Pandemonium in die glas-sfeer – Brons
Pandemonium in die glas-sfeer – Brons
DIE PROTAN, Sterjaar 8723, Dag 412, berig:
“Die hofsaak van die Kwanader, Zlotz, leier van die versetgroep OA4B (op al vier bene), vind plaas op sterjaar 8723, dag 416, in die glas-sfeer. Zlotz word aangekla daarvan dat hy versuim het om op twee bene in die openbaar te loop.”
Die swewende glas-sfeer, wat bo Wasp 96-bi en Wasp 97-bi wentel, is binne stersekondes vol gepak nadat die SS13-kanaal oopgestel is. Hier en daar arriveer nog ‘n hofganger via liggaamsverplasing.
Die regter, Kroat, afkomstig van die planeet Wasp 97-bi, neem stelling in. Hy draai sy enorme oë in verskillende rigtings. Sy denke is sy eie as gevolg van jare se oefening. Die hofgangers daarenteen gons behoorlik telepaties. Die Bizedders van Wasp 97-bi se veragting van Zlotz se wandaad ruis behoorlik deur die sfeer terwyl die Kwanaders, die vierbeniges, in verset sis.
Zlotz, vergesel deur twee bewaarders kom op twee bene die sfeer binnegestap. Sy ander twee bene is agter sy rug geboei met sterkristal. Die gesis neem toe. Die Kwanaders se agressie bereik breekpunt. Die regter lig sy linkerhand en wuif oor die skare. Dis plotseling stil.
Kroat beveel Zlotz telepaties om op te staan en die eed van waarheid teenoor die twee planete af te lê. Hy gehoorsaam deur sy linkerhand se vyf vingers op sy voorkop te plaas en die eed hardop af te lê.
“Sal Opperste Een asseblief die planete se klagsaak kom stel?” vra Kroat.
Opperste Een beweeg tot voor Kroat, buig laag en draai dan om.
“In die saak tussen die planete Wasp 96-bi en Wasp 97-bi versus Zlotz…” begin Opperste Een.
“Sssss!” dreun dit in die hofsfeer as die Zlotz-aanhangers hul misnoeë uitspreek. In antwoord telepateer die nie-aanhangers: “Barbare! Onopgevoedes swyg! Wyk!”
‘n Tweede keer wuif Kroat met sy hand oor die menigte.
Opperste Een vervat: “In die saak tussen die planete: Wasp 96-bi en Wasp 97-bi versus Zlotz word die volgende aanhangig gemaak: eerstens het Zlotz in die openbaar op al vier bene geloop. Tweedens het hy hom verset teen die versoek van Bizedder-geregsdienaars om op twee bene te loop. Derdens het dit aan die lig gekom dat Zlotz ‘n ondermaanse protesbeweging van stapel stuur om die planete se staat te ondermyn ten opsigte van die wet wat lui dat slegs op twee bene geloop mag word.”
Protesteerders wieg heen en weer en sis luidrugtig.
Die gesis word stelselmatig sagter en sterf weg.
“Laat die ondervraging begin, Opperste Twee,” beveel Kroat.
“Zlotz, het jy op vier bene in die openbaar geloop?” vra Kroat
“Sssss… ek het!” antwoord hy.
“Zlotz, ek herinner u daaraan dat u geen krutaal in die hof mag gebruik nie,” betugtig Opperste Twee hom.
“Tweedens het u die Bizedder-geregsdienaars verontagsaam toe hul u versoek het om op twee bene te loop?”
“Ek het, Opperste Twee,” antwoord Zlotz.
“Derdens is u die leier van die protesbeweging, OA4B, ten gunste van vierbenige beweging in stryd met die wet?”
“Ek is,” beaam Zlotz.
“Hoe pleit u?” vra Opperste Twee.
“Onskuldig op al drie aanklagte, Opperste Twee,” reageer Zlotz.
“Kan u aan die staat van die planete verduidelik waarom u in opstand is teen die wet?” vra Opperste Twee.
“Sssss!” ruis dit deur die sfeer.
Hierdie keer hou Zlotz self sy hand op om stilte te bewerkstellig.
“U Hoogste Kroat en alle Opperstes, ek het op geskrifte afgekom dat beide planete se wet onregmatig gewysig is in die sterjaar 3623,” vervat Zlotz.
“Kkkkk!” roep beide partye geskok uit.
Zlotz knik met sy kop en telepateer met sy verteenwoordiger om die multi-dimensionele skerm aan te skakel. Met sy oë verwissel hy die kubiese bladsye van ‘n manuskrip tot waar hy by die paragraaf kom waar gestipuleer word dat alle vierbeniges volgens wet verplig word om voortaan op twee bene te loop.
Vir ‘n oomblik tuur hy nikssiende deur die glas-sfeer na die sterrestelsel, dan blaai hy tot op die laaste bladsy waar die handtekeninge die wet bekragtig het.
Dit neem ‘n hele paar stersekondes vir die hofgangers om die fout op die bladsy te eien.
“Kkkkk!” roep die skare in ongeloof uit wanneer een van die kenners van antieke geskrifte se gedagtes telepaties rugbaar word.
“Sssss!” snak Kroat na sy asem. “Verskoning,” fluister hy gedemp. “Roep asseblief onmiddellik die President Hoofmoeder, Shlazei om as getuie te kom dien?” versoek hy.
“Kkkkk!” kom dit weer van die geskokte skare.
Die volgende oomblik word die glas-sfeer gevul met die silwer sterstof van ‘n liggaamsverplasing wat langs Zlotz akkumuleer. Die President Hoofmoeder van die twee planete staan na enkele stersekondes langs hom.
“Hoof- en enigste getuie, President Hoofmoeder, Shlazei,” kondig Zlotz se verteenwoordiger aan.
Kroat versoek Zlotz om te gaan sit.
“President Hoofmoeder, lê asseblief die eed van waarheid teenoor die twee planete af?” versoek Kroat.
Sy plaas die vingers van haar linkerhand op haar voorkop en lê die eed hardop af. Haar silwer mantel vou sag om haar wanneer sy haar arm laat sak.
“Getrou aan die wette van die planete sal ek, as hoogste gesag van die hof, persoonlik die vrae voorhou aan ons President Hoofmoeder, Shazei,” kondig Kroat aan.
Stilte daal tot in die diepste telepatiese vlak sodat jy sterstof kan hoor val.
“President Hoofmoeder, wanneer is u geskape?” vra Kroat.
“Ek het die maan sien opkom in die sterjaar 3624,” antwoord Shazei.
“Onmoontlik, die wet is geteken in sterjaar 3623!” flits dit deur Bizedders en Kwanaders se gedagtes.
“Op watter planeet is u geskape?” vra Kroat.
“Ek is gebore op op Wasp-97bi, regter Kroat,” telepateer sy.
“U is dus ‘n Bizedder?” vra hy.
“Ek is nie…” antwoord sy hardop.
“Kkkkk!” klink dit op deur die sfeer in geskokte uitroepe van beide Wasp-96bi en Wasp 97-bi hofgangers.
Kroat lig sy hand en die sfeer word stil.
“Wat is u nasionaliteit?” vra Kroat.
Die oomblik van waarheid verstom die hofgangers wanneer sy antwoord: “Ek is ‘n Sekpodei.”
Sy laat val haar mantel, sak af grond toe en staan op al ses haar bene.
Die skare reageer hardop: “Kkkkk!”
Dit neem Kroat ‘n wyle om tot verhaal te kom, die skare onder beheer te kry en sy volgende vraag te vra. Shazei staan op, trek haar silwer mantel aan en lig haar ken.
“Verduidelik asseblief u herkoms aan die hof?” vra die regter.
“Mag ek telepateer op die multi-dimensionele skerm, Regter?” vra Shazei.
“Gaan voort,” antwoord Kroat bot.
In breukdele van ‘n stersekonde flits ‘n liefdesverhaal van ‘n uitgeworpene van die sonnestelsel Zitsmikoz en Shazei voor die bewoners van die twee planete af. ‘n Kapsule wat wyd wentel om hul twee planete met ‘n uiters aantreklike wese daarin… die beeldskone Shazei wat sy baan kruis in haar verkenningstuig… die oomblik van bevrugting wanneer hul oë vir ‘n fraksie te lank in mekaar staar. Die geboorte van ‘n babadogtertjie met ses ledemate, hoe die moeder haar versteek, verdoesel in mantels en uiteindelik die volle verhaal van haar uniekheid vertel, flits helder op die reuse kubus wat in die middel van die sfeer sweef.
“My moeder se naam was ook Shazei, ek is haar ewebeeld, dit is haar handtekening op die wet. Sý het die wet geskryf voordat sy van my sesledigheid bewus was. Sy moes ons geheim ten alle koste bewaar omdat ek haar troonopvolger was. Sy het hierdie wet tot haar dood berou. Sy het my deurlopend herinner dat jou siel en psige nie bepaal word deur jou uiterlike nie. Sy was angsbevange dat, indien sy die wet sou herroep, daar ongemaklike vrae gevra sou word en ek my posisie as President Hoofmoeder sou verbeur. Ek regeer die afgelope 5099 sterjare beide planete suksesvol.. Ek het volgens my kontrak een sterjaar oor om te regeer. Doen met my soos u goed dink,” spreek sy die sfeer aan, nadat die laaste beeld op die skerm verdwyn.
Die glas-sfeer gons behoorlik. “Kkkkk,” kom dit geskok van die oposisie-party en “Sssss!” van Zlotz se aanhangers.
Kroat lig albei sy hande en die hofgangers kalmeer.
Kroat versoek Opperste Een en Opperste Twee om by hom aan te sluit. Hul vorm ‘n sirkel en draai hul linkerhande se palms na onder en regterhande se palms na bo om telepatering van buite uit te skakel. Die saak word bespreek en Opperste Een en Opperste Twee neem weer hul plekke in.
Regter Kroat vervat: “Dit is die finale besluit van die Opperstes dat Zlotz skuldig bevind word aan al drie klagtes teen hom…”
“Sssss!” jou die Kwanaders hom uit.
Met sy hand in die lug, om verdere onderbrekings te voorkom, gaan hy voort: “Dit is egter tyd vir verandering. Tyd om die wette te hersien en tyd om in vrede te lewe met hoe ons geskape is…”
DIE PROTAN, Sterjaar 8723, Dag 413, berig:
“Die hofsaak van die Kwanader, Zlotz, leier van die versetgroep OA4B (op al vier bene), het gister in pandemonium ontaard nadat regter Kroat Zlotz eers skuldig bevind het op alle aanklagtes en daarna kwytgeskeld het op grond daarvan dat die wet hersien moet word. Die Protan volg die storie en sal u op hoogte hou.
©Retha van Deventer, Augustus,2024.
(Woordtelling: 1500)
2 Kommentare
-
Pennevrug
Baie interessant! Buite die boks. Welgedaan!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek