
Net ‘n Klein Bietjie Stapelgek
(Woordtelling : 1086)
Ek is ten volle bewus van die feit dat ek myself nou vinnig onder die spervuur mag bevind, maar tog kan ek nie die stroom gedagtes en vrae keer nie. En een manier om sin daarvan te maak, is om dit op papier uit te sorteer.
‘n Waarheid wat ek nie kan ignoreer nie, is dat geestesongesteldhede in my voorgeslagte nie net ‘n mite is nie. Dit mag wees dat ekself ook deurloop en totaal en al onbewus daarvan is. Juis daarom vind ek geestesgesondheid uiters fassinerend, hoe en waarom die mens op ʼn bepaalde wyse dink en optree. Wat maak ‘n mens die ingewikkelde wese wat hy is?
My pa het in sy latere jare aan vervolgingswaan en paranoia gely. Hy het hoog en laag gesweer dat die bure hul telefoongesprekke afluister en op hulle spioeneer. Doodgewone, goeie belastingbetalende pensionarisse. Wie op dees aarde sou belangstel in die oppervlakkige gesprekke wat die oumense met hulle kinders en vriende oor die foon voer? Niemand het vir ʼn geheime regeringsagentskap gewerk en weke of maande lank sonder kontak iewers heen verdwyn nie. Soms het hy snags op die rusbank gesit met sy rewolwer in sy skoot, gewag dat iemand ongenooid die erf sou betree. Die koue rillings hardloop nog steeds oor my lyf wanneer hierdie herinneringe ongevraagd opduik.
Ten minste twee van my sibbe se rooibloedselle word gevoed deur samesweringsteorieë, en die derde is halfpad daar. As ʼn SMS of Whatsapp verbykom wat (geheime) inligting bevat en dringend aan elke persoon in jou adresboekie gestuur moet word, sal ek verseker ook daarvan te hore kom. Sug. Ons is nou al hoeveel keer deur hierdie rondomtalie en dit word net nie makliker nie. En ek sweer hoe ouer hulle word, hoe erger word dit. Heel dikwels moet ek elke gram geduld en grasie inspan om nie met ʼn rol doringdraad en al in iemand se keel af te klim nie. Ek is glad nie onbewus daarvan dat ek meermale heeltemal té reguit en eerlik kan wees nie, veral wanneer die geïrriteerdheid soos lood in my are brand. Die gevolg is gewoonlik dan ʼn vurige woordewisseling en ʼn dawerende stilte wat gewoonlik ʼn paar weke (of jare) kan duur.
Maar so het ek vanoggend op Facebook gelees dat daar drie skole in ons onmiddellike omgewing gesluit mag word weens ʼn Covid-uitbreking. En natuurlik het daar ʼn hele string opmerkings gevolg dat Covid net ʼn klug is. Dit bestaan nie. Maar nou ja, as dit dan nie bestaan nie, hoekom het ses van ons vriende en kennisse sommer in ʼn kort tydjie die een na die ander doodneergeslaan, sommige so jonk as in hul vroeë dertigs? As Covid dan nie ʼn werklikheid is nie, noem dit Griep nr.123 vir al wat ek omgee, maar dit kan nie weggepraat word dat daar ʼn siekte onder ons maai, maklik versprei, en mense soos siek vlieë laat doodgaan nie.
So begin my oppervlakkige studie na mense wat glo dat sommige gebeure net nie bestaan nie, maak nie saak watter bewyse jy kan voorlê nie. Die aarde is inderdaad rond, die maanlanding was rêrig, die poging om die Jode uit te wis het verseker gebeur. En Covid is ʼn werklikheid. Wat nogal interessant is, is dat hierdie samesweringsteorieë en die mense wat daaraan glo, eers in die laaste dertig jaar werklik na vore gekom het. Alhoewel daar nog altyd sulke mense tussen ons gewoon het, het die koms van die internet net ʼn groter kollig daarop gewerp. Die plekke om weg te kruip word al hoe minder. Tensy jy jou mond op sosiale media toehou, en nie stories versprei wat soms met ʼn hele sak sout geneem moet word nie, gaan ander gou agterkom dat daar ʼn skroefie of twee in die donker uitgeval het. As hulle dit nie agterkom nie en net saamstem, sal ek sing, “Another one bites the dust. Another one bites the dust oww. And another bites the dust hey hey. Another one bites the dust eh eh.”
ʼn Persoon se persoonlikheid is ʼn kombinasie van gedagtes, emosies en gedrag wat uniek aan elke persoon is. Jou persoonlikheid word ook in jou kinderdae gevorm alhoewel dit iewers kan “skeefloop” en jy skisotipiese persoonlikheidsteuring kan ontwikkel. Dit moet nie verwar word met skisofrenie nie, alhoewel daar ʼn verband mag wees. Hierdie versteuring beïnvloed jou breinfunksie, en afhangende van jou genetika en aangeleerde gedrag, sal dit ʼn groter of kleiner invloed op jou denke, en verwerking van inligting, hê.
ʼn Persoon wat skisotipiese persoonlikheidsteuring ontwikkel is geneig om baie impulsief te wees en absoluut enigiets te glo sonder om die feite na te gaan. Daar is geen pouse om eers inligting te analiseer en dit eers bietjie te ontleed nie. Jy mors jou asem om so ʼn persoon te probeer oortuig dat ʼn sekere idee dalk nie heeltemal die waarheid mag wees nie. Facebook en die internet se algoritmes versterk net hierdie belaglikheid. AI (artificial intelligence) is intelligent genoeg om net inligting aan jou te stuur wat ooreenstem met die sleutelwoorde wat jy in jou aanlyn-soektogte gebruik. So, maak nie saak of jy ʼn saak linksom of regsom glo nie, jy sal inligting kry om dit te staaf.
Stephan Lewandowsky het gevind dat mense wat aan samesweringsteorieë glo, ook dikwels aan angstigheid lei, antagonistiese gedrag toon, verhewe bo ander voel, hetsy liggaamlik of geestelik, en hul omgewing as onveilig ervaar. Daar is letterlik ‘n dreigement in elke situasie. Hulle het ook die neiging om ander vir hul probleme te blameer en neem nie sommer verantwoordelikheid vir hul optrede nie. Egotisme, paranoia, manipulerende gedrag, en eksentrieke gewoontes is ook hoog op die lys. Groepsdruk en die mense met wie jy assosieer speel ook ʼn groot rol. Dit is egter onwaar dat sulke persone geestelik onstabiel is of nie baie intelligent is nie. Inteendeel, baie mense wat samesweringsteorieë aanhang is intelligent en het ‘n goeie werk, maar ervaar ʼn diepliggende gebrek aan vervulling en probeer sin maak van hul rol en waarde in die groter samelewing.
Dit word al hoe duideliker dat die meerderheid mense heel waarskynlik op een of ander manier effens van lootjie getik is. Hoe meer tyd jy saam met ander deurbring, word dit meer sigbaar. Dit is heel waarskynlik waarom ek my vreemde idees vir myself hou. Ek wil darem nie hê dat ander hul kop so skuins sal draai en ʼn frons tussen die oë kry wanneer hulle probeer sin maak van my bewerings dat een-horing-perdjies snags oor ons dak spring en reënbogies laat ontplof nie!
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2023 – Veldslag projek