Verlore onskuld (silwer)
kommervry kom hulle nader
nie agterdogtig
nie bewus van kwaad
‘n toonbeeld van onskuld
nie bang om foute te maak
hulle wil net liefhê sonder vrees
net die lewe leef wat voor hulle lê
met aansteeklike oorgawe
was dit dalk waarom Hy gesê het
-laat hulle na My toe kom
en verhinder hulle nie-
Hy kon sy volgelinge baie dinge noem
maar Hy noem ons
KINDERS
het ons dalk te groot geraak?
leef ons te bevange en skugter?
oordeel ons te swaar en nugter?
patroleer sondelysies ons gedagtes
terwyl ons die liefde se krag misken
wat ‘n menigte daarvan sou bedek?
kies ons heimlik steeds die kennis van kwaad
bo die wonderboom van die Lewe?
het ons gehoor van Golgotha?
het ons gehoor dit is volbring?
ons, kinders in die binnekring?
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir April 2024 - Uit die oog van 'n kind projek