Stukkend
STUKKEND
verstrik in die vangnet
van onvervulde drome
want ons het mekaar vergeet
sê my, my lief,
want ek wil weet
wat het geword
van die handgeweefde
kombers wat ek vir jou gegee het?
jy wuif met die rafels daarvan
in jou hand
as ek ‘n ent seelangs
gaan stap
lê daar net een ry spore in die sand
terwyl jy alleen
oor soutlose oseane dryf
sit ek oor my seer en skryf
oor ek vergete
agter tralies sit
en ek veg verbete
om my sanity te behou
en ek vloek en ek huil en ek bid
daar lê nie meer
‘n skadu langs myne
as ek laatmiddag
‘n ent gaan stap
daar is niemand meer
wat vir ons kaggelvuur
buite gaan houtjies kap
in die tregter van jou ruimte
sal ek in ‘n doellose
wentelbaan
al om jou aarde bly draai
en in die lawa van jou son
vergaan
want ons het mekaar verloor
nou bly net die hel
van hierdie seerkry oor
ek is hoogswanger
met liefde vir jou
maar ek sal nooit ooit
kraam nie
want jy ken nie
meer
my naam nie
Lorraine Smit
2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.