Taai Tamaletjie
Gradering: Silwer
Woordtelling: 320
Ek verstaan hoekom die manne maan toe gegaan het. Ek verstaan Aardrykskunde, en ek verstaan so ‘n ietsie van Wiskunde, behalwe as dit by kos, sin en tan kom. Maar as daar nou een ding is wat ek rêrig niks van verstaan nie, is dit die Liefde.
Liefde, soos dit vir my klink, is die as waarom die menslike wêreld wentel. En daardie wentelinge verskil ook van dag tot dag. ‘n Heeltemal onstabiele gedoente.
Vat nou vir Benita. Sy en Alan was só lief vir mekaar. Op die einde van die dag is hulle geskei omdat hy ‘n oggendmens was en sy nie. Toe kantel hulle hele wêreld in chaos. Moes liefde dan nie gehelp het dat hulle rondom die probleem kan werk nie?
Verder dink ek aan Klein Joe en Martie met hulle 15 kinders. Martie was aan die einde voos vir die lewe en liefde was nie eens ‘n huurder in hulle huis nie. Aparte kamers en die kinders het mekaar groot gemaak. Joe was die Casanova wat elke rok gejag het. Sou die liefde hier verdamp het soos die kinders hulle verskyning gemaak het?
Liefde sny siele met lemme. Hy trou met haar. Sy ewige liefde. En wat gebeur? Sy vang hom saam met ‘n man slaap. Sy voel vuil, vernederd en woedend. Haar siel bloei ewig want hulle wêreld het skeef gekantel.
‘n Baba word in ‘n asblik opgetel. Vuil, met koerantpapier toegedraai. ‘n Bondeltjie lewe wat liefde moes wees en nou sonder liefde moet leef. En hy weet nie eers dat sy wêreld alreeds gekantel het nie.
Hulle is 25 jaar getroud. Hy word by die werk in ‘n skietongeluk ontman. Omdat hy nie meer ‘n man is nie skei sy hom en twee pragtige kinders verstaan nie waaroor hulle wêreld nou onderstebo gekantel is nie.
Die liefde is ‘n klipharde rots. Soos grou graniet.
Nee, ek dink eerder die liefde is ‘n taai tamaletjie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2022 – Liefde (OOP) projek