skuldlasstorm
skuldlasstorm – Brons
tussen opdrifsels van eens vind ek jou
soos dryfhout in gedagte-chaos
klou ek soos ‘n drenkeling
aan versengende herinneringe
ek hoor jou laaste kinderrympie
in die flenterfluister
van gebroke skulpe
en staar stiksiende
deur seewierwimpers
na meeue se strompelvlug
ek proe weer en weer die skeidingstrane
wanneer seesproei traag oor my lippe sif
en seer eksponensieel akkumuleer
totdat snikke lukraak losbreek
om soos skuimfraiïngs te vlug
voor die suidoostewind
biddend dat die skuldlasstorm
in my sal stil raak
voordat jy weereens verdrink
in die dreunende druising
van die vloedgety in my
©Retha van Deventer, Augustus 2024.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek