
Toe Jy Myne Was
Toe Jy Myne Was
Ek sit en tik ingedagte
met die lepel teen die
melkskommelglas in ons
hoekkafeetjie by die strand
mymerend oor ons kuiertjies hier
lank gelede
toe jy nog myne was
en ek wonder
of jy nog onthou – – –
Strandlangs
het ons hand aan hand
in die vlakwater gestap
en die groeiende gety
se kragtige branderbreek
oor die rotse geniet en met
wind in die hare en vonkel in die oë
geskater vir eie kaskenades en grappies
lank gelede
toe jy nog myne was,
hulle noem dit emigrasie – – –
Die ou drukkies en soentjies op
sag gewillige lippe in tere oomblikke
voel nog tasbaar sag op my mond
en ek besef dat ek sit en droom,
dit was reeds lank gelede
toe jy nog myne was
hulle noem dit emigrasie – – –
Nou loop jy met iemand anders
op vreemde strande in ‘n ander land
en ek wonder of jy nog onthou
hoe dit was lank gelede
toe jy nog myne was,
hulle noem dit emigrasie – – –
Janetta – Helena [Babs]
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.