
Toe nie heeltemal so gek nie
(Woordtelling : 1092)
Die lewe is verseker nie ʼn maklike reis nie, al kan dit nogal interessant wees. Die tuimel trein se harnas word met geboorte vasgemaak en daar gaat jy! Nou moet jy maar net klou deur al die op-en-af gebeurtenisse en hoop dat jy nie in die proses jou uhm, tande verloor nie. Maar ten spyte van alles is dit nog steeds ʼn wonderlike en manjifieke plek waarin ons leef.
Ons het almal gebeurtenisse in ons lewe wat ons met liefde sou vermy het. Sommige daarvan het ons oor onsself gebring met slegte keuses, ander het net gebeur en jy word ʼn toeskouer in jou eie lewe. So word jy soms heel onwillig op die wilde rit saam gesleep en moet jy net vasklou in ʼn poging om nie in jou smart te verdrink nie.
Dit is egter ons ingesteldheid, wat jy glo, en in Wie jy glo. Moet nie vir ʼn enkele oomblik dink dat jou geloof in God sal keer dat groot dramas nie in jou lewe sal gebeur nie. Waar hierdie idee ooit posgevat het, weet ek nie, maar ek weet verseker dat dit ʼn onwaarheid is wat ons al vir geslagte lank oordra. Ek werk ook al lank genoeg met mense van diep gelowiges tot absolute ateïste, dat ek kan weet dat jou geloof jou nie vrywaar van emosionele pyn nie. En dat dit meestal ook nie jou geloof is wat jou daaruit kry nie, maar eerder introspeksie, om verantwoordelikheid te neem vir jou eie emosionele en geestelike welsyn, en die bereidwilligheid om jou denke te verander. Selfs die diepste gelowige kan ʼn houding van selfbejammering hê, of selfs ander blameer vir sy ongeluk, en die uiteinde van daardie saak is dat hy nie ʼn aks in enige rigting gaan beweeg nie. Nie eens God kan jou gedagtes verander nie.
Die oomblik wat jy wegkom van die idee dat God goeie dinge laat gebeur en die duiwel slegte dinge, het jy al ʼn trappie gevorder. Die lewe is net soos dit is, en dit is ons keuses wat dinge laat gebeur. Oorloë word deur niemand veroorsaak behalwe deur die mens homself wat inhalig en onverdraagsaam is nie. Nie God of die duiwel het sy vinger in daardie warm pasteitjie nie.
Ek lees onlangs op Facebook hoe die persoon die duiwel blameer vir ʼn ander se ernstige long toestand, sonder om in ag te neem dat daardie persoon deur haar eie rokerige gewoontes haar siekte veroorsaak het. Jip, as jy nie verantwoordelikheid vir jou dade wil neem nie, blameer net die duiwel. Selfs die spieël wat na jare se desperate vasklou aan die hangkas net een dag opgegee het, was ook die duiwel se werk. Die vent is darem besig hoor en ek is seker hy geniet al die aandag wat hy kry.
Dit is egter interessant hoe sterk die mens se gees kan wees. Veerkragtig eintlik. Meestal is jy baie sterker as wat jy dink en kan jy berge verskuif waarvoor jy op geen ander tyd kans voor sou sien nie. Aan die einde van elke dag kan jy ʼn sug van verligting gee dat daar nog ʼn dag verby is. Dit maak nie saak of jy teen ʼn slakkepas daardeur gekruip het nie, jy het nog ʼn dag oorleef om aan jou storie te las.
Die belangrikste is om goed te wees vir jouself. Moet jouself nie veroordeel oor dit wat jy nie nou kan doen nie, maar klop jouself op die skouer vir dit wat jy wel gedoen het, al was dit ook net om te erken dat jy vandag wragtag swaar gekry het. More is ʼn nuwe dag, wat dit ookal mag inhou. Miskien gaan die vrees weer sy koue kloue om jou hart slaan. Dalk gaan die verslawing weer die oorhand kry, of die rousmart weer in volle swang terug wees, meer intens en aakliger as gister of laas maand. Dalk is dit vir die eerste keer nóg meer skrikwekkend en hartverskeurend as enige ander dag en sal jy dalk begin wonder of jy dit ooit gaan oorleef. Jou emosies spring tussen histerie tot ongekende gevoelloosheid. Jou brein vertel dat dit nou ʼn goeie tyd is om na jou donker grot terug te keer en daar te bly lê totdat jou skelet verdor het, maar jou hart weier hartnekkig om tot stilstand te kom.
Ander het dit oorleef, maar gaan jý? Dit voel soms onmoontlik en ander mense is natuurlik baie sterker as jy. Tot jy ontdek dat jy sterker is as wat jy ooit van gedroom het.
Dit is niks minder as tragies dat mense nie net deur ander veroordeel en beskinder word oor die intense emosies wat hulle voel nie, maar dat ons onsself ook veroordeel omdat ons nie reageer soos die samelewing voorskryf nie. Die groter samelewing hanteer verlies en ander groot uitdagings met min simpatie, om nie eens te praat van empatie nie. As jy jou emosies kan ignoreer of op God afskuif, soveel beter. Dan hoef jy nie ander ongemaklik te laat voel met jou onbeheerste emosionele uitbarstings nie.
Die dae verander in maande, soms jare. Die tuimel trein se wilde skommel-rit is rustiger en kom selfs nou en dan tot stilstand. Jou emosies is minder rou en die eerste strale van die son breek deur. Die kole wat vroeër die vlamme hoog laat brand het, het nou ʼn verwelkomende hitte wat jou van die binnekant af verwarm. Jy leer hoe om met liefde te onthou en nie aan die pyn van gister vas te klou nie. Jy leer dat dit okei is om die drade van jou lewe op te tel en die beste te maak van dit wat oor is. Jy vergeet nie, maar jy kan die pyn eenkant neersit. Jy kry ʼn manier om jou vrees vir die lewe te oorkom en voluit te leef, soos wat dit vooraf reeds bestem was. Niks gebeur immers sonder die groter lewensplan nie, al is dit soms moeilik om te glo.
Dit was nooit die plan dat ons ʼn “human doing” moes wees nie, maar eerder ʼn “human being”. Iewers langs die pad het ons verleer hoe om werklik te leef en nie net geld na te jaag nie. Die lewe bestaan nie net uit werk, werk, werk van die more tot die aand, 365 dae van die jaar nie. Tyd om te rus en na die blomme langs die pad te kyk is kos vir jou siel. Gaan herlaai jou siel so ʼn bietjie in die natuur, daar waar die jakkals tjank en die sonbesies skree. Dalk op die rotse waar die branders se sproei klam teen jou gesig en hare waai. Gee jou emosies en swaarkry staanplek in jou lewe, kyk daarna, en dan sal dit ook verby gaan.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Mei 2024 - OOP projek