
Stormkaap
Ek onthou ’n dag van stormweer
toe die wind gehuil het deur die klowe
met hartbreek-fluitend melodië
só
asof sy groot droefenis belowe.
Buite het ’n woeste vlaag
riet wild laat ritsel in die newelstof
net voor die eerste reuse druppels
teen my kamerruit ontplof.
Die gerammel van die donderweer,
die krrraaakkkinggg deur die lug,
die Klap! Klap! Klap!
as die bliksems breek
oor Karbonkelberg se rug
dit alles klank in my geheue op,
stol in my oor se labarint
totdat dit (nes jou asem)
sjuut-sjuut-saggies stilraak
en wegwaai in die wind.
© Carma Shaw
10 Julie 2020
2:39
3 Kommentare
-
Seirdna
Mooi Carma Jy trek ons midde hierdie storm binne
-
Koos Elsum
Dankie vir die stilte na storm Carma. Is die “onreelmaat” in die vers lengtes deel vd storm of is ek nou belaglik?
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2020 – Klanknabootsing projek