Uitslae en kommentaar Mei 2021 – OOP projek
Baie geluk aan hierdie 14 lede!
GEDIGTE:
GOUD:
1STE: No 25 Andries Fourie (Seirdna) met Wroeging van ‘n talentvolle skrywer
2DE: No 24 Andries Fourie (Seirdna) met Erfenis (‘n Gedig aan ons land)
3DE: No 22 Anzè Bezuidenhout met Bosveldstorm
EERVOLLE VERMELDING: No 28 Caren Kearley met Flentervrou
SILWER:
1STE: No 35 Annamarie vd Merwe met Genisis
2DE: No 32 Zebulon Kochk met Passieblomgedig
3DE: No 31 Elmarie Nienaber van Kampen met poppemeester
EERVOLLE VERMELDING: No 21 & No 30 Morne du Preez met Sandkastele & Elmarie Nienaber van Kampen met tweede kans
BRONS:
1STE: No 4 Koos Elsum met Werk druk
2DE: No 1 Francois Meyer (Gedagtes) met Uitspattig
3DE: No 7 Carmen Edward (iron Lady) met Stom
EERVOLLE VERMELDING: No 2 Charles Skeen (Tearlach) met Visie
GORREL:
No 1 Driekie Grobler met Geknoffel
ARTIKEL: GEEN INSKRYWINGS
RUBRIEK:
1STE: No 1 Driekie Grobler met Lewensvreugde
VERHALE:
1STE: No 3 Riaan Palmer met Dans
2DE: No 1 Taai Bonthuys met Ek en die internet
GEEN
KOMMENTAAR
GEDIGTE
BRONS
1..Uitspattig
Soos `n wafferse patoloog, wil ek hierdie gedig dissekteer tot op die been. Waarom sal ek so “nádoodsondersoekend” wil omgaan met jou vers en nie net kommentaar lewer nie? Dit is alvorens wat my taak behoort te wees, of hoe? Met hierdie vers is dit bloot net nie só eenvoudig nie. Met die eerste oogopslag wil die vers `n kriptiese gevoel laat; so asof die skrywer lukraak woorde ontgin sonder dat dit met mekaar verband hou. Dit is egter nie waar nie. Dit word gou duidelik dat die woorde werklik sorgvuldig gekies is. Ek kan nie, en wil ook nie, voorgee dat ek die oorweging vir elke woord verstaan nie, maar daar is genoegsame vleis om die been sodat ek `n wilde interpretasie kan waag.
Ek het onlangs `n meningstuk (Ek hoef nie poēsie te verstaan nie) op INK geplaas, juis oor die onderwerp van verstaan en interpretasie. Jy kan dit gerus ook lees as jy wil.
Wat lees ek dus in jou vers raak? Die koeplet laat die kat uit die mou. Eerstens, skep dit ‘n goeie volta en ontsluit (bied `n uitkoms) dit die emosionele gestoeiery waaraan die res van die vers gekenmerk word.
Ek word egter met twee gedagtes gelaat:
1. Indien die vers die wedervaringe van `n werklike roeier beskryf, verstaan ek nie die gebruik van stoei nie;
2. Indien dit `n drenkeling is (soos in jou eerste strofe aangedui word) dan verstaan ek nie die gebruik van roei nie.
Hoe dit ookal is, elke leser kan hieruit neem wat hom/haar geval.
Ek persoonlik hou van die vers maar balanseer op die krans van versigtigheid aangaande die nodigheid van byvoorbeeld twee sterk werkwoorde (1ste strofe, reël 3), die weglating van die komma tussen bogenoemde; twee byvoeglike naamwoorde wat mekaar volg (2 de strofe, reël 3) ensovoorts. Dit het, soos ek by aanvang gesê het, juis bygedra tot die “kriptiese” ervaring wat ek in die vers gekry het. Die vers ontbreek effe aan `n gelykmatige ritme, maar dit is dalk net omdat ek akademies daarna kyk.
Ek hou van die vers, en ten spyte van my uitgebreide “kritiese” waarnemings dink ek tóg dat jy `n besonderse vers geskryf het. Welgedaan.
2..Visie
Daar is baie woorde wat in die vers herhaal word. Dit opsigself is nie hinderlik nie, maar in die geval waar funksionele alternatiewe bestaan dink ek tog as digter behoort jy sulke sinonieme te ondersoek. Kom ons bekyk jou tweede strofe en evalueer hoe dit “anders” aangebied kon gewees het.
“ek maak visuele notas
vir die oudag as die oë swakker sien
herhalende beelde, mooi en rein
om dán weer te refrein”
Ek wil nie verwaand inroer in jou vers nie maar probeer bloot demonstreer dat ritme `n musikale maat by `n vers voeg.
Ek hou van die idee wat die vers skep dat die mens soms stil moet word en die skoonheid waardeer, want, sonder ritme of rede gaan die ouderdom ons inhaal. Jou vers het baie potensiaal en ek sal wil sien dat jy dit tot volle glorie ontwikkel.
Dankie vir jou deelname.
4..Werkdruk
Ek lees onlangs, in `n artikel, die volgende raak: “Die noukeurige seleksie van woorde vir bondigheid en duidelikheid is selfs vir prosaskrywers basies, maar [by] digters gaan dit veel verder as die emosionele eienskappe van ‘n woord, die musikale waarde daarvan, die spasiëring en selfs die ruimtelike verhouding met die bladsy.”*
Toe ek jou gedig lees herinner dit my aan dié gedeelte van die artikel. Ek het besluit om dit hier aan te haal.
Ek persoonlik hou nie van “die telegram vers” (soos ek dit noem) waar Asindeton lukraak toegepas word nie. In die geval van jóú vers het ek egter nie daardie voorbehoud nie. Jy het baie slim te werk gegaan met die woordkeuses. Die woorde en sinne is nie bloot net wat mens lees nie maar het `n dieper betekenis. `n Enkele voorbeeld: “in môre blou” is duidelik `n verwysing na `n Maandag of die skoonheid van `n onbewolkte dag. Die verband tussen blink en rekenskap; rooi gestoeltes, brand en middagson; donker en alleen is werklik ongelooflike slim keuses. Ek kan sien dat jy genoegsame aandag hieraan bestee het om dit nie nét `n slim vers nie, maar ook `n tersaaklike en treffende een te maak. Jou vernuf het my beïndruk.
*af.warbletoncounsil.org (13 Eienskappe van `n gedig / outeur onbekend)
5.. Grassade in die wind
Jou titel en die eerste sin het `n baie sterk refleksie op die Afrikaanse liedjie met dieselfde titel. Miskien moet jy net `n voetnota aanheg met verwysing daarna. Jou vers is geheel nie intertekstueel op die liedjie nie, maar ter wille van eerbaarheid en goeie maniere sou ek aanraai dat jy dit wel doen. Moenie sinne ná `n ellips met hoofletters begin nie. Dis bloot onnodig. Die konstruksie is effe kripties wat myns insiens aan die ritme krap. Soek `n mooi Afrikaanse alternatief vir “worries”. Dankie vir jou deelname.
6.. mamma
Ek weet nie of die herhaling hierin werklik bydra tot `n suksevolle vers nie. Persoonlik hinder die herhaling my, maar, ander lesers mag dalk die nodigheid daarvoor sien.
In digkuns beskik die digter oor verskeie instrumente om die vers te laat slaag. In hierdie geval het jy veral twee opsies gehad. Repetisie, Angora óf enumerasie. Repetisie is beklemtoning deur oordoen, oorsê en oorvertel. Enumerasie is die opnoeming van sekere sake of begrippe (híér, eienskappe) wat soms lyk asof hulle nié bymekaar pas nie. Jy gebruik nl. angora, waar die herhaling van dieselfde woord of begrip aan die begin van versreëls gebruik word. Is dit die beste keuse, en sou punktuasie nie kon bydrae om die herhaling te vermy nie? Ek dink wel so maar ek neem aan jy het die vers met opset so aangebied. Dankie vir jou deelname.
7.. Stom
Ek hou van jou kwatryn. Dit skets `n pragtige beeld. Ek sou een wiesewasie “kritiek” hê. Is “krampagtig” werklik die beste keuse om die “emosie” te beskryf? Dit gee `n effe negatiewe blik op `n positiewe ervaring. Ek het `n paar voorstelle as alternatief: “gapend”, “oorstelp” en selfs “konfuus”. Jy kan self evalueer of my mening jou geval. Dankie vir `n heerlike kragtoertjie.
9.. Deur my lens
`n Minder ernstige, selfs lighartige, kykie van wat agter die lens gebeur. Het jy `n geforseerde rympatroon geskep deur jou woordkeuse? Ek kan nie regtig besluit nie, maar dit hinder my tog so effe. Jou ligte aanslag laat my toe om dit minder ernstig te evalueer en daarom gee ek jou die voordeel. Dankie vir jou deelname.
13.. Vra
In die vers tree die skrywer in gesprek met hom- / haarself én betrek ook die uitsprake van andere. Ek neem aan die gesprek, soos dit soms met introspeksie gaan, is geratbraak en onsamehangend. Dit is ‘n seleksie van gebroke sinne en gedagtes. Gedeeltes van die vers is dus dan ook dialoog wat so aangeteken is.
Dubbel ontkenning ontbreek. Die vers is nie die mooiste konstruksie wat ek al ooit gesien het nie, maar dit dui juis op die worsteling. Ek dink jy het daarin geslaag om die emosie vas te vang. Dankie vir jou deelname.
14.. Wat kyk jy?
Kom ons soek `n geskikte sinoniem vir die herhaling van ploeg(skaar): “roleg, beuel, kouter” om maar `n paar te noem.
Ek het in `n ander kommentaar hierdie maand uitgebrei oor die rol van interpretasie. Ek wil nie alles herhaal nie so ek gaan jou vra om deur die ander kommentare te lees om dit onder oë te kry. Die eerste vers wil-wil vir my die ondergang van erfgrond beskryf, maar dit blyk meer na personifikasie te lyk wat die menslike kondisie behandel. Ek lees dinge raak wat beskrywend en bekend is maar die gedig in geheel is onsamehangend. Dit is slegs `n persoonlike indruk en ander lesers sal sonder twyfel pitkos en vreugde hieruit put. Daar is natuurlik `n heel eenvoudige interpretasie as dit die stem van die trekker self is. Dit daar gelaat. Ek wil konsentreer op die konstruksie van die vers. Daar is soveel beskrywende s.nw’e en werkwoorde dat dit vir my as leser moeilik is om te bepaal wie, wat en waar. Die tipografie is mooi, en veral die “stotterende” einde wat in kort sinne aangebied is. Die eerste strofe in die vers staan vir my uit. Gesels gerus met my op inkmoderator@gmail.com indien jy nié met my kommentaar saam stem nie.
15.. Spieëlbeeld
Vermy asseblief die gebruik van hoofletters om elke sin te begin. `n Ode, veral aan `n moeder, is altyd `n eerlike affêre omdat die band tussen haar en haar kinders uniek is. Jou vers laat jou egter in die steek, en ek sê jou hoekom:
1. Die gebruik van woordkeuses soos byvoorbeeld “op `n ander planeet se baan” skep uitdagings vir jou vers:
a. Dit sou “in” en nié “op” wees nie:
b. Die gebruik van hierdie sin is nét sodat jy `n rympatroon met “vandaan” kan skep en is geensins bydraend tot die vers nie:
c. Die dubbel ontkenning in Afrikaans klink beter, sien str 1, reël 3;
2. Die uitdrukking “skerp soos `n potlood” maak die vers ligsinnig klink;
3. Dubbel ontkenning strofe 2, reël 2;
4. Die sin “sy laat spore van agter haar” lees nie mooi nie. “Van” kan weggelaat word;
5. Herhaling van “spieëlbeeld” en “versoen”. Goeie alternatiewe kan eerder gebruik word;
Jou vers sal daarby baat as jy selektiewe redigering doen. Dankie vir jou deelname.
16.. Sy is
Spelfoute: “herinner” nié, “herhinner” nie;
“lokomotief” en nié “lokomatief” nie. Alhoewel jou vers baie interessant is, laat die spelfoute jou in die steek en hou jou van die podium af.
19.. Druppelgenies vrou
Waarop dui jou titel? `n Genetiese mutasie of verwys dit na `n liggaamlike funksie van “nies”? As ek jou vers lees, leun ek na die eerste interpretasie.
In die eerste strofe, reël 2, sou ek `n klein aanpassing maak nl.: “vloeibaar en veranderlik”
Is “mosverdiend” `n kompliment teenoor die genetiese mutasie? Vir my dui dit op deursettingsvermoë en ouderdom. As ek reg is, is dit `n baie slim manier om onopsigtelik te verwys na die jare waarin die “waterval” deur rots beur om steeds `n ongelooflike prentjie te skep.
Die nuutskepping waar jy “mis” en “maskerade” vleg is pragtig.
Joviaal en flambojant in hierdie konteks beteken naby dieselfde en dus, ter wille van jou ritme daar, kan jy sonder een van die twee doen. Joviaal in jou vers is ook verkeerd gespel.
Ek maak altyd staat op die digter om die skoonheid in en om die mensdom raak te sien en te beskryf. Jy het my nié teleurgestel nie.
Pragtige werk, net jammer dat jy `n spelfout laat deurglip het.
23.. Swendel in die grendel
Jou gedig spreek `n probleem van óns dag aan. Die gebruik van “pak/boetiekrok” is slordig. Dit lyk nie mooi in `n gedig nie. Verder is jou gedig nie woordekonomies nie. Ek persoonlik sal hieraan skaaf om effe van die “swaarheid” ontslae te raak. Dankie vir jou deelname.
26..Perspektiewe
“Nie wat nie, maar hoe een dit sê…” het ek eens iewers gehoor. Jou gedig spreek `n tammeletjie aan, en dit is goed. Ek hou baie van jou laaste strofe wat die wysheid waarna die vers soek, mooi saamvat. Ek wonder of die herhaling van “perspektief”, “reg”, “verkeerd” en “verskillende/verskille” nie met sinonieme kon baat nie?
`n Pragtige sinoniem vir perspektief byvoorbeeld is “mirasie”. Ek is seker jy kan vir die ander óók iets gepas vind. Goeie vers vol begrip.
SILWER
3.. Doudruppel-trane
Kom ons bespreek eerste die mees opvallende kenmerk van jou vers: elke nuwe strofe begin met `n hoofletter sonder dat dit deur een of ander punktuasie voorafgegaan word. Dit hoort nié so nie.
Kom ons takel ook die jakkals wat soveel digwerk verrinneweer, naamlik geyktheid. Ek neem twee sinsnedes uit jou eerste strofe, en ondersoek dit. (1) “seer van ons gisters” en “vrees van ons môres”, as voorbeeld. Met die gebruik van die bekende soekenjin, spoor ek menigte voorbeelde op waar ander skrywers soortgelyke woordkeuses gebruik het. Jy mag redeneer dat jy dit die eerste keer gebruik, en al is dit waar en juis, maak dit nie die gebruik daarvan minder geyk nie. Ek gee toe, dit is ook nie jou verantwoordelikheid om elke sin so te evalueer nie, maar, indien jy `n varsheid aan jou leser wil opdis verg dit ekstra tyd en aandag. Dink só daaroor: as skrywer lees jy self baie, nie waar nie? Met jou leeservaring moet jy sekere idees en gedagtes identifiseer wat gereeld gebruik word, en dit dan probeer vermy as dit by jou eie skryfwerk kom. Suksesvolle poësie is nie opgesmukte sinonieme nie; dit is eerder eerlike moedertaal weergawes van jou eie emosies en ervaringe, maar daar moet tóg gestreef word om ou dinge op nuwe maniere te sê. Dit is nie `n dooie oefening nie maar eerder `n wederbarende aanslag om sélf ook nuwe woorde en nuwe maniere aan te leer om iets oor te dra wat duisende voor ons reeds gesê het.
Jou derde strofe herinner aan Bob Dylan se “Forever young” maar dit is vir seker nie intertekstueel nie. Wat sou “mag ons die dieper lyne van die lewe verstaan”? Waarom gebruik jy juis die woord “lyne”?
Die spasie tussen die laaste twee strofes is nie funksioneel nie. Dit sal beter wees as jy die strofes versmelt.
Ek hou van jou gebed-vers. Dit is eerlik en aards. Ek vertrou tog jy sal my leiding hierbo ter harte neem. Dankie vir jou deelname.
8.. korona, die pot en die ketel
“daar is ‘n mos nou `n nuwe normaal”?
Die gebruik van “swart haan” mag lyk of jy dit nét gebruik het om `n rympatroon te skep, maar dit is `n baie slim keuse. Daar bestaan `n bygeloof in Mexico (en dalk elders ook) dat `n swart haan `n voorbode vir die dood is. Jy gebruik dit dus om die dood van die ekonomie te beskryf.
3de strofe, 2de sin: laat die “en” weg en vervang die met `n komma.
3de strofe, 4de sin: plaas `n aksent op nié.
Die inversie in die 2de laaste sin van die laaste paragraaf het my aanvanklik gehinder, maar ek verstaan waarom jy daardie keuse gemaak het.
Geslaagde satiriese vers.
10.. Apokalipties
Ek hou van jou vers, sommer baie. Daar is tog `n paar hinderlikhede wat ons moet aanspreek.
1. Die herhaling van apokalipties(e) pla. Miskien kan jy `n sinoniem oorweeg. Dalk “katastrofies” of “kataklismies” wat “verandering” ook kan beteken. As voorbeeld, kom ons kyk gou na daardie sin in die 3de strofe:
“…die veranderlike tyding
vanuit jou oë…”
wat maklik kan werk en steeds die volle betekenis behou.
2. Die herhaling van “begin” in een sin klink lomp. Oorweeg om een te verander. Ek sien die spesifieke sin so:
“Dit het ontkiem by die begin…”
3. Die onderbreking, van die woordorde en woordkeuses by én tussen die laaste twee strofes is bloot net nié funksioneel nie. Die laaste strofe omskryf die laaste sin in die 3de strofe daarom sou dit beter wees as die oorvloei sonder `n spasie is.
Ek dink dit is `n besonderse vers en met minimale aanpassing of verandering kan hy skitter.
11.. Seile voor die wind
Om `n afgeronde en funksionele rympatroon te skep is seker een van die moeilikste take wat `n digter hom- / haarself kan oplê. Daar is so baie strikke waarin mens kan trap. Dinge soos `n patroon wat geforseerd is wat veroorsaak word deur verkeerde woordkeuse. Ek wil `n enkele voorbeeld in jou vers uitlig:
“sodat om `n bestemming kan vind.” (1ste strofe, reël 4)
Kan `n bestemming werklik gevind word? Ek het in `n paar bronne gaan oplees, en my afleiding is, nee! As die bestemming omskryf word met iets soos vrede en vreugde dan kan dit gevind word. Die kollokasiewoordeboek (en andere) wys duidelik dat “bereik” die korrekte werkwoord is om saam bestemming (s.nw) te gebruik. Is dit alles semantiek? Dalk. In die geval van poësie egter, myns insiens, wil dit lyk asof jy “vind” slégs gebruik het om te rym. Dit skep dus `n geforseerde rym. Indien jou vers dieselfde deurlopende rympatroon gehad het, sou ek beter verstaan waarom die gebruik daarvan vir jou belangrik is, Jou rympatroon is egter wisselvallend.
Die gebruik van die werkwoord “taan” is vir my `n pragtige keuse. Baie min mense weet dat dit buiten “wegkwyn” kan beteken, ook “kleur verloor” of “van kleur verander” kan wees. `n Bootjie wat op die oseaan dobber, sal juis kleur verloor in die son. Slim keuse.
Moenie die 4de strofe met “en” begin nie. Dit lees mooier daarsonder.
Die vers sluit baie mooi en sterk.
Jou vers lewer `n belangrike lewensles. Elke digter is `n leermeester. Mooi gedoen.
12.. Gedagtes oor jou
Ek wil so baie graag van hierdie vers hou, maar die geykte gebruik van “gisters”, “onthou”, “vergete herinnerings”, “donker van pyn en seer”, “liefdesgeskenk” ens. ens. maak dit vir my moeilik. Ek is seker onregverdig hard op jou, maar aangesien jy reeds in die silwer kategorie deelneem het ek gedink jy sal dalk die kritiek beter verteer. Ek sal graag wil verduidelik waarom ek so sterk hieroor voel. As mens werklik honderde verse elke maand lees, dan begin die patrone duidelik word. Skrywers raak bloot lui. Woordeboeke word ons vyand want die ernstige dringendheid nét om te plaas word ons meester. Ek gaan my siening staaf soos volg: kom ons bekyk drie moontlikhede vir die “geykte” woorde. (Daar is natuurlik veel meer as drie, maar ter wille van tyd en spasie)
1. Gisters: tevore; indertyd; toenmalig
2. Onthou: byval; eien; herroep
3. Vergete: verslyt; verdroom; lanterfanter
4. Herinnering(e)(s): terugflits; piëteit; heugenis
5. Donker: ligloos; somber; beneweld
6. Pyn: leed; misère; agonie
7. Seer: wond; bekaf; triestig
8. Liefdesgeskenk: legaat; present; bewilliging
In slegs `n paar minute kon ek met `n rits sinonieme voorendag kom. Dink wat bereik kan word as jy `n woordeboek nader sleep. Ek moedig jou aan om aan te hou skryf en jou leser te bederf met heerlike nuwe idees en woorde. Dankie vir jou deelname.
17.. Dorre takke
“Strooihalmvingers” en “sneeuwitwolke” sal sonder die afkappingsteken geskryf word. Verder, oorbeskrywing help nie jou vers nie. “Strooivingers” en “sneeuwolke” kan dieselfde indruk maak. Nog ‘n voorbeeld van té veel in jou sin: “tik die horlosie se wysers stadig om elke koue uur”. Hier het jy nie nodig om na wysers te verwys nie aangesien die leser reeds weet dit is hoe `n horlosie werk. Lukrake hoofletters aan die begin van sinne hoort nie. Jou vers beskik oor diepte en baie potensiaal. Vermy die versoeking om die leser met `n lepel te voer. Minder is soms meer. Ek hou van jou vers, jakkalsies ten spyt.
20.. geveerde woorde
Ek wil gou demonstreer hoe ons as digters die vermelding van die voor hand liggende kan vermy. `n Briefie kan tog nét geskryf word, daarom sal dit nie nodig wees om dit eens te noem nie. Kyk hoe ek jou eerste twee sinne verander het om te illustreer:
[`n briefie aan jou
op die veer van `n engelvlerk,]
Die opdrag wat ons onsself stel om poësie te pleeg, is vir seker nie `n maklike taak nie. Digters moet woorde só manipuleer dat dit nie nét roerend is nie, maar ook getrou probeer bly aan die basiese taalkundige opdragte. Digters het oor die algemeen meer vryheid, anders as in die prosa, maar ons moet poog om `n boorseltjie suiwerheid te behou. Ek sê geensins jou werk is daarvan ontneem nie. Nee. Ek gee net leiding. Probeer om nie die leser te borsvoed nie. Minder is soms meer, maar dit is ook nie evangelie nie. Jou vers het baie potensiaal en as jy effe daaraan skaaf gaan jy sien hoe heerlik dit kan lees.
21.. Sandsketse
Dit is `n interessante aanbieding. Die tipografie is prikkelend.
Ek het egter voorbehoud aangaande:
In die eerste twee “strofes” praat jy in die tweede persoon en dan teen die einde in die eerste. Die “hy” waarna jy verwys word nie werklik geïdentifiseer nie tensy dit dui op van Gogh? Ek hou van die vers. Dankie vir jou deelname.
27.. Winter 2004 (Vir Chris)
Spelling: herinnering;
Onthou die hakie op die [`n] asseblief.
Jou vers is keurig emosioneel gelaai en die beeldspraak is besonder. Waarlik `n besonderse mooi en tere vers. Die spelfout hou jou egter van die podium af.
30..Tweede kans
Die stilte wat onomatopee kan bring, is ‘n sagte, liefderyke gepleit in ons ore. ‘n Pragtige aardse vers. Jou kragtoertjie is mooi. Ek het een klein voorstel. Lees jou laaste strofe so:
“en vra jy my
vir ‘n tweede kans”
Jy kan steeds die akuut plaas soos jy verkies. Pragtig.
31..poppemeester
Formidabele en knaphandige digter, jy! Biedêm, dis’n skrander vers dié. Ek is beïndruk; sommer grensloos. Pragtig!
32..Passieblomgedig
Dit is ‘n uithaler vers. Jy toon ongelooflike beheer oor woordkeuse en -orde; dirigeer ‘n ritmiese geheel wat die leser betower totdat die laaste “noot” die see inloop. Ek het jou vers in die fynste besonderhede verorber en stap versadig en gelukkig weg. Ek het slegs ‘n klein voorstel vir die slotsin. Lees hom so:
“tot sy daardie dag die see inloop.”
Onoortroffe.
33..Ek is lief vir jou
Dit is ‘n aangrypende vers. Spelling van “geheue” hou jou egter van die podium af. In hierdie geval sal ek voorstel dat jy punktuasie oorweeg. Jou vers kan baat by ‘n stadiger pas. Die leser moet in die skoonheid van die outeur se versugtinge kan asem skep. Dit is werklik ‘n besonderse vers.
34..Bettysbaai
Dit is ‘n beeldryke vers. Die vers lees ritmies en nostalgies. ‘n Pragtige bydrae tot hierdie maand se projek. Dankie vir jou deelname.
35..Genesis
Dit is ‘n indrukwekkende vers met soveel diepte dat die leser versigtig moet inkyk terwyl hy/sy waak om nie in die grootsheid balans te verloor nie. Daar kom min verse oor my lessenaar wat tergelyk gewigtig én gewigloos is. Ek wil verduidelik. Die deursnit vers, waaronder menige uitstaande verse tel, boei die leser en wek ‘n bepaalde emosie. Jou vers doen dieselfde maar dit terg ook die metafisiese drang wat die mens het om voortdurend na ‘n Groter Beheer te soek. Jou eerlike openbaring dat die “dood” (of weggaan) kom torring het aan die “drang”, maak hierdie vers ‘n treffer. Jou woordkeuse en die beelde wat jy skep is in ‘n klas van hul eie. Welgedaan.
GOUD
18..Mag ek?
Nee! Vir ‘n digter wat in die Goue kategorie deelneem, is hierdie vers baie teleurstellend. Die vers is deurspek met geykte en holgeryde metafore en beelde. Ek gaan niks verder sê nie, behalwe dat daar vir seker varser maniere is om dieselfde dinge te sê.
22..Bosveldstorm
Die gedig is besonders beeldryk. Die outeur slaag daarin om die leser mee te voer op so ‘n wyse dat dit amper sintuiglik ervaar word. Ek hou hiervan. Een voorstel: beide die wolke en die reëndans word as “jaloers” beskryf. Dalk kan jy ‘n alternatief vir een soek. ‘n Paar voorstelle: “afgunstig”; “nydig” of self “onenig”. Goeie werk.
24.. Erfenis (Gedig aan ons land)
Daar is `n paar aangrypende sinne in jou vers. Ek wil dit graag belig:
1. “…en die nanagsleep in jou laat blink in skitter môredou…”
2. “…na helder sonskyndae en bloeiselblos kan gryp…”
3. “waar jou sinne se gesprekke nog in nagparkades wag…”
Die laaste strofe is die room van die oes.
Die gebruik van die komma in strofe 2 is korrek maar jy sal een moet invoeg ná “ryp”. Jou vers is besonders, met lewende woorde wat die mooiste beeldspraak bied. Welgedaan.
25.. Wroeging van `n talentverlate skrywer
Ek “letterploet” (wat `n juweel van `n woord) daagliks deur die “tikmasjien traktate” van soveel skrywers en dan net so sonder fanfare en aankondiging beland `n juweel soos hierdie op my tafel. Ek juig saam John Legend: “my head’s under water but I’m breathing fine”, want sulke verse dompel my in `n tsoenamie van emosie en opgewondenheid. Magties liewe skrywer, jou vers is `n simfonie in die mooiste Afrikaans en weergalm en eggo in elke leë plekkie in my diepste verwagtinge. Jou skryfstyl, met voordurende nuut skeppinge en koppelwoorde maak hierdie `n leesfees. Ek het nie `n knypie (nie eens die kleinste nie) kritiek hierop te lewer nie. Dit is onoortroffe, uitstaande en `n Afrikaanse skat. Prysenswaardig!
28..Flentervrou
Dit is ‘n aangrypende vers. Die outeur se hart hang uit. Jy moet ‘n vraagteken aan die einde van jou vers aanbring, eerder as ‘n punt. Mooi gedoen.
