Jongste aktiwiteit:

Regie in ROLPRENTE ,2

Regie in MODERNE ROLPRENTE

— ook nie so modern nie —

[Deel 2]

Miskien is die woord „kamma” presies dit wat ons soek. Alles is kamma, alles is virtueel. . .

En wat is dít nou: „virtueel”? Dit is so asof wanneer iets so te sê soos iets anders sou kan wees, of kon gewees het maar is dit eintlik nie. Leuens. Kamma.

Kamma ✽ Virtueel ✽ So-te-sê ✽ Leuens

Kinders kan goed met die begrip omgaan: „Kyk, jy’s ’n arme weeskind en jou ouboet het in die nag verdwaal. Nou is jy doodbang. Wat maak jy nou?” „Ouboet! Ouboe-oet!! Ouboe-oe-oet!!! Waar’s jy Ouboet? (Snik) Kom help my tog. Oeaa-aah!!!!! A-ag, Ouboetie-boetie-boetie. (Snik. . .)” Die kind het nie ‘n „teks” nodig nie. Hy is heeltemal weg, ver weg. In Kammaland. Daar waar klein kindertjies vanselfsprekend sonder Ouboet in die donker nag moet ronddwaal en huil en as ellendige bondeltjie tussen ‘n groot woudboom se wortels saamkrul en snik. Kamma. Virtueel. So-te-sê.

Die tamatiesous wat uit ‘n wond „sypel” is virtuele bloed. Die geweer waarmee geskiet is, is virtueel: Uit plastiek op ‘n haar soos die skietysters van die FBI of die US Marines of die Chicago-Mafia ensovoort, nagebou. Die lyden­skaplike soen wat minute kan aanhou, is virtueel. (Clarke Gable, ‘ n „ster” uit my kindheid het gesê dat iemand hom die raad gegee het om die oë toe te maak en te dink aan die lekkerste ding wat hy ken. Sedertdien, sê hy toe, wanneer hy ‘n soentoneel moet doen, sluit hy sy oë en dink aan . . . ‘n lekker stuk gebraaide beesvleis waarvan die vet so afdrup! Dan eers kan die kamera sy droomverlore gesig afneem.)

Om hierdie dromerige kammatoestand op te bou en te behou, sit die filmmakers verskeie hulpmiddels, soos hierbo beskryf, in. Dit skyn asof die bron van vernuwings wil opdroog, want wat ons sien, is dikwels ou bekende kunsies, miskien uit ‘n ander hoek gefilm, miskien met ‘n ander agtergrond, miskien met ‘n meisie as held, . . . Maar basies dieselfde kunsstuk.

James Bond is seker nie die eerste mens wat van een vlieënde vliegtuig op ‘n ander gespring het nie, en beslis nie die laaste ook nie. Harpo Marx is ook nie eerste of laaste wat sy voete in een spoorwegwa ingehaak en met die hande aan ‘n andere vasgehou het, om soos ‘n gomlastiek uitmekaar te laat trek en dan weer saam te kom nie – boing, boing, boing – soos die stoomtrein oor die prêrie donder!

In die rolprent „The Artist” (2012), in swart-wit stomfilm-styl óór die stomfilm-tyd, moet die held etlike kaskenades uit daardie tyd uitvoer. En ons sien hom eenkeer dwars oor die silwerdoek vlug: Uit ‘n venster uit op die dak van die groot huis klim, oor die dak hardloop met die boses kort op sy hakke, van daar op die stal se dak afspring, op ‘n strooihoop spring, inhardloop, op ’n perd spring en wegry. Alles voor ‘n onbeweeglike kamera op ‘n toring daarteenoor, ‘n alkoop van ‘n hele paar minute, op ‘n haar die vervolgtoneel uit „Zorro” met Douglas Fairbanks junior van honderd jare gelede nagebou, „ gesiteer”, sê mens.

The Artist word nie aangesien as ‘n vernuwing nie, maar iets vervrissendes want dit sou „die gevoele van die grootste epoche van die bioskoop op ons silwerdoeke terugbring” soos ‘n resensent toe gemeen het. Hierin lê moontlikerwys die kern van ons tema. Dit gaan glad nie om die nuwe tegniese moontlikhede nie. (Een van die eerste „Titanic”-films is ‘n maand of wat na die gebeurtenis grotendeels in ‘n woonstel in Berlyn – veral in die badklamer – gedraai.)

