Die ergste
Woordtelling: 310
Ink Skryf Afrikaans loods eendag n skryfuitdaging oor gesegdes. Geïnspireerd grawe ek alle aanhalingsboeke waarop ek my hande kan lê uit. Getrou lees ek elke gesegde en spreekwoord. Sommige is baie snaaks, ander is werklike lewenswaarhede. Toe loop ek die ergste raak wat ek nog ooit gesien, gelees of gehoor het.
Die * Afrikaanse Spreekwoorde , Gesegdes, ens. plaas dit onder Skoenriem. Die spreekwoord sê: “Nie werd om iemand se skoenriem vas te maak nie.” Die betekenis het my stomgeslaan. “Soveel slegter as ‘n ander wees, dat ‘n mens nie eers goed genoeg is om hom ‘n klein diensie te bewys nie.”
Nou laat loop ek my gedagtes en dink aan almal wat ek ken en al iets mee te doene gehad het. Ek deursoek elke naam wat by my opkom deeglik om te sien of ek dié vreeslike gesegde op hulle kan toepas. Maar telkens loop ek ‘n bloutjie.
Ek dink eerste aan Chris wat my dogter wou betas. En dan aan pleegsorg mense wat kinders wreed mishandel onder die vaandel van liefde en omgee. Selfs nie eens op hulle sal ek die spreekwoord van toepassing maak nie. Die **Bybel sê ons moet vergewe soos ons wil hê andere moet ons vergewe.
Dis vir my ontsettend ontstellend om te dink dat een mens ‘n ander met soveel haat en veragting kan bejeën om dit van hulle te sê. Hulle sal dus daardie persoon ‘n snytjie brood of ‘n glas water weier al het hulle volop.
Ek bid dat ek nooit ooit iets aan iemand sal doen wat hulle met soveel veragting aan my sal laat dink dat hulle van my sal sê: “Sy is nie werd om iemand se skoenriem vas te maak nie!”
Bronteks:
* Afrikaanse Spreekwoorde, Gesegdes, ens. [Kritzinger, de Villiers en Pienaar] Van Schaik
1925
** Die Bybel – Gebed “Onse Vader” Matt. 6:12-15
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2021 – intertekstualiteit projek