Korporaal Mielie 420 Woorde Goud
Mielie, genade alleen weet waarom hierdie bynaam. Vra sal ek liewer nie. Drogbeelde van groen blare en geel hare stoei deur die grysstof van my brein. Glo dit of nie, Mielie was op sy tyd ‘n PTI. Nee, nie soos in Magnum PI nie, soos in ‘physical training instructor’. Liggaamlike opvoedings instrukteur – of so iets. Hy was die Korporaal wat al die troepe op die veld rondgejaag het. Hy het al van skooldae af rugby gespeel en was super fiks. Selfs vir die comrades gekwalifiseer.
Nou sien, hier is waar Mielie ‘n paar blare verloor het. Mielie is ‘n lenige 6 voet iets, brons gebak met ‘n wilde blonde kuif en blouste blou oë. Spiere wat span onder ‘n help-my-sterk-lyk hempie, en spanbroekie wat soos ‘n tweede vel op al die regte plekke… wel… span. Met sy oë was daar niks verkeerd nie. Mielie kon ‘n jong wildsbokkie op ‘n myl en ‘n half agter ‘n doringbos uitken. Dit was naweekpas uittree parade. Mielie het sopas sy troepe ‘n aksievolle naweek toegewens. Sy sonbril gly op die sweetkolletjie bokant sy neus. Hy skakel oor in ‘n drafstap om onder die koele lafenis van die baraks se afdak in te kom. Hy moet voor die damesoffisiere se kwartiere verbydraf. Die donkerbril is net donker genoeg sodat Mielie, sonder uitvang, na die bruingebrande bene van die jong troepies kan staar. En Mielie staar! Die wildsbokkie se rokkie bedek net die nodigste en die bene maak beloftes wat Mielie se ore laat tuit. Die klein ritsluiter in die rompie het boonop nog ‘n paar sentimeter opgeskuif en Mielie moet mooi trap toe hy dit opmerk. Mielie glimlag sy mooiste mooi in die rigting van die bokkie, trek sy skouers terug, verander van drafstap na ‘n vinnige loop en net daar maak hy sy grootste fout. My pa het altyd gesê “kyk waar jy loop, moenie loop waar jy kyk nie”. Mielie loop waar hy kyk. Sy paar dertien tekkies vou onder hom in. Die pad had ‘n groter sloot. Oopgevlek soos ‘n afgeslagte konyn, been teen die teer. Ego gekneus, spring Mielie regop en glimlag skaapagtig in bokkie se rigting. Dan slaan hy neer. Sy enkel was af! Morsaf, gekneus, bebloed en stukkend. Bokkie verdwyn saam met Mielie se Comrades droom om die hoek van die barakke. ‘n Ritsluiter en ‘n paar bene het Mielie sy hardloop loopbaan gekos. Gelukkig kon die voet genees en kan Mielie nogsteeds ‘n bokkie op ‘n myl uitken; al streep die sout en peper al deur haar hare.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek