Anti-Erns Neanderdaller Teorie
529 woorde Brons Kategorie
Die Neanderdal Anti-Erns teorie
Jy weet, ek glo nie aan die ewolusie teorie nie vir verskeie redes. Buiten vir die waarheid dat onse Vader ons algar spesiaal opgedroom het as Sy kinders, sien ek die absurdheid daarvan om te dink dat ek ‘n verlore ruimte kiem was wat per abuis kaboem gegaan het en toe eendag, walla, klim ‘n mens uit ‘n aap se vel en sê :”cogito ergo sum” (I think therefore I am). Ek dink nie so nie.. Van my mede ape besluit toe maar om ape te bly (wat ‘n slimmer besluit sou wees siende die stand van sake), en woon nou in die dieretuin en ek in my huisie vol Genade. Regtig egtig Boggoms?
Ek was beslis ook nie ‘n oermens wat geluide gemaak het en hande viervoet oor ‘n berg is nie. Tsk tsk.. Verbeel jou met my ronde gestoeltes oor ‘n berg én die gesig ten aanskoue van al my mede bobjane… Oeee nee… Dan sou hul almal onmiddellik in grootoog nagapies verander het wat heeltyds skuilplek soek teen die bose. Diagnose : permanente traumatisasie. Rede: Kim Kardashian het evolusioneer. Groot groot agterstand…
Hoe verder ek aan die kiem, aap-kawalla-mens-makery dink hoe méér en hoe minder lag ek. Hoe tragies om te dink dat sommiges deur die lewe gaan denkend dat hul ongelukke was. Hoe hartseer om sonder God se skeppingshand te leef. Buiten ape, het Neanderdallers het ook nie bestaan nie.
So gaan my gedagtes na ou Aristoteles en sy mede wysgere. En ek weet. Enige iemand met ‘n halwe brein sal die moderne menslike plastiek kondisie beslis probeer vermy. As Neanderdallers bestaan het en as ek een van hulle was sou ons net so gebly het. Laggend en lewend. Neanders vir altyd!
Wie in sy regsdenkende kwart ontwikkelde brein wil ‘n sterbestrooide, maanligsalige kampvuur kuier verruil vir probleme op die effektebeurs. Vir huispaaiemente en krakende mure. Vir geraas en geroetsel en seermaak spykerhakke. Vir die pyn van dink en verlatenheid. Wie wil die Gloriewerk van God verruil vir plastiek?
Plastiek tye smelt wanneer die vuur kom. Poele plastiek wat jou Godverlate laat voel. Nie eers ‘n potskerf wat oorbly nie. Net angs wat jy kan hoor in jou asem wat nie wil in nie. Dan sal selfs ‘n Neanderdal aap se geselskap triomfeer bo die kakofonie van stilte wat donder in jou leë hart in ‘n modern wêreld vol klinkende simbale.
Dan wens jy jy was ‘n Neanderdaller. As ‘n vuur kom is daar geen plastiek om te smelt. Net die warmte wat dit bring. Net ‘n beskermende kring wat ondiere verjaag. Net ‘n sitplek in ‘n kring waar jy deel is van. Oer instinkte. Real ones. Geen taal. Geen trane. Dus geen denke wat jou opvreet soos ‘n meelwurm nie. Niks. Net vlamme wat dans in jou grot. Prentjies in ink om te wys jy was hier.
My konklusie is dus dat aapmense beslis nie my voorgangers was nie. As ons was, sou my bloedlyn slim genoeg gewees het om net so te bly. Vergenoeg. Geluksalig. Vry. Dansend om die vuur..
Ek gaan vandag spesiaal doopkoek saamneem dieretuin toe. Sien jy die Genade?
Sapere Aude
net kulu
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 - OOP projek