Jongste aktiwiteit:

Uit die mond van die suigeling . . .

Elkeen van ons (veral oumas en oupas) se hart is uitverkoop aan die dierbaarheid van suikerbekkies.
Daardie einste suikersoet ‘bekkies’ wat op die mees onverwagse tye die snaakste wys- en waarhede kan kwytraak, so opreg en onskuldig. Die beste medisyne vir ‘n suur en donker gemoed.
Ek verluister en verlekker my in hul onskuld en denkwyse, wat nog te sê hul redenasievermoë.
Ek het vroeër jare Sondagskool gegee vir kleintjies, hulle vreeslik geniet. So behandel ek eenkeer die les van die verlore seun en vra wat hulle sal doen as hulle sou wegraak. Een seuntjie spring op: “Juffrou, Juffrou … ek sal by die bottelstoor gaan wag, want my pa koop altyd daar bier.” (Die pa was ‘n vooraanstaande man in die kerk en gemeenskap.)
My eie seun, nou ‘n man van 34, was baie lief vir sing, het altyd uit volle bors saamgesing in die kerk en Sondagskool. Eendag hoor ek hy vloei nie so lekker saam met die res nie en hoor toe hy sing: “Liewe, liewe Jesus, vlekkelose Lam, Hy is die leeu, die leeu wat my wil vang.” Ipv “Hy is die leeu, die leeu van Judastam.” Hehe…kom, kry gerus nog ‘n “marsmallow”
Eendag vra hy, toe hy so vyf/ses jaar oud was: “Ma, wat beteken verkrag?” My gedagtes spin in “overdrive” om die regte verduideliking sinvol en smaakvol te kan gee. “Mmm, dit my seun, is as iemand jou baie, baie seermaak” begin ek versigtig, maar voordat ek verder kon verduidelik, val hy my in die rede en sê: “Aag issie, Ma, dit is as iemand jou dood sjok.” 
My jongste dogter, nou al 26, staan eenkeer hande in die sye en kyk hoe pappa voor die spieël staan en sy hare droogmaak. PT-broek aan en boepens wat lekker uitbult. (Mans dink mos oor die algemeen hulle is vreeslik seksie gebou (seksie op seksie). Wel, sy het lekker sy “bubble” gebars toe sy ewe kordaat vra: “Pappa, pas jou magie nie in nie?”
My Sus kuier jare gelede by ons en vertel van ‘n vriendin se dogtertjie (so 2/3 jaar) wat van tyd tot tyd saam met haar ma in die badkamer kom as die pa bad en iets benodig. Dan gooi hy maar ewe beleefd ‘n waslappie oor die sensitiewe plekkie as beskerming teen nuuskierige ogies. Eendag word hy egter onkant gevang en kry te laat die waslappie in die hande. Sien hoe kleinding nuuskierig oor die bad se rand loer en suikersoet vra: “Drink hy water?” Whahaha… (Sy het seker aan oom Olifant gedink)
So kan ons heerlik klets en lag oor al die kleingoed se sêgoed. Deel gerus daardie sêgoed wat jou so laat skater, dalk . . . net dalk, blaas dit weer nuwe vuur in jou en ander se gemoed.
Gag en laat lag!
©Driekie Grobler
(470 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed