Onthou jy nog
Onthou jy die witgekalke plaasopstal
met sy rooi-roes dunwiel trekker
op sy enjinkap die swart kapokkie
toe as ons enigste wekker
Hoor jy die kierie-kierie windpomp
wat suig en spoeg in die dam
met sy grootsnor vet babers
wat ons met die hand kon vang
Daar het Mamma haar af staan sloof
varkkaiings krakerig uitgebraai
wintertyd op die geel koolstoof
kastrolle Makataan konfyt gekook
Tye toe ons klomp lemoene moes pluk
die boord was groot of was ons net klein
kaalvoet in diksand ook kalk aangesmeer
versigtig getrap want mamba’s kon pik
Proe jy die skuim uit die blink melkemmer
en ons moerkoffie en plaasbrood ai
die gesels om die lang geelhout tafel
niks kon ons Boekevat saans belemmer
Sien jy die stroper stof deur die land
ou Wagter wat lui die Kiewiete jaag
ruik jy die diesel in die kragmasjien
kyk hoe flikker die kerse wat brand
Soms net soms as my gedagtes dwaal
wil ek weer dogtertjie huppel
na Blommetjie se stomend ou kraal
om daar herinneringe terug te loop haal
7 Kommentare
-
-
Ch Nel Venter
Nostalgia op sy bests.
-
Ch Nel Venter
Nostalgie op sy beste
-
-
Louie
Uitstekend
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Evelyn nou laat jy my gedagtes ver terug dwaal. My oupa het so n smal wiel John Deere gehad en ons het die blikbeker so onder die koei se speen gehou. shor en die skuin staan so en as jy klaar gedrink het n wit kring om die mond