SOROS – ΟΝΟΜΑ ΜΟΝΟ
SOROS – ΟΝΟΜΑ ΜΟΝΟ
Gebore met sout in sy are,
koper kompas in die regterhand geanker —
’n seerower, wild van gees.
Met beide hande die papegaai gebuit,
uit ’n Sikladiese klooster se puin.
Nou woon onthou op sy skouer.
Sofos knik-knik: Σος ειμί, τίμιε, σός
Kaarte vou romanties,
ontbloot die horison,
die skeepswiel buig onder sy vingers.
Sofos wys: αλλά
Die see het geoordeel …
Een storm. Een kanonskoot agteruit.
Die regterhand is gepluk —
vlees vergruis, ritme geskeur.
Poësie in brandende nerwe.
Sofos sis: άρα.
Vleg touknope met die linker,
vingers struikel soos dronk seemeeue,
deur ’n verwronge gety van gemis.
Sofos lag: άρθρα.
Donker bring die spookhand se greep,
lei die boeg deur mis — ’n vuurtoring se droom,
Sofos sing: ΣΟΦΟΣ.
Verkeerde hand krap letters in hout —
elke haal ’n rou litteken,
elke woord ’n verdwaalde kaart
van die man wat wou skryf.
Νίψον ανομήματα μη μόναν όψιν
© Paul S Venter (16 Augustus 2025)
Voetnotas
1. ΟΝΟΜΑ ΜΟΝΟ – “‘n naam, net ‘n naam”
2. Σος ειμί, τίμιε, σός – “Ek is joune, eerbare, joune.”
3. αλλά – “maar”
4. άρα – “gevolgtrekking”
5. άρθρα – “dinge/artikels”
6. ΣΟΦΟΣ – “Wyse een”
7. Νίψον ανομήματα μη μόναν όψιν – “Was jou sondes, nie net jou gesig nie.”
2 Kommentare
-

Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Augustus 2025 - Linkshandige projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
Besonders geskryf