Op soek na die lente
Op die pad tussen Tulbagh en Joostenberg
deur Wellington
en by Agter-Paarl verby
– in ‘n stokou bakkie sonder canopy –
dáár het ek die lente gekry.
*
Sy’t oral langs die pad
in velde vol van groen gegras
en in lappe, lappe koring
aan die berge se voete gelê.
In die geel van canola-lande
had sy ook veel te sê.
Sy was in die wolkelose hemel –
in die lug wat oor my blou.
Sy was die wonder in die môrelig
sy was die son
se effens lou.
Die skape en die beeste
het in haar oorvloed loop en wei.
Die roomste roomwit aronskelke
het haar in modderslote
laat gedy.
En ek het die lente herken
toe ek haar ware kleure sien,
want ek wéét hoe die lente is
en ek wéét hoe die lente maak.
Sy’s die een wat
– met ‘n sagte asem –
aan alles om haar raak.
*
Op die pad tussen Tulbagh en Joostenberg
deur Wellington
en by Agter-Paarl verby,
in ‘n stokou bakkie sonder canopy
het ek – sommer só –
reg deur die lente gery.
© C. Shaw
2 September 2016
7 Kommentare
-
neels
Nog n wenner uit Carma se pen
-
Kiekies
Oi toggie Viooltjie hierdie een is fabulooslik ( gee my 'n mooi woord wat dit beteken). Dit was Viooltjie-pragtig! Veral: En ek het die lente herken toe ek haar ware kleure sien, want ek wéét hoe die lente is en ek wéét hoe die lente maak. Sy’s die een wat – met ‘n sagte asem – aan alles om haar raak. Manjefiek!!
-
Ronel Janse van Vuuren
Pragtig :-)
-
Cornien
Pragtig, voel of ek saam op daai oop bakkie kan ry!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Lente projek