die toonbank sal gaan haal, maar moet my net nie vra om iemand nou-en-dan bietjie onder my vlerk te neem nie. Nog minder dat ek daardie persoon vir ‘n tydjie lank sal ondersteun en die dinge leer waarvan ek jare al kennis dra, en sy nog moet leer verstaan… En beslis nie ‘n sneesdoekie aangee nie!!!
Miskien (heel waarskynlik) sit ek die lewens-pot heeltemal mis. Al die jare nog dink en glo ek dat ons mekaar in liefde moet ondersteun en help. Ek sweer ek het dit al iewers in my Bybel gelees ook. Miskien het my Bybel ‘n ekstra hoofstuk in wat nie in die ander s’n verskyn nie. Dalk het my geestesoë gedink hulle lees so iets raak, maar wanneer ek dit met ‘n vergrootglas sal ondersoek, sal daar dalk staan : “Dit is beter om te haat as om liefde te betoon. Moet net nie by iemand in nood stilstaan nie.”
Hoe laat dit my nou dink aan die verhaal van die barmhartige Samaritaan? Dit lyk my dit is ‘n ou laai daardie om anderpad te kyk!
Maar, my agterendvelle hang nog aan die skool se draad, dus kan ‘n mens nie juis slimmigheid en goeie verstand vanuit hierdie oord verwag nie, en sommiges leer blykbaar héélwat stadiger as ander.
5 Kommentare
-
Anze
Ai Ano dis eintlik bitter hartseer! Ek persoonlik dink jou omgee verdien 'n medalje en NIE 'n afjak nie! Hoop die 20 wat oorgebly het waardeer jou omgee en ondersteuning!
-
Viooltjie
Dit is tog vreemd dat mense hul name opgee en dan agterna kop uittrek op 'n ongeskikte manier. Ek is ook heel verras dat daar aanvanklik 60 belangstellendes was. Dalk sal daar op die einde net 3 of 4 oorbly. Dit is dan dié wat werklik belangstel om deel van die projek te wees. Goed geskryf, Ano. ☺
-
Evelyn van der Merwe
Dalk is die handjievol wat oorbly se ware liefde en omgee meer werd as die 50+ wat oorbly en suurknolle is. Lekker gelees.
-
Kiekies
Jy sien, daar het ons dit weer.....wat jy saai, sal jy sowaar as wragtig maai.....en van daar due suurgatgeite. Liewer 'n fool maak in die probeer as 'n opportunity helemal mis. Welgedaan Ano......in jou probeer en in jou skryfsel!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels claasen
Ano stank vir dank is algemeen. Ek word net so vies as ek jets goeds probeer en dit word bevraagteken