Jongste aktiwiteit:

UILSPIEËLERY

UILSPIEËLERY

Till Eulenspiegel is in 1350 op Mölln in die Duitse Kleinstaat (Koninkryk) Braunschweig in die Noorde gebore – ás hy gebore is. Dit is nie bekend of hy ooit gebore is nie, maar ás hy gebore is, is hy seker ook gestorwe; niemand kan sê wanneer en waar nie. ‘n Vlaamse skrywer (Vondel?) meen dat hy in België aan die lig van die dag gekom het. Maar of hy gebore is oftenot, hy lewe vandag nog in die staaltjies en verhaaltjies oor sy doen en late. En baie mense in baie landstreke van die Swartmeer tot die Hempsmou-Kanaal ken hom as iemand wat „hier by ons” sy poetse gebak en sy waarhede op sy eiesinnige manier verkondig het.

Nomen est omen: Die betekenis van sy naam? Die wyse voël, die uil hou die mense, die mens, die mensheid, ‘n spieël voor. Veral die „hoë kokkedore”, die konings, prinse, vorste, burgemeesters en biskoppe sou die skerp slag van sy tong speur, soos hy hulle ontbloot het, soos hy hulle hul eie aangesig laat sien het.

Herrmann Bote, die skriba van Braunschweig, het heelwat later Uilspieël se skelmstreke versamel en in 1510 laat druk; hy het hulle „Historien” genoem en baie histórië is vandag nog geldige waarheid, soos dit blyk. Sy boek is in elk geval tot „Volksboek” verklaar en het tot nou al oor die drie-honderd uitgawes in verskillende lande en tale beleef, van verskeie skrywers vertolk. Uit Uilspieël se eskapades het oor die vyf-honderd gedigte ontstaan. Hy leef vandag nog oral in die wêreld waar sy waarhede versprei word.

Vir verskillende mense te verskillende tye op verskillende plekke beteken sy histórië verskillendes. Vir my pas volgendes vandag nog in ons wêreld toe. Miskien het ander mense ‘n ander lieflingstuk wat hulle ook wil vertel?

ͼͽ

DIE HERTOG SE KOEIE

Toe Uilspieël reeds baie lande en stede besoek het, het hy na sy tuisland Braunschweig teruggekeer om te kyk of reg en billigheid daar ook so nood gely het soos in ander lande. Nadat hy alles aangekyk het, merk hy dat dit hier soos oral op die wêreld ewe erg en ewe goed was – die mense was almal oral dieselfde. Die armes was net so bedelarm en die rykes ewe snoep. Dit wat ons vandag korrupsie noem, was hier soos daar aan die orde van die dag.

Dit het hom treurig gemaak. Toe loop hy na die hertog van Wolfenbüttel en vra om ‘n amp, ‘n werk in adelike diens.

„Watse amp? Wat kan jy jou voorstel? Ek het nie ‘n pos vry nie. My beamptes dien my getrou en ek hoef nie een van hulle uit te ruil nie.”

„Edelagbaar, ek wil nie ‘n groot amp met verantwoordelikheid vir die land se sekerheid en welvaart hê nie. Ag, die kleinste amp wat u oorhet.”

„Byvoorbeeld? Ek het nie geld om ‘n loon te betaal nie.”

„Ek laat u koeie wei.”

„En waarvan wil jy lewe?”

„Ek melk u koeie,” sê Uilspieël en glimlag.

Toe kry hy ook die amp vir drie jare toegestaan.

ͼͽ

Uilspieël skryf dadelik ‘n brief aan die dorpraad van Schöppenstedt waarin hy sê dat hy as amptelike koeiherder die hertoglike koeie op hulle meent wil laat wei. Die raadshere is verskrik want hulle is bang dat die hertog se koeie hul weiland gaan kaalvreet en dat daar nie genoeg vir die eie koeie gaan oorbly nie. Die koeie moet tog op die hertog se weiveld by Wolfenbüttel bly! Hulle besluit toe om ‘n boodskapper te stuur met goeie redes waarom hulle nie hul weiland kan afgee nie.

Die boodskapper verklaar dat die groot droogte die gras by hulle tot op ‘n minimum afgebrand het en dat die sterk reën daarna die gebied suur en ongenietbaar gemaak het. Toe sit hy ‘n leersak met twintig gulden daarin op die tafel om sy argumentasie te onderstreep.

„Ja-nee, dis mos geldige redes vir vanjaar,” meen Uilspieëö en stuur die boodskapper terug huistoe. Toe sit hy aan en skryf ‘n brief aan die dorpraad van Schöningen waarin hy bekendgee dat hy as die hertog se amptelike koeiherder sy koeie op hul grond wil laat wei. Die dorpraad is net so verskrik soos die Schöppenstedters en stuur dadelik ‘n boodskapper met goeie redes waarom hulle nie hul grond kan afstaan nie. Natuurlik is Uilspieël nie tevrede tot hul goeie redes twintig gulden bedra nie. Toe eers sê hy dat dit vir vanjaar geldig is.

En so het hy met die dorprade van alle dorpe in die omgewing te werk gegaan. En dit elke jaar.

ͼͽ

As die drie jare om is, onthou die hertog van Wolfenbüttel sy nederigste amptenaar en ry uit om te sien hoe gaan dit met hom. En met sy vee ook, natuurlik.

Hy kry Uilspieël waar hy onder ‘n koelteboom sit en tafel. Hy het ‘n duur rooi gewand aan, en een bediende skep kos op sy bord terwyl ‘n ander een hom wyn inskink. Sy lakeie pas op die hertog se vee op. En pleks van ‘n lendelam ou karretjie waarin armsalige veeherders gewoonlik hul karige eiendom saamneem en waaronder hulle slaap, staan daar ‘n pragtige vierspan koets.

Natuurlik wil die hertog weet wat hier aangaan. Soos dit sy manier is, gee Uilspieël antwoord in rymvorm:

                     „En is die ampie nog so min,

                      dit bring meer geld as arbeid in.”

Die hertog laat hom alles haarfyn verklaar, hoe hy dit reggekry het om so gou tot sulke weelde te kan kom. „So-so? Maak dat jy hier wegkom! Dadelik en sovoort, hoor jy! En dat jy my nooit weer onder die oë kom nie!”

Uilspieël verdwyn in die een rigting en die hertog keer in die ander rigting na sy burg terug, waar hy uitdruklike bevele gee dat sy beraders hierdie soort misdadigheid ‘n einde moet maak. Niemand mag sy koeie melk – of skeer of skaaf nie. Of sy onderdane ook nie.

Net hy self.

ͼͽ

[Verbeel ek my, of is hierdie les vandag nog so aktueel soos toe?]

©5e.Oktober2018……..ͼͽ………………………….tje




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed