ń Engel het ń veer laat val
Klara se foto val tussen die blaaie van die Bybel uit wanneer Johnna dit optel. Ag Here, hy mis die engel-kind van hom elke dag ’n klein bietjie meer en meer. Hoe kan iemand wat vir so lank deel van jou asemhaling was, ewe skielik net op een grou dag weg wees? Nadat hy vir die derde keer Psalm 23 probeer lees het – sonder om ’n enkele woord in te neem; sit hy die Bybel met ’n sug op die bedkassie neer en buk af om Klara se foto van die plankvloer af op te tel. Met sy vingerpunte maak hy sirkeltjies oor die voos gevatte stuk papier. Wat sou hy nie alles opgegee het om haar net vir een laaste keer weer teen sy lyf te kon vasdruk soos toe sy nog ’n kleuter was nie? Voordat hy die foto tussen die blaaie van sy Bybel terugplaas, druk hy oudergewoonte sy lippe teen Klara s’n op die koue fotopapier. Verbeel hy hom of ruik hy duidelik die duur You’re the fire parfuum wat hy verlede Kersfees vir haar met sy Krismis bonus gekoop het?
Skielik begin Sara langs hom te roer en steek haar arms na hom toe uit. “Nee man Johnna, dit is nog vroeg. Sit af die lig man,” mompel sy met ’n dik stem.
“Sorry, ek het net gou Bybel gelees,” antwoord Johnna bedeesd voordat hy die bedlampie afskakel en terug lê in die bed. Na ’n paar tellings skuif hy na Sara se kant toe en trek haar nader, sodat hulle nog ʼn klein bietjie kan lepel lê. Die reuk van appelsjampoe kielie sy neusgate wanneer hy sy voorkop in haar nekholte laat rus.
“Ek wens jy hoef nie vandag op daardie boot te geklim het nie Johnna . . .” laat Sara na ’n paar minute hoor, “. . . die huis is maar leeg sonder jou.”
Johnna voel hoe sy spiere weer verstyf. Was dit nie vir daardie boggerse Pieter wat sy kind vermoor het nie, sou Sara nie nou alleen by die huis hoef te gesit het nie. Plaas dat hy wat Johnna is daardie eerste dag wat Klara hom hier aangesleep het, sy keppie wat so oor sy slangagtige ogies geskuif was van sy kop afgeklap het. Maar nee, toe dog hy mos nee, fokus op die blinkheid in jou kind se oë en gee die klein maaifoedie ’n kans. As hy maar net geweet het wat se klein twak die mannetjie van die Baai is, het hy sowaar nie ge-worry oor die blink in Klara se oë nie. ’n Kind met dowwe oë, is beter as ’n kind met geen oë nie. Basta nou met jou Johnna! Betig hy homself. Hy is ’n kerkmens en ’n kerkmens durf nie sulke onheilsgedagtes lê en uitdink nie. ʼn Kerkmens of te not, enige mens het sy perke, verontskuldig hy homself. Hy trek sy asem diep in om sy emosies te probeer beteuel. Sara mag nie weet van die skommelinge in sy gemoed nie. ’n Man moet sterk wees. Hy het die afgelope ses maande genoeg voor haar geween en gerumoer. Dit is nou tyd dat hy die rots word waarop sy vrou kan staatmaak. Hy het nie verniet destyds voor die preekstoel belowe dat hy vir Sara sal dra deur enige donker tye nie. “Toemaar vrou, een en twintig dae is voordat jy jou oë uitvee verby. Ek wil ook nie nou van jou af weggaan nie, maar die tjokka seisoen het oopgemaak en ons moet nou skep terwyl daar te skeppe is. Ek het vir die liewe Vader belowe ek sal vir jou sôre en dit is wat ek sal doen.”
“Ja, dit is so my man . . .” antwoord Sara half afgestomp en wriemel onder Johnna se hande uit, “. . . jy het weer aan daardie man gedink nè?”
“Hoe weet jy?”
