
Net voordat ek gaan
Net voordat ek gaan
Hier lê die wêreld nat –
deurweek met water
en wolke trop
soos witwollammers teen die blou.
Ek vertel dit net vir jou
al vrees ek, verhale oor die weer
kan soms verveel;
ek en jy kon nog altyd
die son en wind en reënval deel.
Ek vind dit vreemd hoe stilte werk;
ek’s half bewus van motors in die strate
wat sonder ophou raas,
maar ek voel so heel
van alle klank verlate
en tóg, as ek terugdink oor die jare
klank jou stem in my geheue op
– jou lag, jou blydskap,
jou kwaad en jou frustrasie.
So is die lewe maar
“plain sailing” – wat is dit?
‘n Strik gestel net voor
die felle waarheid
aan jou hart kom ruk.
Soms voel dit asof niks
ooit weer reg sal wees nie.
Jy ken my klip waaroor ek struikel.
Jy ken my krans waaroor ek val;
ek dink jy ken my berg se naam.
Maar net voordat ek gaan
(en ek hoop dat jy verstaan)
my lippe wou nog altyd
wolwitlammers in jou spreek
en met my twee sagte hande
wou ek soms
die yster in jou breek.
© Carma Shaw
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.