Nuwe hoop
Daar is min dinge so vaal soos die Vrystaat se Winters, alles is tydelik net eenvoudig dood en ‘n mens sukkel dat jou binneste nie ook so vervaal en verlep nie. Om alles te kroon kom Augustus se wind en waai al wat dood is rond, en dit wat die wind nie in die huis in bring nie, maak die troeteldiere seker hulle bring hulle kant.
Dan kom liewe September met haar nuwe hoop. Klein, helder groen blare loop uit, die Perskebome se bloeisels laat ‘n gevoel van varsheid in mens se gestel. Die dorre, lewelose, kleurlose omgewing draai 360° terug na hoop en ‘n nuwe begin toe en dit laat my dink aan die September van ons eie lewe.
In elkeen van ons lewens is daar vaal en sommer net gagga oomblikke, maar daar is altyd die hoop van ‘n September. Daar is altyd hoop van ‘n nuwe, vars begin waar daar weer vrolikheid en lewenslus sal wees. Gebeurtenisse so kleurvol dat dit jou sal laat vergeet van die tyd van grys en donker.
As jy, soos ek, huidiglik in jou Winter is, hou vas aan die vooruitsig van jou Lente, jou September.
woorde: 194
Jackie de Klerk
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.