“Jou lyftaal vertel dit alles. Johnna, jy weet hoe lief ek vir Klara is . . . was . . . maar jy sal moet aanbeweeg my man. As die haat jou eers kom vang en ’n kors gevorm het, is dit net so goed jy sit soos Jona, vasgevang in ’n walvis se maag. Ontsnap, sal jy nie sommer weer nie.”
Klop. Kap die koffiebeker wanneer Johnna dit op die houttafel neersit. Hy proe-proe met sy tong in sy mond. Dit smaak vrank. Die Vader alleen weet, al is Sara die beste koffiemaker in die hele wêreld, sal sy gunsteling drinkding nooit weer dieselfde smaak nadat hy daardie oggend vir Klara half-blou en leweloos in die kombuis aangetref het nie. Johnna loer by die venster uit. Dit lyk maar half trietsig buitekant met die palmboom wat se bruin herfsblare so koponderstebo na die grond toe hang. Hy het sowaar nie nou lus om van hierdie stoel af op te staan en die snoesigheid van hulle huisie te verlaat nie, maar die half versteekte sonnetjie trek hoeka al water en die Denjovin wag nie vir die bemanning nie. As jy laat is, gaan jy nie saam uit op die see nie en dan is die koebaai vir enige kwota geld. Johnna sug en begin sy stoel agteruit te skyf. Op daardie presiese oomblik vang sy oog iets wit in die lug. Dit dwarrel-dwarrel en land reg langs die koffiebeker op die tafel. Wat? Waar sal die veer nou vandaan kom? Seker maar by die venster ingewaai. Verbeel hy hom of ruik hy al weer die You’re the fire parfuum?’
“Kyk, ’n engel het ’n veer laat val my man. Dit beteken good luck,” babbel Sara skielik hier langs hom, terwyl sy vooroor buk om die aller-witste veer op te tel. Vir die eerste keer vandat hulle die kluite op Klara se kis gegooi het, is daar weer ’n sprankel in sy vrou se oë. Daarom knik Johnna bevestigend, al maak sy maag ’n draai. Sy ouma het ’n heel ander teorie gehad oor wat dit beteken as ’n engel ’n veer laat val. Johnna trek sy skouers regop. Gelukkig is hy nie ’n bygelowige man nie.
Sara se asemhaling klink ietwat onreëlmatig wanneer hy haar net ’n klein bietjie langer as gewoonlik omhels. Voel sy dalk ook die onheil aan, wat ewe skielik in sy gebeentes begin te timmer het? Nadat hy vir oulaas ’n soentjie op Sara se wang geplant het, stap hy uit en laat knip die voordeur agter hom toe. Terwyl hy vir die bakkie wat die bemanning moet kom optel, wag wonder hy hoeveel nuwe manne die keer saamgaan op die see. Hopelik is daar nie weer laaities van die Baai af nie. Die Baai se ouens is windgat en vol van hulle self. ʼn Mens kan hulle mos niks leer nie.
Johnna is besig om sy tas in die Denjovin se kajuit te bêre wanneer hy die skuifel stap agter hom hoor en omdraai. “Flippet! rol die vloekwoord oor sy lippe wanneer hy die persoon agter hom eien. Die klein helsim het sowaar dieselfde blou kep op sy kop as wat hy daardie dag gedra het, toe hy wat Johnna is hom by Klara se begrafnis weggejaag het. “Wat de ongeluk soek jy hier?” bulder Johnna.
“Sorry oom, ek kom sit net my sak in die kajuit.” Pieter beduie na ’n toksak wat langs hom op die vloer staan.
Johnna tree vorentoe en druk sy vinger onder Pieter se ken. “Ek weet nie wat jy op hierdie boot soek nie, maar voor die son vandag sak, gaan jy haaikos wees. So laat ek, Johnna Verhoef, nie vir my tart nie.”
Pieter kyk grond toe. “. . . Asseblief oom . . . Ek het juis aansoek gedoen om op die Dejavon te kan kom squid vang, sodat ek kan probeer regmaak met oom.”
Johnna voel hoe die woede in sy are kook, vandag moet hy kophou. Kerkman of te nie, hy is naby aan moord pleeg. “Luister nou vir my en luister nou baie mooi. Niks wat jy doen, kan dinge regmaak nie. Ek stel voor, jy vat jou sak en gaan slaap op die dek.”
Pieter haal die keps van sy kop af.
“Boggerof,” bulder Johnna en gryp die mannetjie aan sy kraag.
Pieter ruk los onder Johnna se greep. Die kajuit trappe kraak onder sy voete wanneer hy boontoe hardloop.
Johnna het pas sy vier handlyne in die water gegooi wanneer Pieter langs hom kom sit. Hy byt op sy winkeltande wanneer die mannetjie vier handlyne laat sak. Liewe Vader van genade, die mannetjie is nog meer vermetel as wat hy gedink het. Dit vat ’n geoefende hand om met vier lyne gelyk te vang. “Twee dinge . . . Vir wat kom sit jy hier langs my? Wil jy graag visaas word? En hoekom probeer jy met vier lyne vang? As jou lyne met myne knoop neuk ek vandag vir jou.”
Pieter skuif ongemaklik rond. “Oom asseblief, ek het spesiaal aansoek gedoen om op die Denjovin te kom vang toe ek hoor oom is op die bemannigslys. Ek moet met oom praat en toe ek nie vir oom op die land in die hande kan kry nie toe dog ek so by myself. Oom kan nie my die hele tyd ignoreer op see nie. Confined spaces oom weet?”
Johnna voel hoe die haartjies op sy arms begin regop staan. Genade, maar die mannetjie is domastrant. Vir wat kan hy nie net vir hom wat Johnna is uitlos nie? Daar is niks te prate tussen hulle nie. “Pieter, pleks het jy gedink aan praat voordat jy my dogter loop op die paal sit het,” bulder hy en trek sy lyne uit. Met ’n behendige hand haak hy die tjokka af en laat sak die lyne weer in die water.
“Ek het haar lief gehad Oom.”
Johnna maak pruim bewegings met sy mond en antwoord dan moeisaam: “Lief gehad? Sit liefde miskien in ’n man se broek? Vermoor ʼn mens iemand vir wie jy lief is?”
“Oom asseblief, ek het nie vir Klara vermoor nie.”
Johnna trek sy lyne op en gooi dit net so neer op die dek. Voordat Pieter kan keer sluit Johnna se vingers om sy nek. “Jy en jou gulp wat jy nie kon ophou nie, het my dogter vermoor! As ek my sonde nie ontsien nie, haak ek jou soos ’n vis aan ’n hoek en laat jou op die dek lê totdat jou katoolsheid saam met jou bloed by jou lyf uitgeloop het. Laat ek jou ly net soos wat jy vir Klara laat ly het!”
Pieter gooi sy hande in die lug op: “Oom en die tannie is net so responsible vir haar dood soos ek! Klara het geweet julle keur my nie goed nie. Toe sy uitvind sy is preggies, was haar grootste vrees wat julle reaksie sou wees.”
“En toe, toe vat jy die hasepad en los my dogter om alleen julle kastaiings uit die vuur te grou?” bulder Johnna.
Pieter knik: “Ja, oom toe gedra ek my net soos ’n luis en loop. Ek was ook maar bang gewees, oom weet . . .” Pieter sit sy hand op Johnna se skouer en vervolg: “. . . Oom moet my glo, ek was op pad na oom-hulle se huis om te kom regmaak toe die tyding deurkom. Ek weet dit is my skuld dat Klara daardie tou om haar nek gebind het en gespring het. As daar net iets was om die tyd te kon terugdraai sou ek . . .” Rou snikke ruk deur Pieter se lyf: “. . . asseblief Oom, vergewe my.”
Sonder om ’n woord te sê staan Johnna op en loop na die kajuit. Kwotas se gaai. Hy is nou te kwaad om een enkele lyn te laat sak.
Sjoer! Sjoer! Klap! Johnna word gewek deur die geluid van brekende branders, kiste wat rol, boeke wat deur die lug trek en die geskreeu van die bemanningslede. Hy val onmiddellik om wanneer hy probeer regop kom in die bed en hy kruip hande-viervoet by die lakens uit. Met ’n ystere wilsinspanning vorder hy tot op die dek. Die branders slaan omtrent drie meter hoog oor die boot en die bemanning skarrel rond net soos nat rotte tussen die sif reën van water. “Here, vandag moet U ons genadig wees!” Skree-bid Johnna hardop. Net die genade van bo, kan keer dat die grote Denjovin nie vandag sink nie. Johnna se vingers span styf om die dek tou, maar in die geroesemoes van armswaaiende bemanningslede verloor hy sy houvas en wanneer die Denjovin weer gevaarlik kantel stort hy oorboord sonder dat hy tyd gehad het om ’n veiligheidsbaadjie aan te trek. Uit die hoek van sy oog, sien hy hoe van die ander bemanningslede ook oorboord tuimel. Die ysigheid van die water laat hom momenteel na asem snak en sonder dat hy dit kan verhoed begin hy water te sluk. Tussen die skuimborrels en verrotte seegras, verbeel hy hom die seeskuim is van vere gemaak. Hou net kop Johnna, hou net kop, probeer hy homself moed inpraat terwyl die souterige seewater hul pad na sy longe oop baklei. Net wanneer hy dink dit is die einde, sien hy die noodbootjie en hy begin met bewerige hale swem om by die dobberende stuk rubber uit te kom. Die noodbootjie is skaars ’n armlengte van Johnna af, wanneer hy uit die hoek van sy ook ’n spartelende figuur in die kolkende watermassa gewaar. Die persoon is duidelik in erge lewensnood. Vir ’n oomblik of twee flits die gedagtes deur Johnna se adrenalien gevulde brein. Sal hy help of nie? Aan die een kant weet hy wat die regte ding is om te doen, maar beskik hy oor die nodige krag om iemand anders ook te probeer red? Is hy nie self te naby aan verdrink nie? Asof outomaties, verander hy van koers om die persoon te gaan help. Johnna eien onmiddellik die drenkeling, wanneer hy hom om sy middellyf beet kry en begin nader trek. Dit is sowaar Pieter. Vir ’n oomblik worstel hy met die versoeking om sy hand van Pieter af weg te ruk, maar dan neem hy die besluit . . .
“Kalmeer ou seun, kalmeer, ek sal jou by die noodboot kry,” proes hy tussen die waterslukke deur.
Johnna voel hoedat die laaste bietjie krag sy liggaam verlaat wanneer Pieter eenstryk deurspartel.
Net wanneer die noodboot byna-byna binne bereik is, voel Johnna hoe sy kuit op ’n kramp trek. Met sy laaste bietjie krag, stoot hy vir Pieter vorentoe na veiligheid toe. “Ek vergewe jou,” is Johnna se laaste woorde voordat hy hom aan die krag van die see oorgee. Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie, eggo Psalm 23 deur sy benewelde verstand en hy voel ’n vreemde berusting oor sy binneste spoel.
Die volgende oomblik sien hy vir Karla uit ’n brander verrys. Sy is selfs mooier as wat hy haar kan onthou met haar hare wat net soos ’n maangodin s’n om haar kop dans. Meteens sypel die laaste bietjie weerstand by Johnna se tam gevegte ledemate uit en hy voel hoe ’n diep rustigheid sy hele wese vul. Die reuk van You’re the fire parfuum hang swaar in die lug wanneer hy op ’n see van engel-vere in Klara se oopgevlerkte arms spoel.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Carla Visser
Goeiste Antoinette, ek het nou lekker gelees. Skoon 'n knop in my keel gekry