
Oor Pearly Beach (’n brief aan Shirley van Engeland)
Beste Shirley
Ek loop vanoggend met ’n voetpad langs
deur skouerhoogte strandveldbos
oor gladgeskuurde klippies
(deur die eeue hier gelos)
tot op die wye ope strand.
Ek sou ewig hier wou bly, as ek kon.
Op hierdie plek waar branders
sonder ophou
oor die aarde breek
(dié plig hul opgelê, wil hul mos teen rotse wreek)
en waar krappies in vlak poele
struikelloop en sand omwoel.
Kan oseane dan so groenblou wees;
die kleur daarvan kan ek nooit beskryf nie.
En nog nooit was seë so onkoud oor
my voete en my lyf nie.
Ek wens ek kon dit met jou deel:
Die skulpgruis wat my sole skraap.
Die wind wat oor die landskap streel.
Die seebamboes wat bruin en roes
patrone oor die wit sand skryf.
Die meeue wat op golwe dryf
en ragfyn tuintjies
– stukkies skulp en alg –
onwillekeurig gerangskik,
deurmekaar gestrik
in groen en pienk en pers.
Elke mens moet ongeskoen
oor só ’n strand kan wandel
terwyl wolke (byna purpergrys)
net so bo die die water hang.
Sulke vistas sal my altyd laat verlang;
ek sou dit graag vir jou wou wys.
Shirley, ek stuur groete.
En dalk,
as ek ’n duisend foto’s stuur,
sal jy ook hierdie somersoggend
op Pearly Beach onthou.
Maar jou huis is nou so ver van hier
…en dit is winter daar by jou.
© Carma Shaw
15 Januarie 2020
14:46
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Seirdna
Baie mooi geskryf Carma. Laat my dink aan Shirley Valentine?