Vaderhoort ‘n moederloos
Vaderhoort ‘n Moederloos
Elke groustaar
elke noodkreet wat uit my mondjie vaar
al my lewenswater verspil
oorgespoel in ‘n wêreld wat heeltyd op my gil
vir my gril
my bly verkleineer
reeds soveel kleiner gemaak deur al die seer
ek was gevorm
genadeloos bestorm
gegespe aan die norm
afgewring tot hael in die storm
getref met my eie kompaslose reisverhaal
wat rein moes wees
was vuil en vaal
verwees
trane damp op refleksie glas
die wêreld sien net deursigtige glas
deur al my aspoestertjie lae
net geken van murmureer en kla
ek het gaan soek na ‘n skoen wat dalk sou pas
‘n huis waar iemand my stukkend weer sou kon las
waar sal my hulp vandaan kom
solank sisteme boggelrug krom
met ‘n defek my veragting bly besing
soos ‘n nuwe vars loot
maak HY die minsaamste juis GROOT
daar sal weer blare
talryke blomme
nuwe vrugte
eendag uit my bot
want
elke moederlose kind
word altyd deur hul Hemelse Vader gevind
©️Wendy Leigh
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Ian
Dit is so mooi geskryf.