‘n Moderne film, „Kruisweg”, het oor anderthalf ure slegs veertien kamera-einstellings: die veertíen insidente op die lydenspad van Jesus tussen Pontius Pilatus en Golgota. Elke toneel is soos in die teater een enkele opname, die spelers het nie die moontlikheid om asem te haal en gou in die teks te kyk, „Wat sê ek nou?” nie. Egte toneelspel.. Meesterlik.

Daarteenoor stel ons ‘n film uit die sestiger jare, „Rope” (tou), waar die kamera in een allenige opname die handeling oral vervolg, altyd met die een of ander karakter in die middelpunt van die „arena” sonder onderbreking, soos hulle praat, soos hulle heen en weer beweeg, soos die storie voortontwikkel. Destyds is nog met selluloïd-film gedraai, en ‘n rol in ‘n kanister was net so-en-so lank en kon net so-en-soveel minute loop. Daar het die kamera iets slimmes uitgedink: As die film byna wou uitloop, het hy agter die man met die swart baadjie of die blompot in die donker skaduwee gaan wegkruip en weer aan die anderkant uitgekom en die verhaal gaan dadelik voort! Terwyl die toneel swart was, het hulle film uitgeruil. En so het dit gelyk asof die hele film slegs één lang skoot was.

Slim kamera, nè?

In ‘n heelwat ouere swart-wit-film hoor ons die musiek van ‘n danskapél, wys ons die kamera in een lang instelling die vingers van die trompeter terwyl hy blaas; langs hom dié van die saksofonis met die saks-part wat daarna kom; ons blik gly oor die klavier se toetse terwyl die vingers trippel en spring; van daar aan die perkussionis verby wat in daardie oomblik ‘n break afgee; ons sien ‘n vrou se hand wat boontoe aan haar pragtige bors verbybeweeg; en dan haar mond en hele gesig; en sy begin sing. Nuwe kamerastelling: Ons volg haar van die een tafel in die restourant na die ander. Normale regie-praktyk, sestig tot tagtig jaar gelede.

Maar dis alles nie die hele filmkuns nie. Dis deel daarvan, dis die handhawing. Ons leer mos, „Kuns kom van kan.” As ons iets wil hê, moet ons dit kry. Ons moet iets doen, nie droom nie. So ongeveer is die filosofie van die werkers in die droomfabrieke oor die hele aarde. En daarmee „produseer” hulle vir ons die drome.

Ons tyd is „snellewig” soos hulle sê, en die regisseurs wil alhoemeer in die neëntig tot honderd minute inpak:

° Die kamera vlieg oor ‘n landskap en vind ‘n sportmotor doer onder; ons hoor die stem van ‘n vrou wat oor die aanstaande vakansie vertel; ‘n kind antwoord; skielik kyk ons deur die venster en sien die twee in die kar.

° Daar hoor ons ‘n man se stem oor motors praat gedurende die toneel waar vrouens oor perde gesels; die toneel word donker en die nuwe toneel is in ‘n werkwinkel waar ‘n beenpaar onder uit ‘n vragmotor uitkyk; die man se stem praat voort en nog ‘n man verskyn. Naatlose oorgang.

Om te reis, is nie goedkooop nie. As ek ‘n film maak wat in Kanada afspeel, vra ek my vriend wat daar woon om ‘n paar tonele vir my te skiet, altyd met ‘n man met ‘n blou keppie en donker baadjie en ‘n vrou met ‘n somerhoed en ‘n rooi rok, van agter, so bietjie eenkant toe: By die Niagra waterval, voor ‘n katedraal, voor ‘n winkel in Quebec met Franse reklame in die venster; ‘n groen motor op verskeie paaie in die landskap, ensovoort. En dan nog eenvoudig ‘n paar landskap- en stadbeeld-opnames van vyf tot tien sekondes, soos vakansie-opnames. . . Dit gaan seker ‘n paar honderd Dollar kos, ‘n paar duisend Rand. Ek moet net sorg dat die opnames en my regie-aanwysings saampas.

Droomland, land van my drome. „Wolkekoekoeksheim”, sê die Duitsers.

©.2018………………………………..◄]:o(✽✽✽✽✽✽(o;Þ…………………………..tje




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed