Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Ons moes nie met Ta’ Anna gaan praat het nie

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 28 Julie 2021 Aantal woorde: 3177 97 Kere gelees 3

Ek het grootgeword in ‘n klein dorpie in die Noord-Kaap. Postmasburg. Jy’t waarskynlik al van die plek gehoor, maar gaan waarskynlik nie op ‘n kaart kan wys waar die dorpie is nie. Dis maar net nog ‘n dorpie in die middel van niks en nêrens, met ‘n kerk en vyf drankwinkels. Een van daai dorpies wat jy wonder hoekom enigiemand daar sal wil bly of wat die mense heeldag doen.
Ek het die plek gehaat. Daar was vele redes om die plek te haat. Bitter min kinders van my ouderdom, so, bitter min vriende. Niks om te doen nie. Maar die ergste was die koue. In die winters het die koue oor die dorpie neergesak, klaarblyklik met die uitsluitlike doel om alles te verkluim en dood te maak. Dit was ‘n ander soort koue. Dit het ingedring tot op die been, en geen hoeveelheid truie of frokkies kon die koue verdryf nie.

As mens in ag neem dat die dorpie se mense almal tipies konserwatiewe Christene was, was die feit dat hulle Ta’ Anna geglo het eintlik vreemd. Ta’ Anna Kuiper het in haar eenvoudige huisie so kilometer uit die dorp gebly. Haar bekendheid was egter nie te danke aan die feit dat sy familie van die rolprentster, Dawid Kuiper was nie, maar die feit dat sy ‘n siener was. Of dalk ‘n waarsegster? Ek weet nie regtig wat sy was nie, maar sy het dinge geweet wat sy onmoontlik nie sommer net kon “weet” nie. Soos as ‘n lammer van ‘n boer weggeraak het, dan sou sy die boer presies kon sê waar om te gaan soek. Of as jy wou weet wanneer die reën kom sodat jy betyds kon plant, dan het jy Ta’ Anna gaan sien. Daar was selfs mense wat haar gaan sien het om te weet wat die toekoms vir hulle inhou. Ek het myself egter as “ingelig” beskou en glad nie in dié bygelowige stories geglo nie. Seker maar omdat ek, uit verveeldheid, my dae in die biblioteek vertoef het. Ek was welbelese; in my opinie.

Ek gaan egter lieg as ek sê ek was nie nuuskierig nie. Ook maar net kind. Dit het dus nie veel oortuiging van my vriendin, Francis, geneem dat ek saam met haar na Ta’ Anna toe moes gaan nie. Tussen die twee van ons kon ons ‘n volle vyf Rand bymekaarskraap, as betaling vir Ta’ Anna se tyd. Niks in die lewe is mos verniet nie. So het ons op die afgesproke dag die pad te voet aangedurf, na Ta’ Anna se huis toe. Alhoewel die huis klein, en onindrukwekkend was, was daar iets vreesaanjaend aan die plekkie. Dalk net die idee van wat moontlik daar binne aan die gang was. Ons het eers lank voor die tuinhekkie gestaan en mekaar moed ingepraat, voordat ons uiteindelik tot by die voordeur gestap het. Voordat ek aan die deur kon klop, het die deur oopgevlieg en ek het probeer om met alle mag weg te hardloop, maar my bene het geweier om my instruksies te volg. Toe ek die toneel egter inneem, verdwyn alle vrees. Ta’ Anna was ‘n klein verrimpelde vrou, met ‘n breë tandlose glimlag. Presies soos wat jy ‘n Khoi-San vrou sou voorstel wat 100 jaar oud is. Of dalk eerder 200 jaar oud.
“Ons wil hoor wat Ta’ Anna te sê het. Oor óns… Die toekoms…”, het Francis probeer verduidelik wat ons daar soek, en sommer die vyf Rand in kleingeld voor haar uitgehou.
Ta’ Anna het die geld opgeraap – vinniger as wat mens verwag van so ou tante – die munte in haar toe hand geskud langs haar oor. Sy het tevrede geglimlag en haar hand met die geld in het voor in haar voorskoot verdwyn, terwyl sy met die ander hand beduie het dat ons haar moet volg. Ons het haar agterdogtig gevolg tot in die eetkamer. Die vertrek was half teleurstellend. Ek het ‘n kristalbal, bolle wierook, diere se organe in bottels en dalk ‘n opgestopte bokkop verwag. Dalk ‘n teken van die duiwel iewers teen die muur. Maar die vertrek was soos enige ouma se eetkamer. Vol doilies, lelike glas vrugtebakke en dosyne porselein standbeeldjies van kinders wat visvang en verliefde jong paartjies wat diep in mekaar se oë staar.

Sy het by die tafel gaan sit, en ons het haar voorbeeld gevolg.
“Vra.”, het sy sonder onnodige kletspraatjies gesê.
“Met wie gaan ek trou?”, het Francis sonder om daaroor te dink, gevra.
Ta’ Anna het haar oë toegemaak en so met toe oë en al, met ‘n krom wysvinger aan Francis se voorkop geraak. Byna onmiddellik het sy haar oë weer oopgemaak en gesê, “Gideon Wolmarans.” So al asof dit vanselfsprekend was.
“Gideon Wolmarans. Gideon. Wolmarans.” het Francis die naam oor en oor gefluister, asof dit woorde was wat lekker sê.
Toe Francis uiteindelik stil word, het ek vir ‘n oomblik gedink, maar niks interessant het by my opgekom nie.
“Vertel my enige iets van my toekoms.”, het ek uiteindelik gesê.
Weer het sy haar oë toegemaak en haar vinger teen my voorkop, reg bo my neus, gedruk. Sy het lank stilgebly, en dit het naderhand begin voel of haar vinger my brand. Ek het probeer wegtrek, maar dit was asof haar vinger aan my voorkop vasgegom was.
Skielik het sy haar hand weggeruk asof sy gebrand het, en geprewel, “Hy gaan jou doodmaak.”
My oë was soos pierings en het net groter gerek soos wat sy aanhou praat het.
“Hy werp sy vel af voor hy jou doodmaak.”
“Hy maak sy kloue skerp voor hy jou doodmaak.”
“Hy was die bloed van sy hande voor hy jou doodmaak.”
“Jy gaan nie die eerste een wees nie. Jy gaan nie die laaste een wees nie. Jy gaan hom nie sien kom nie.”
Uiteindelik was daar stilte. Ta’ Anna het net so verstom gelyk as wat ek en Francis gelyk het. Ta’ Anna het skielik bang gelyk, soos ‘n kind wat besig was om kwaad te doen, en uitgevang is.
“Vat dit terug. Dis nie reg nie…”, het sy na nog ‘n ongemaklike stilte gesê en die hoop munte wat ons haar gegee het, op die tafel neergesit en bygevoeg, “Gaan net. Asseblief.”
Ek en Francis het ons nie twee keer laat nooi nie. Ek het die munte opgeraap, en al het daar ‘n paar geval het ons uit die huisie gevlug en die stofpad afgehardloop, totdat die moegheid ons ingehaal het. Ons het uitasem na mekaar gestaar, toe bars ek uit van die lag.
“Die mal vrou!”, is al wat ek kon uitkry tussendeur die gesnak na asem.
“Gideon Wolmarans…”, het Francis geantwoord.
Ons het al giggelend die pad terug dorp toe aangepak. Vir weke daarna het ons laggende oor ons avontuur gepraat. Maar my lag was bietjie aangeplak. Of seker baie aangeplak. In my agterkop het die woorde bly draai: “Hy gaan jou doodmaak.”

Ek het nooit vir iemand anders vertel van ons ervaring en die ou vrou se woorde nie. Ek het begin om konstant, senuweeagtig oor my skouer te kyk. Ek het dit vermy om snags buite te wees. Voor ek gaan slaap het, het ek noukeurig onder my bed en in my hangkas gekyk vir… Ek was nie seker waarvoor ek bang was nie.
Hy werp sy vel af.” Was dit dalk ‘n slang? Sou ‘n slang my pik? “Hy maak sy kloue skerp.” Nee, ‘n slang het nie kloue nie. Watter ander dier vervel of verloor sy vel?
Dag in en dag uit het Ta’ Anna se woorde in my kop weerklink. Vrae en nog meer vrae is al wat gevolg het. Op ‘n stadium het ek dit oorweeg om weer met Ta’ Anna te gaan praat, maar volgens gerugte in die dorp het sy, ongelukkig, verdwyn.

Alhoewel die paranoia my nooit gelos het nie, het die jare en volwassenheid, die vrees verdryf totdat dit net agtergrond geraas was. Ek het ná matriek die pad gevat Pretoria toe. Weg van die geraamtes, vrese en die ongenaakbare koue. Nadat ek graad gevang het, het ek sommer in Pretoria werk gekry, huis gekoop en die stadslewe terdeë geniet. Postmasburg was die verlede.
Ek was 27 toe ek vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer van Francis hoor. Francis het nooit my haat vir Postmasburg gedeel nie, so sy het haar wortels daar geskiet – of eerder verder daar gegroei. Ons het ure lank gepraat, wat ‘n skrikwekkende telefoonrekening tot gevolg gehad het, maar dit was elke sent werd. Op ‘n stadium noem Francis dat sy ‘n man ontmoet het; ‘n boer wat nuut was in die kontrei. Gideon Wolmarans. Die naam het bekend geklink, asof ek moes weet wie dit was. Francis het stilgebly en gewag dat die klokkie lui. Toe dit my tref het dit my eers spraakloos gelos, maar toe bars ek uit van die lag. “Kan jy nou meer! Die ou vrou was reg!”
Ses maande later toe kry ek die uitnodiging in die pos.
“Gideon Wolmarans en Francis Meyer trou! Kom vier dit saam met ons!”
Ek het my kop geskud. As ek nou al ooit ‘n selfvervullende profesie gesien het, dan was dit nou Anna se “voorspelling” en Francis se uiteindelike troue. Sy het ‘n vent ontmoet met die naam Gideon Wolmarans, en besluit dis dié man van wie Anna gepraat het. Francis sou waarskynlik met iemand anders getrou het, was dit nie vir daai dag by Ta’ Anna nie. Tog het die haartjies in my nek regop gestaan en ek het onwillekeurig oor my skouer gekyk. Ta’ Anna se woorde ‘n eggo in my ore, asof sy dit sopas weer gesê het.

Drie jaar later moes ek weer die pad Postmasburg toe aanpak. Natuurlik nie iets waaroor ek vreeslik opgewonde was nie, maar my ouers het verlang. Soos my ma dit altyd gestel het as ek haar gebel het: “Wat? Wie praat nou? Het ek sowaar nog ‘n seun?”
Die week het verby gesleep. Daar het nie veel in Pa en Ma se lewens gebeur om oor te praat nie, nie dat my lewe in die stad juis veel interessanter was nie. Die feit dat dit hoog winter was het ook glad nie my tydjie op Postmasburg beter gemaak nie. Dag drie het my geluk wonderbaarlik gedraai. Die weerman op die TV aangekondig dat Postmasburg die bestemming vir ‘n sneeustorm sou wees, en ek het Pa en Ma vaarwel geheet. Ek kon nie bekostig om vasgesneeu te word nie, want my verlofdae was op. ‘n Paar kilometer uit op die Kimberley-pad ry ek verby die afdraai na Gideon en Francis Wolmarans se plaas. Ek het geweet Francis sou my kwalik neem as ek in die kontrei was, en nie daar ingeloer het nie. Ek was ook nuuskierig om te sien hoe behandel die lewe op die plaas vir Francis. Ek het ‘n U-draai gemaak en solank gebel om haar te waarsku dat ek op pad was. Die foon het egter dadelik na stempos toe gegaan, wat nie ‘n verrassing was nie, want opvangs op die plaas was maar bietjie nukkerig.

