Sus se maanlig-dans …
Desember 2019 Projek – Dans asof niemand kyk nie
Afdeling: GORREL
Marlene Erasmus
BRONS
GORREL:
Sus se maanlig-dans
Iewers tussen êrens en nêrens woon Sus. Sus is nie ʼn kleindogtertjie in ouderdom nie: Sus is ouma met paar kleinkinders en nogal ʼn redelike gesiene tante in die gemeenskap. Sus is gelukkig getroud met haar eie kinders, skoonkinders en kleinkinders. Sy is altyd aan die werskaf en vir stilsit en niksdoen is daar absoluut geen tyd. Sy werk van vroegdag tot laat en as almal saans gaan inkruip het, skop Sus haar werkskoene uit en dan … DAN is dit tyd dat SUS verkas. JA! Jy lees reg hier … sy verkas … letterlik en dalk ook bietjie figuurlik as sy uitstap in haar tuin.
Haar tuin is ʼn pragtige lushof waar skoenlappers en veelkleurige vlinders floreer. Jy sal vind dat gloeiwurms en vuurvliegies wel daar aard. Mense kyk vir Sus baie vreemd aan as sy te vertelle het dat haar tuin – oftewel: Eden, soos sy haar tuin gedoop het, ook die tuiste is van Elfies en feetjies …
Sus haal haar staffie uit en swaai dit woerts-warts oor die maanverligte Eden sodat die sterretjies skitter en doudruppels glinster op die grasgroen gras. Dan kom die feetjies ligvoets ingewals vanuit hulle skuilplekkies in die struik. Sodra die feetjies hulle plek ingeneem het kom trippel die elfies trippe-trappe-trone oor die dou-nat gras. Elkeen vang skitterblink sterretjies en hou dit in hulle handjies vas as hulle die baan gereed maak vir Sus om haar maanligdans te begin.
Orals op die gras is daar nou fyn fraaie feetjies met skitterende tiaras op hul koppe en elfies wat singend dans op maat van die vrolike musiek. Die waterstroompies van die visdammetjie kabbel uitgelate saam. Sus trek haar dansskoene aan en tree toe tot haar dans … Vuurvliegies doen getrou hulle diens as feetjie-liggies om die baan te verlig vir Sus se dans. Sus trek los en sing uit volle bors saam die feetjie-koor – hier waar niemand haar kan hoor. Sy gee onvoorwaardelik haar liefde vir haar boskindertjies asof niemand haar nog ooit seergemaak het nie en sy dans asof niemand haar kan sien … Hier waar sy leef asof hemel op aarde aangebreek het en sy die maanligkoningin van Eden is. Vrolik vry en bemind is waar Sus haar bevind …
©Marlene Erasmus
30/12/2019
aantal woorde: 375 woorde
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2019 projek - Dans asof niemand sien nie