Teen ‘n Koorsboom se Albino-stam (vir Rudi)
Ek het ñ vriend, iewers in Afrika,
en al het ek hom nie fisies ontmoet nie,
spontaan hom nie aangeraak nie,
ken, ( asof van altyd af ), ek sy siel deur sy woorde
wat soos windswaels uit sy hart uit vlieg
om met elle-lange vlieswolkkoorde
ons grootwieldraai te meet in pyn en bieg.
Skiet uit die swartbas van sy kampvuur-oë
geel vonke wat die nag verlig,
as shongololo-reëns se blink reënboë
in verwondering oor sy wange big;
verpoos sy siel teen die albinostam van ‘n koorsboom
wat ontkiem in varingmos se bergforel;
ontvang hy: ‘gloek-gloek-sjampanje’, as kersgeskenk
toe beskroomd ‘n vleiloerie
die stalgeboorte gedenk.
Breek emosies soos ewige oseane,
hoog en diep en wyd en vry,
as die wind sy mischievous-bane
net aan hom alleen bely;
lag hy soos daai malkuif-kaketoe
wat gat oor kop nog slaan,
word sy blydskap die uil se hoe-hoe
wat snik: ‘o hoe! ….. hoe mooi is die maan?’
En snags in die tjank van ‘n wolf
se vèraf verlange na sy maat,
dobber reddeloos sy siel van golf tot golf
oor liefdes angs en pyn en haat;
maar al gaan sy swerf deur dor woestyne,
deur seisoene van na- en voorjaars bot en vrek,
gooi hoop steeds uit, sy sterk vislyne
‘n knewel trots, weer uit te trek.
Ek het ‘n vriend iewers in Afrika
met innige passie vir poësie en taal;
weeg hy sonder afguns met kritiese applous
elk aspirantdigter se woorde op sy geykte skaal;
neem sy raad hul na die sterre op,
om sielalleen in die lig van ‘n kers,
vryvoet oor groen heuwels te gallop
tot hul barensnood bloederig en asemloosverleë
aan ‘n naelstringvers geboorte gee –
om aan almal wat wil sien en hoor
dit hard en duidelik uit te skree.
Ek het ‘n vriend ……..
©Elizabeth Greef
7 Kommentare
-
-
Anze
wow.. briljant!!!
-
neels
Sjoe Elizabeth op haar beste
-
Viooltjie
Hierdie gedig van jou gee my letterlik hoendervleis, Elizabeth. En dis nie die eerste keer dat ek dit lees nie. WELGEDAAN!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Evelyn van der Merwe
Weereens beskrywings uit die boonste rakke gebruik. Pragtig.