Oktober se blomme mooi
Oktober maand, Oktober maand
dink ek my nou aan Leipoldt terug
sien ek jou mooiste mooi teen die bloue lug
as Jakaranda’s staan in hul perste-pers
O’Leipoldt, dis jou Oktober maand die
want al die blomme en heides dans
ʼn wals, ʼn wals met reën se kos’bre seën
is die velde vrolik en die volkies sing
Oktober maand, Oktober maand
hoor jy die donderweer sy trommels slaan
en klingel hy sy krale oor berge en dale
en rinkel hy sy vingers oor die vlaktes se stiltes
… die stiltes duskant Wupperthal
waar jou voete vasgevang is met leiklip en sand
en jou grafskrif lê in muur se hand,
C.L. Leipoldt en jaargetal
sien jy nog die diere dans
wanneer reën sy vaal karos
tot teen jou klipkop gooi
en wind ʼn saadjie verloor
om vir jou viooltjies te groei
met die volgende Oktober maand
© Cornien Naudé
31 Oktober 2022
3 Kommentare
-
Koos Elsum
Ek dans saam in jou gedig met Leipoldt dankie
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2022 Liriese projek