Is iets beter as niks?
“Die hoender!” “Issie dissie eier!” hoor ek hoe die kinders buite stry.
Dis die eeue oue argument wat volgens my net een antwoord het. Die hoender, want God het die diere gemaak, daarna het die hoender eiers gelê.
Dit laat my dink aan die bekende Afrikaanse gesegde: “n Halwe eier is beter as n leë dop.”
Onmidelik wil my verbeelding mos ‘n prentjie maak van n halwe eier in die natuur. En die halwe kuiken wat daaruit gaan klim. Dan hardloop my vrugbare verbeelding weg met idees oor die fiasko’s wat dit kan afgee. Koerantlees gaan dan ‘n fees wees!
Die werklike betekenis is : “ iets is beter as niks.” *Arikaanse spreekwoorde, gesegdes, ens. gee die verklaring as: “Iets is beter, hoe min ook, as niks.” Die **HAT plaas dit as: “Iets is beter as niks.”
Daarvan het ek ook al baie gehoor. Destyds toe oom Dana sonder werk gesit het, het iemand hom ‘n klein werkie aangebied. Hy het hardkoppig geweier om dit te doen. Ouma het hom met die eier spreekwoord gegooi waarop hy die volgende te sê gehad het: “Ma, ek weier om my standaarde te verlaag en te werk vir minder as wat ek werd is”.
Toe my Tantonet se huis afgebrand het tot net swart gebrokkelde murasies en sy haar borduurraam ongeskonde gekry het, het sy met ‘n dapper glimlag gesê: ‘n Halwe eier is beter as ‘n leë dop..”
Lyk mos vir my asof almal se uitkyke oor die ou gesegdetjie hemelsbreed verskil. Miskien is dit ook afhanklik van die mens se geneigdheid tot die positiewe of negatiewe. Dan smaak dit asof n tikkie dankbaarheid ‘n hoofvereiste is vir die werklike positiewe toepassing van die ou gesegde.
Mense wat negatief is, gaan volgens my, nee sê vir ‘n halwe brood, en ja vir ‘n hongerdood.
Dit laat my nou aan die spreekwoord “Wat jy nou bedank, is jy môre kwyt.” dink. Maar kom ons los daardie een vir n ander dag.
Bedink maar eers vir julleselwers of iets beter is as niks.
Bronteks:
* Arikaanse Spreekwoorde, Gesegdes, ens. [Kritzinger, De Villiers en Pienaar] J.L van Schaik 1925
** HAT [Perskor] 1965
364 woorde
@Iron Lady
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2021 – intertekstualiteit projek