29..Huistoe
Daar is drie dingetjies wat ek wil uitwys:
1. Ek dink die vers kon baat by die gebruik van funksionele punktuasie;
2. Die Engelse refrein moet kursief wees. Alhoewel INK se webwerf nie daarvoor voorsiening maak nie, kan jy dit gerus aandui deur ‘n asterisks te gebruik;
3. In die tweede laaste sin moet een “toe” weggelaat word.
Die vers is beeldryk en pragtig.
GORREL
1.. Geknoffel
Woordkonstruksie is baie belangrik vir `n aangename leeservaring. Die gebruik in Afrikaans om die bywoord aan die einde van die sin in te voeg is `n anglisistiese flater. Ek gebruik jou sin: “Twee dae gelede kon ons nog baadjieloos buite rondloop bedags.” as voorbeeld. Die regte orde sal wees (of in beter Afrikaans ten minste): “Twee dae gelede kon ons nog bedags baadjieloos buite rondloop.”
As ek self skryf, het ek die gebruik om sinne soos volg te konstrueer.
Eerste “wie” (ons), “wanneer” (bedags), “hoe” (baadjieloos) en laaste “waar” (buite) en sluit die sin met die werkwoord (rondloop). Dit werk in die meeste gevalle vir my, en is (nie in graniet gegiet nie, natuurlik) `n praktiese wenk.
Lang sinne maak die begrip moeilik.
“…want hierdie ruik eerder na knoffel…” en nie “wat” nie.
Ek geniet altyd `n komiese gebeurlikheid. Mooi so.
2.. Heilige rot
Die rot storie is een ding, maar waarom deel jy die inligting van vrouens met snorre tydens die inperking? Dit het geheel nie betrekking op jou storie nie. Jy moet leer om die dubbel ontkenning te gebruik. Indien daar `n nie in `n sin voorkom moet dit deur nog een opgevolg word. Moet ook nie jou genre aankondig nie. `n Goeie storie het nie fanfare nodig as inleiding nie. Die konstruksie van jou vertelling is werklik slordig.
RUBRIEKE
1.. Lewensvreugde
Dit is heerlik as skrywers onomatopee gebruik in hul skryfsels. Jou inskrywing is keurig. Ek wil net maan: korter sinne wek beter begrip by die leser. Ek het nog nie jou vreugde gesmaak nie maar die lieflike ode sal enige leser se hart warm laat.
2.. Kinders agter maskers
Dalk `n mooi Afrikaanse woord vir “funky”?
Iets soos “bakgat”? Min mense weet dat “funky” eintlik “bang” of “bangbroek” in Afrikaans beteken. Die dubbel ontkenning in Afrikaans is `n spelreël en móét gehoorsaam word. Dit wil sê, indien jou sin `n “nie” bevat moet dit later in die sin met nog een opgevolg word.
Die sin: “Die impak wat maskers dra, op kinders het, is baie negatief.” Die gebruik van “impak” en “uitwerking” in een sin is onnodig.
Jy maak twee stellings aan die einde van paragraaf een, maar verduidelik nie wat dit beteken en waarop jy die sienings baseer nie. Word outentiewe persepsie deur kinders misverstaan a.g.v. die gebruik van maskers? Is daar navorsing wat leesprobleme hiermee assosieer?
Spelling van “Whatsapp”.
Sin: “…baie kinders dit wel kry.”
Spelling: “emosioneel”
Spelling: “gemoedstoestand”
Ek is seker daar is `n gepaste alternatief in Afrikaans vir ” sanitise”?
Jou sinne is lank, lomp en probeer té veel sê tussen punktuasie. Korter, kompakte sinne maak vir beter leesstof.
3.. Walglikste fees
Vóór ek die akademiese sy van jou skryfstuk evalueer, moet ek sê dat ek met jou morele standpunt saam stem. Verstaan my reg, die wyse waarop die mense, wat aangewys is om om te sien na die diere, hierdie diere behandel tydens die slagtings en die wyse waarop dit gedoen word, is goddeloos en barbaars.
Terug na jou aanbieding. As ons praat van ons s’n word dit geskryf soos aangedui. Jy skryf lang sinne, laat funksionele en nodige lid- en koppel woorde uit, wat die lees bemoeilik.
Daar bestaan mooi Afrikaanse uitdrukkings vir “take away’s”. Dit is bloot lui om by verstek na die Engels te gryp. Ek het ook voorbehoud oor sekere feite in jou skryfsel. Ek kon, met naslaan, geen direkte aantekening kry oor die onreinheid daarvan in die Bybel nie. Daar is wel verwysing na die opdrag dat die mens na diere moet omsien maar daar is ook verwysing, veral in die Ou Testament dat honde nie met waarde geag is nie. Ek tree graag met jou in gesprek hieroor, sou jy wou. Kontak my by inkmoderator@gmail.com.
Onthou, as ons woorde gebruik wat een begrip is, soos in jou geval, “beeldmateriaal” sal dit een woord wees. Jou deernis en medelye is prysenswaardig, dankie. Dankie vir jou deelname.
4..Veranderingsbestuur
Hoekom gebruik jy `n afkappingsteken in jou titel?
Filosofie, as `n instrument om die menslike staat (toestand) te probeer verstaan, is vir my `n ongelooflike dissipline. My stelling hierbo kan self ook filosofies as eg of nié “bewys” word. Dan weer, kan filosofie werklik, soos in ander dissiplines, enigiets as waar of onwaar bewys? Die “bewysreg” van filosofie is in homself `n filosofiese debat. Ek waardeer dus die waagmoed van skrywers wat vraagstukke op hierdie wyse aanspreek en probeer beantwoord.
Hierdie kommentaar is streng my eie opinie, en nét omdat ek kan, pen ek `n mening. Wat die grammatika en algemene aanbieding betref, het ek voorbehoud:
1. Die konstruksie van jou skryfstuk is nie op standaard nie. Jy skryf lang sinne, spring tussen gedagtes en pen onsamehangende idees.
2. Jy maak `n lukrake stelling wat in homself `’n oksimoron is nl.: “…enige konstante ding in die lewe is blootgestel aan verandering ” Dit is doodeenvoudig nie waar nie. Tyd, as voorbeeld, is `n konstante en word NOOIT blootgestel aan verandering nie. Die Griekse filosoof, Heraclitus het gesê: “Change is the only constant in life”. Volgens beide Plato en Aristotle was dit `n uiterse uitkyk wat tot logiese onsamehangendheid lei.
Ek is natuurlik nie hier om die meriete van jou skryfsel te beoordeel nie, want, na alles, is dit nie `n eksamen nie. Ek het myself tóg begewe daarin, en sal dus maar op hierdie trant aangaan. `n Essay, soos joune, wat nie nét filosofies is nie, maar ook “sielkundig” kyk na die bestuur van verandering, moet egter ook feitlik geëvalueer word. Daarom spandeer ek tyd rondom jou werk.
3. Die sin: “…jy hou ook op met groei en stagneer.” Dit kan beteken, soos ek dit lees dat jy ophou groei en ophou stagneer. As die sin so lees: “…jy hou ook op om te groei en jy stagneer…” of “…jy hou ook op met groei en dit lei tot stagnasie…” maak dit die stelling duideliker.
4. Spelling: “gevoelens”;
5. Die stelling: “Jesus Christus bring nie restorasie nie, maar redding…” is ook `n “groot” stelling wat beredeneer kan word. Ek gaan egter nie nou daarin betrokke raak nie. Stuur asseblief vir my `n epos na inkmoderator@gmail.com indien jy hieroor wil gesels, of selfs oor enige ander aanmerking.
Ek stel voor jy lees en redigeer jou werk voor jy dit plaas. Ek hou van jou waagmoed, soos ek reeds gesê het, maar om `n groot onderwerp aan te pak moet ons seker maak die leser kan byhou. Die volgorde is dus: 1. Stelling; 2. Redenasies van verskillende oogpunte; 3. Gevolgtrekking; 4. Slot.
ARTIKELS – GEEN INSKRYWINGS
VERHALE
1.. Ek en die internet
Dit is `n heerlik komiese verhaal. Goeie vertelling met nodige dialoog. Ek hoop werklik dis nie anadoties nie maar slegs fiksie, want anders kan Oupa vir homself en andere `n groot gevaar wees.
2.. Anton van Omkyk Boerdery
Spelling : opportunis, Namibië, hê, sê ens.
Ellips is altyd nét drie punte.
Stel net belang in, nie “aan” nie.
Ek hou van die vertelling, maar die klein jakkalsies het jou werk verniel.
3..Dans
Onthou om die dubbel ontkenning reël altyd toe te pas.
Dit is vir jou `n interessante affêre hierdie storie.
Ek hou van die styl waarin jy die storie vertel het. Ek wonder net of die leser nie `n ontsluiting (verduideliking) meer sou waardeer nie. Met die storie soos hy daaruit sien is die uitkoms oop vir wye spekulasie. Miskien is dit vir ander lesers van minder belang maar ek persoonlik sou daarvan gehou het as ek uitsluitsel kon kry. Was dit `n newel in die gedagtes van die karakter of is daar `n meer tasbare verklaring? My voorbehoud het geen invloed op die beoordeling hiervan nie. Jou storie is keurig geskryf.
4..Eddie en die Vodka
Sê, met ‘n kappie asseblief. So ook met lê en hê.
Die storie lees lekker maar daar is plekke waar punktuasie ontbreek. Dankie vir jou deelname.
5..Die ongematigde biografie van Sneeuwitjie
Ek wonder of hierdie “storie” nie eerder ‘n artikel moes wees nie. Indien die inligitng waar is (ek het dit nie nageslaan nie) behoort dit in ‘n ander kategorie. Dit bly interessant en ek het die “feitlikheid” daarvan geniet. Dankie vir jou deelname.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.