Teen die tyd wat ek voor die ou plaashuis stilgehou het, was dit al skemer. Ek was nie vreeslik gelukkig oor die saak nie. Om nié buite in die aand te wees nie, was tweede natuur vir my. Die plan was dus om vinnig te groet, en dan deur te ry Kimberley toe en daar in ‘n gastehuis te oornag.
‘n Enkele lig vanuit die huis se rigting het die grys van die bewolkte lug darem bietjie warmte gegee. Toe ek nader stap het nog ‘n lig in die huis aangegaan en toe die stoeplig. Die deur het oopgegaan en Gideon het uitgestap gekom.
“Welkom! Sjoe, jou darem lanklaas gesien! Francis gaan so bly wees om jou te sien.”, het Gideon my joviaal gegroet. “Kom in!”. Hy het, sonder om sy hand uit te steek om my te groet, omgedraai en die huis ingestap. Ek het hom tot in die sitkamer gevolg, toe hy omdraai en sê,“Francis moes gou in ry dorp toe. Ons is besig om vleis te verwerk en die speserye vir die wors het opgeraak. Sy sal seker enige oomblik terug wees.”
Soos my oë Gideon bestudeer het, het ek besef die oorpak wat hy aangehad het was bloedbesmeerd. Ek kon die metaalagtige reuk van vars bloed ruik. Sy hande was ook nie veel skoner nie. Agter hom kon ek die kombuis sien. ‘n Dier se karkas het op die tafel gelê, die vel weg en meeste van die vleis van die beendere af gesny. ‘n Verskeidenheid messe, asook ‘n saag het langs ‘n slypsteen gelê, so ook bondels lappe – alles met betrek met vlekke in verskillende skakerings van rooi.
“Rooibok.” het Gideon byvoorbaat gesê, toe hy sien ek bekyk die spul. “Wag, laat ek gou gaan skoonmaak dat ek darem vir jou ‘n nattigheid vir die keel kan aanbied. Ek’s nou terug.”
Sonder om my kans te gee om te antwoord, verdwyn hy die gang af, en ek kon hoor hoe die ou geiser kla toe ‘n kraan oopgedraai word. Ek het gaan sit op een van die verweerde banke en ingedagte die vertrek bestudeer. Dit het my opgeval dat daar geen foto’s of skilderye of iets anders met kleur, teen die mure was nie. Om die waarheid te sê was die vertrek redelik leeg. Net ‘n koffietafel met ‘n paar ou tydskrifte op. My oog het die afdak reg langs die venster gevang, waar ‘n bakkie en Francis se stokou Volkswagen gestaan het. Twee karre? Sover my kennis gestrek het, het die Wolmaranse net twee motors gehad. Ek het gefrons. Nou waarmee het sy…
My mond het skielik kurkdroog geword. Ek het in die kombuis se rigting gekyk en na ‘n ewigheid het ek, asof ek gehipnotiseer was, na die kombuis toe gestap. “Jou idioot. Jou paranoia is weer op hol.
Soos wat ek die kombuis insluip het, was dit asof ‘n onsigbare glas yswater by my rug afgegooi was. Die karkas was nie die van ‘n dier nie. Dit het gelyk soos ‘n…
Hou op!” Ek het die gedagtes, wat op hol was, uit my kop probeer kry.
Ek het ‘n vullissak wat in die hoek gestaan het bewerig oopgemaak. Binne was bebloede klere. Vroue klere? En bondels hare. Lang, blonde hare. Soos Francis s’n.

Hy gaan jou doodmaak.
Ek het geretireer. Dit kon nie wees nie! So iets gebeur net in films!
Hy werp sy vel af voor hy jou doodmaak.
Hy het sy oorpak gaan uittrek.
Hy maak sy kloue skerp voor hy jou doodmaak.
Die hoop messe langs die slypsteen het my naam geroep, en ek het onwillekeurig in hulle rigting gekyk.
Hy was sy hande van bloed voor hy jou doodmaak.
Ek het agtergekom die geiser se gedreun was stil. ‘n Lamheid het oor my gedaal.
Anna se stem was so duidelik soos daglig. “Hy gaan jou doodmaak.” Ek het omgekyk om te sien of sy nie daar langs my gestaan het nie, maar dit was net ek en…
My verstand het my lam bene gesmeek om te beweeg. Die lamheid moes gewyk het, want ek was die volgende oomblik buite in die donker koue. Toe was ek in my motor. Toe ry ek verby Bloemfontein. Teen die tyd wat ek uiteindelik begin inneem wat om my aangaan, toe sit ek in my geparkeerde kar in my motorhuis.
Ek het my kop geskud en probeer sin maak van wat gebeur het. Die son se eerste strale het deur die venster gevloei en vrese, monsters en nagmerries is weggespoel.
Ek het my foon uitgeruk en koorsagtig die knoppie gedruk om Francis te bel. Dit was steeds net die stemboks wat geantwoord het. Ek het 1-0-1-1-1 op my foon ingetik, maar toe die foon die eerste lui gee in my oor, toe druk ek weer dood. Wat sou ek vir hulle sê? My vriendin se man het haar doodgemaak en hy is besig om biltong van haar te maak?
Alhoewel my maag leeg was het ek opgegooi asof ek te veel geëet en gedrink het.
Ek het vies uit die kar geklim en onder die stort se water gaan staan wat al die koue uit my lyf uit probeer dryf het, maar daar was ‘n ongekende koue in my wat water nie kon verdryf nie. Ek kon ook nie die siek gevoel of die reuk van bloed van my lyf af was nie.

Later die dag het ek Michael Balhuizen, ‘n bekende privaatspeurder, gebel. Hy het gelukkig geantwoord en, sonder om my te onderbreek, geluister na die woorde wat uit my gestroom het. Die plaas. My vriendin. Haar man. Gisteraand. Die karkas. Die bloed. Die messe. En… Ek weet nie.
Toe ek stil word verwag ek dat die man uit sy maag uit gaan begin lag. Maar hy het in ‘n ernstige stemtoon al my, Francis, Gideon en die plaas se details gevra, en gesê hy sal terugkom na my toe.

‘n Dag het verbygegaan. Twee dae. Dag drie hoor ek die nuusberig oor die radio. ‘n Boer van Postmasburg word gesoek in verband met die verdwyning van sy vrou.
Later die dag was Michael Balhuizen by my voordeur. Hy het my oor ‘n glas skoon whiskey vertel dat hy op die plaas aangekom en die verlate plaashuis deursoek het. Hy het ‘n bebloede kombuis met ‘n hoop messe en sae in die wasbak gekry. Daar was geen teken van Gideon of die karkas nie. Michael het die polisie laat weet van die bebloede toneel, en ‘n forensiese span het die plaashuis oorgeneem. ‘n Polisiehond het die speurders gelei tot by ‘n vlak graf, waar hulle menslike oorskot gekry het. Basies net ‘n geraamte en ‘n paar organe.
Gideon Wolmarans was weg. Nie net letterlik nie. Dit is asof die man nie bestaan het nie. Die huurkontrak van die plaas was in ‘n besigheid se naam. Die besigheid het nie bestaan nie – het nog nooit bestaan nie. Nêrens in die huis was daar enige foto’s of dokumente wat ‘n leidraad kon gee wie of waar die man was nie.
DNA toetse sou op die oorskot gedoen word om die identiteit te bevestig. Ek het egter reeds geweet dat dit Francis was.
My liewe Francis.
Michael het my gegroet met die woorde dat hy nie sou rus totdat hy Gideon Wolmarans, of wie hy ook al was, gekry het nie.
Dis daai verdomde Anna se skuld.
Ek wou eers vir Michael sê dat ek vermoed ek weet waarnatoe Gideon op pad was, maar het myself bedink. Dit was net paranoia. Behalwe net, duidelik was dit nie.
‘n Eggo. “Jy gaan nie die eerste een wees nie. Jy gaan nie die laaste een wees nie. Jy gaan hom nie sien kom nie.
Ta’ Anna Kuiper kan in haar moer vlieg. Ek hoop sy’s al vrek en brand in die hel.
Ek sál gereed wees vir Gideon Wolmarans.
Ek sál hom sien kom.
Ek sál wraak neem vir Francis, al is dit die laaste ding wat ek doen.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    29 Julie 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2021 – OOP projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 53
Kommentaar telling: 35

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 139 gaste aanlyn

Bydraes – Argief