Jongste aktiwiteit:

Stoepstories en perdekoop

’n Stoep is ’n magiese plek. In die woord is hierdie werklik die beste beskrywing waaraan ek kon dink, maar in die hart klink “magies” vir my volksvreemd en stief.
Ek wil dit beskryf met ’n eg Afrikaanse en Suid-Afrikaanse woord omdat dit ’n plek is wat soveel betekenis, emosie en herinneringe oproep. Tog kan ek nie aan een dink nie. Dit maak nie werklik saak waar die stoep is nie, dit kan nie gebind word aan enige stad of provinsie nie, nee, ’n stoep is net sommer buite. Dit is waar jy nie ingehok voel tussen vier mure nie, al is jou tuinmuur net ’n meter ver. Dit is waar jy naby aan ’n vuur kan wees, dit is waar jy glase wyn kan uitdrink en dit is waar jy die meeste huil, lag en raad uitdeel. Dit is waar jy dink oor die lewe en filosoof raak tot laat in die nag. Dit is waar jy die land regeer en oplossings uitdink vir elke vraagstuk wat jou bemoei. Dit is die plek van stories, van onthoue … dit is ’n plek waar virende nader beweeg en waar jy van die beste mense in jou lewe sal ontmoet.
Hierdie naweek was geen uitsondering nie. Ek was skaars in George toe ek my op een van my gunsteling stoepe bevind; gemaklik, rustig en so gelukkig soos ’n vark in Palestina. En kort voor lank was daar nuwe mense en saam met hulle ou stories -nuut vir een of twee paar ore, maar eintlik net suiwer nagedagtenis en herlewing vir die verteller self. Die oproep van die goeie uit die verlede. Vermaaklik. Lig. Vol lag.
Op die stoep reeds het ons vertellings en staaltjies by troues gaan draai. Grootliks te danke daaraan dat ons die middag na ’n troue sou gaan, maar ook omdat daardie staaltjies menige maal hoog op die vermaaklikheidskaal meet.
Onwillekeurig dink ek aan die ou gesegde: trou is nie perdekoop nie. Met vandag se skeipersentasies is ek eintlik verwonderd dat mense geheel en al nog trou. Dat hulle nog die kans waag. Dat hulle nog hoop.
En toe besef ek, miskien is dit waaroor dit gaan? Om saam met iemand te kan glo en om saam met iemand te kan hoop op die toekoms. Maar dan moet jy ook vertroue hê; daardie maak-nie-saak-wat-gebeur-nie-ons-sal-okay-wees tipe van ding. En dan kort jy stoepstories, want stoepstories is al wat hoop nog die moeite werd kan maak.
Die troue self was ’n storietroue. Nie ’n sporkiestroue nie. Vir my het dit bestaan uit mense wat meeste van die tyd besig was om stories te vertel. Buite, onder die bome op tuinmeubels en later op die ‘agterstoep’ en trappies van die onthaalarea. Dit was gesellig. Daar was hier en daar ’n hartseer staaltjie of ’n diep gesprek, maar kort voor lank word dit weer lig en die onthou stroom skielik weer vroom uit die monde.
Toe weet ek. Om te trou is om jou stoepstoriemaat te vind. Dit is om stories saam te hoor en nuwe stories saam te maak. Dit is om op 80 nog buite te kan sit met ’n wyn of ’n whiskey. Dit is die uithaal van jou eie onthoue, julle onthoue en die onthoue van vriende en geliefdes want ek dink dit is al wat eendag oor is. Wanneer kinders klaar het met balspeel en hardloop. Wanneer hulle self perdevat en hulle eie stoepstories versamel. Wanneer jy dae moet omleef maar die gejaag van kantore en kliënte reeds verby is. Dit kan nie net bestaan uit reëlings en finansies en melk en doeke nie. Dit is om jou eie manuskrip te skryf saam met jou medeskrywer. Dit is om die bundel vol te maak en om dieselfde kortverhaaltjies oor en oor en oor te kan lees sonder dat die genot daaruit verdwyn.
’n Stoep is ’n wonderwerk. Dit is ’n traneplek, lagplek, braaiplek, kuierplek, leesplek, speelplek, wynplek, raasplek, praatplek, dinkplek, saamweesplek, hartsplek. Storieplek. Wonderplek.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed