toekoms van die verlede (silwer)
toekoms van die verlede
met troffel en kwas
het ek my woorde
strata-strata
oopgevee opgegrawe ontbloot
gebeitel uit sandsteen en sediment
met skoppe en skudskerms bros gebeentes uitgesif
gesoek na skinderstories en staaltjies
geheime toegespoel onder lae van leef en leed
gefossileerde fragmente afgestof
vir nog ’n goue renoster
(soos die een van Mapungubwe)
maar net onopsigtelike klipwerktuigies gevind
ek’t gegrabbel vir artefakte van waarde
maar tussen stof en sand en klip en gruis
kry ek net ontbinde brokstukke
potskerwe van iets wat eens bruikbaar was
maar nie meer is nie
nou is dit wat dit is
argaïes
©Hester Steenkamp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Mei 2024 - OOP projek