TYD
Tyd loop in ‘n lyn
van daar waar dit begin
tot waar dit in die niet verdwyn
dit het ‘n vasgestelde metrum
sestig in ‘n deel,
maar omdat die ou lewe nie musiek is nie
kan ons op ongelyke ritmes speel…
soms kruip dit baie s t a d i g
en m i n u t e word ‘n u u r
maar soms voel dit of dae
maar net ‘n paar minute duur…
tyd is egter nodig
vir ons daaglikse bestaan
want sonder tyd en metrum
en die dae se kom en gaan
sou ons menslike beperkte denke
in waansinnigheid vergaan,
so moenie kla as tyd sy voete sleep
of dae soos mis verdwyn nie
want ‘n dag is soos ‘n duisend jaar
en duisend jare soos ‘n dag
maar deur die ure dae jare
hou Hy trou oor ons die wag!
© Anton Bosch 05/03/2019
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.