Jongste aktiwiteit:

Resensie: HANNAH ARENDT, die film

Resensie: HANNAH ARENDT, die film

Een van die belangrkste vrouens van die afgelope tyd, Hannah Arendt, („die betekenis­volste verteenwoordigerin van die politiese teorie van die twintigste eeu” B. Helbig) is in 1906 in Hannover gebore. Sy het in Marburg by Prof. Martin Heidegger studeer en hy het haar „geleer om te dink”, soos sy self verklaar het. Hy het geleer dat om te dink dít is wat die mens uitmaak, en hierdie les het haar bygebly haar lewe lank. En so het sy hom in haar gedagtenis haar lewe lank hooggehou, nadat hul liefdesverhouding verby was, nadat sy as Jodin uit Duitsland moes vlug, nadat hy lid van die Nasionaal-Sosialistiese Duitse ArbeiderParty geword het.

[HANNAH ARENDT; Regie: Margarethe von Trotta; 2013; draaiboek: Margarethe von Trotta en Pam Katz; kamera: Caroline Champetier; met Barbara Sukowa, Julia Jentsch, Ulrich Noethen, Janet McTeer, Axel Milberg, Michael Degen; D]

Jare na haar vlug uit Duitsland bevind Hannah Arendt haarself as joernalis en dosent vir Filisofie in Nieu York. Tydens en na die oorlog het sy probeer om uit te vind waar die bose in die mens vandaan kom. Hierdie studie het sy aan die universiteit voortgesit. In 1961 word sy uitgenooi om vir die NEW YORKER-weekblad uit Israel te berig oor die hofsaak waarin Adolf Eichmann aangekla is weens die moord op miljoene Jode in die konsentrasiekampe. Hy was die verantwoordelike vir die logistiek om elke Jood soontoe te bring waar hy vergas sou word.

Dit was ‘n misdaad van so ‘n aard en grote dat dit in geen wetsboek opgeteken kon gewees het nie. ‘n Nuwigheid. En die Israelse aanklaers het plomp en ongeskik aan die werk gegaan, soos Arendt dit sien: Hulle sou dit tot ‘n „skouproses”, vergelykbaar met dié van die Kommuniste, degradeer het.

Wat by die mense die meeste weersin gewek het, was haar bewering dat Eichmann nie ‘n „bose monster” was nie, maar ‘n klein mannetjie wat nie self gedink het, nie kon dink nie, ‘n „Hanswors”. Hulle het gemeen, sy probeer om Eichmann se verantwoordelikheid te verkleineer. Hy het voortdurend gepleit dat nie hý die Jode omgebring het nie, en dat sý taak was om te verseker dat die treine se passasiere betyds hulle bestemming bereik. Dat hy slegs bevele uitgevoer het. Haar teenstaanders het beweer dat sy deur die Nazi-propaganda en die toneelspel van Eichmann self mislei is. Maar haar dryfveer was om die krag te ondersoek wat binne-in die kritiese denke leef in vergelyking met die verontmenslikking deur ‘n „anonieme sisteem”.

Hierdie is ‘n film oor dink en denke, oor filosofie en filosofeer. Die liefde tussen ‘n jong studentin en haar getroude professor word aangedui, meer nie. Ook die liefde tussen haar en haar man, wat haar voortdurend bedrieg het. Aangespreek, meer nie. Maar daarom handel die verhaal nie. ‘n Storie oor filosowe gaan om wat en hoe hulle dínk. Trotta / Katz het die episode in haar biografie, waar sy oor die Eichmann-geding in Israel berig en haar gevolgtrekkings daaruit, uitgekies om hierdie vrou te skilder, hierdie vrou wat onverbiddelik haar doel nastreef. En dit op ‘n sleuteltydstip in haar ontwikkeling.

Haar ondersoekings onder die totalitêre stelsels, veral die Nasionaal-Sosialisme, het vir haar aan die lig gebring dat die werklike bose mense deurgaans kleinburgerlikes was („mense soos ek en jy” sê ons mos) wat ‘n stelsel gedien het sonder om daaroor na te dink of dit regtens was of nie. Aldus het sy Eichmann as Hanswors aangesien, as karikatuur van ‘n beampte, as wieletjie in ‘n masjien, as verontmenslik.

Die inblend van TV-tonele uit die geskiedkundige verhoor van 1961 bring ons die geur en gees van die tyd en omstandighede nader. Die woede van die mense wat nóg haar artikels, nóg haar boek gelees het, die mense wat haar lewe bedreig het, die „gawe meneer op die tiende verdieping” wat ‘n briefie stuur met die boodskap „Nazihure”. Haar rede voor haar studente, so aan die einde van die film, waar sy haar standpunt verduidelik en verdedig. Dit alles laat mens dink: „En hoe lyk dit vandag?”

Is die toestande deesdae nie ewe bedrukkend nie, waar ‘n stelsel (sisteem) op ons afgedruk word wat lankal sy egte, diepe wortels kwytgeraak het, waar die betekenis van demokrasie baie na aan George Orwell se „Animal Farm” gesetel is: „Alle diere is gelyk, slegs sommiges is gelyker as ander.” Waar die (finansie-)mark hom sélf sal (of sou moet) reguleer – en waar die (europese) belastingbetalers die bankrotte (amerikaanse) banke moet red. Waar daar nie een dekade is sedert die tweede wêreldoorlog waarin die leier onder die moderne demokrasies nie in ‘n bloedige (aanval-)oorlog verwikkel was nie. . . net nie op eie grond en bodem in Noord-Amerika nie! Waar ‘n (afgetrede) Pous en die Engelse koningin aangekla en skuldig bevind is aan volkermoord onder Indiaanse meisies — ook om die selfde tyd, in 1964 — in Kanada.

Margarethe von Trotta het al ‘n reeks films met Barbara Sukowa oor groot vrouens in die geskiedenis gedraai, by voorbeeld Rosa Luxemburg, Marlene Dietrich en Hildegard von Bingen, en hierdie een sluit hom aan.

Dit dui aan dat ‘n effektiewe teengif teen „die banaliteit van die bose” die eie, selfstandige denke is. Soos Björn Helbig in die internettydskrif Zeit-online treffend sê: „Hierdie besef of insig word nie vir die toeskouer in sy skoot gelê nie. Hy moet self werk om dit te verkry.” Niks vir sussies of slappies nie.

Op die ou end is dit soos ‘n filosofieles vir nie-studerendes – vir ons normale mense by die huis. Veel beter aangebied as die „Reader’s Digest”.

Op hierdie vlak: Vier sterre.

©23e.Januarie2017……………c]:o(٤..☼☼☼☼.(o;[>……………………………(2013).tje




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed